Foto's Kosie Jansen van Rensburg en Francois Oberholster

WIE WOON HIER?

Ian en Jessie Walton, hul dogter Katie, skoonseun Matt Lotz en kleinseun Benjamin (18 maande)

WAAR Die plaas Restanwold, Grabouw

GROOTTE VAN TUIN EN KWEKERY Sowat 1 ha

GRONDTIPE Klei met ’n bietjie koffieklip*

*Koffieklip is ’n sedimentêre grondmengsel met ’n ysteroksiedkors


‘Elmshorn’

As jou ma die rooskenner Gwen Fagan is, kan jy nie anders as om ’n liefde vir ouwêreldse rose te hê nie. “Hoewel ek vandag baie rose in my tuin het, was dit nie altyd my eerste liefde nie. My ma is die een wat die liefdesverhouding met ou rose het en met verloop van tyd het dit my ook beïnvloed. Vandag is ek mal oor die massa ou rose wat elke lente in my tuin blom!” sê Jessie Walton, wat op ’n plaas naby Grabouw tuinmaak en die Keurbos-kwekery bedryf.

“Ek en my man, Ian, het 37 jaar gelede plaas toe gekom. Daar was toe net ’n klein tuin met ’n paar plukrose en ’n stuk grond om die huis wat oorgroei was met kikoejoe. Ek het ons twee dogters aangemoedig om ’n klein groentetuin te maak; later het my skoonpa ingestem dat ek om die huis opruim vir ’n behoorlike tuin. Dit was 25 jaar gelede.

“My ma moes raad gee. ‘Maak tuinkamers met paadjies wat daarheen lei,’ het sy gesê. ‘Jy moet altyd die volgende kamer kan sien, maar dan moet daar ’n tweede paadjie wees wat wegkronkel om jou nuuskierigheid te prikkel.’ Dit was goeie raad en my tuin het nou ’n baie lekker vloei.”

Jessie het aanvanklik net inheems geplant, meestal plante wat sy van saad en steggies gekweek het. “Maar die pragtige Rhododendrons en rose op Fresh Woods, ’n plaas hier naby, het my geïnspireer om ook ’n uitheemse deel te skep. Hier het my liefde vir Rhododendrons, asaleas en Japannese esdorings posgevat. Sowat 10 jaar gelede het ek die geleentheid gekry om die bekende kweker Jan van Bergen se versameling kamelias en Japannese esdorings te koop. Dié kans het ek aangegryp aangesien ek reeds plante wat in suurgrond aard, gekweek het. Ons klimaat hier in Grabouw is ook koeler as in omliggende dele en daarom kan ons dié plante met sukses kweek,” gesels sy.

‘Graham Thomas’

Rosa ‘Veilchenblau’

Ronel Ahrens (links) en Ashdeane de Bruin versorg die steggies in die kwekery; Ashdeane sien ook om na die kamelias en Rhododendrons.

Japannese esdorings, kamelias, asaleas en Rhododendrons groei onder skadunet. Al die plante aard goed in Grabouw se koeler klimaat.

Jessie maak gereeld op haar ma, die bekende rooskenner Gwen Fagan, staat vir raad oor haar tuin.

Japannese esdorings is een van Jessie se groot liefdes.

Van appelboord tot kwekery

Jessie moes natuurlik plek maak vir die kamelias en esdorings. “Teen dié tyd was my tuin al baie beknop,” vertel sy. “Gelukkig was daar ’n ou appelboord wat ons kon uithaal vir ekstra plantplek. Hier het ek ’n groot stuk skadunet gespan en in die middel ’n nuwe bedding met Japannese esdorings gemaak; die doel was om goeie materiaal vir die ent van nuwe bome te bekom. Om die kante van die struktuur groei hoofsaaklik moederplante van plante wat ek in die kwekery verkoop sodat kliënte die groeiwyses daarvan beter kan sien. Daar is onder meer rose, salies, irisse en leeubekkies.”

Jessie kweek ook heelwat inheemse plante wat spesifiek op landskapwerk gemik is. Met die inheemse plante poog sy om ’n groot verskeidenheid teen ’n billike prys aan te bied. Dit kweek sy grootliks van steggies, verdelings en gewortelde steggies wat sy aankoop en dan self vermeerder.

Vir Jessie is haar tuin en kwekery haar groot vreugde. “Tyd is my grootste uitdaging. Ek het altyd meer idees as tyd. Ek doen die meeste van die plantwerk self, maar vir die harder werk soos deklae gooi en kompos maak, help Rodger Africa, Elroy van Wyk en Michael Thembisile my in die sewe maande wanneer hulle nie appels en pere op die plaas pluk nie. Ronel Ahrens is my regterhand en sy en Ashdeane de Bruin help in die kwekery. My ma kom sit ook nog graag hand by. Dit is altyd lekker om my liefde vir tuinmaak met haar te deel.”

Jessie se kwekery, Keurbos, vorm deel van haar tuin. Hier kweek sy ’n groot verskeidenheid plante.

‘Ma Tulipe’

Rose waar jy kyk

Jessie het sowat 80 rose in haar tuin, oorwegend ouwêreldse rose, maar daar is ’n paar moderne gunstelinge soos ‘Scented Dawn’, ‘South Africa’, ‘Deloitte & Touche’ en die rose wat daar was, naamlik ‘Papa Meilland’, ‘Just Joey’, ‘Ace of Hearts’, ‘Duftwolke’, ‘Elegant Beauty’ en ‘Mister Lincoln’.

Baie van haar outydse rose kweek sy van steggies wat sy van oraloor kry. “Sommige steggies kom van ou plante wat nog in tuine groei. Deur hiervan steggies te kweek, bly dié ou rose voortbestaan. Peter en Barbara Knox-Shaw van Fresh Woods het ’n wonderlike versameling outydse rose en daar is ook by Ludwig‘s Roses en die SA Rosarium op Bedford van die erfenisrose te koop,” vertel sy.

“Ek is mal oor ’n roos met geur, daarom is rose soos ‘Louis-Philippe’, ‘Archduke Charles’, ‘Archduke Joseph’ en ‘Ma Tulipe’ hoog op my lys. Al dié rose is ou teerose en blom dus dwarsdeur die somer. Die roos ‘Gwen Fagan’, wat na my ma genoem is, is ook ’n gunsteling met ’n heerlike soet geur.”

Jessie hou ook van die groot struikroos ‘Mutabilis’, al het dit geen geur nie. “Maar hy blom aanmekaar!” verduidelik sy. Die enkelblomme is ’n ligte appelkooskleur wanneer dit oopgaan en verkleur namate die blomme verouder tot ’n donkerpienk. Dit sorg vir ’n lieflike skouspel. ‘Mutabilis’ het min dorings en kan ’n mate van skaduwee hanteer sonder om siek te word.

“My gunsteling-klimrose is die appelkooskleurige ‘Alchymist’ en die soetgeurige ‘Souvenir de la Malmaison’, hoewel die ou staatmakers ‘Crépuscule’ en ‘Mme Léonie Viennot’ ook fantastiese en sterkgroeiende klimmers is.

Jessie se rooswenke
  • Besproeiing Jessie maak haar rose nat met drupbesproeiing. “Ons skakel dit een of twee keer per week in die somer aan. In die winter kry ons genoeg reën. Die voordeel van drupbesproeiing is dat dit die rose goed nat maak, maar minder water as oorhoofse besproeiing gebruik. Ons water kom uit ’n boorgat en ’n besproeiingskema op die plaas.”
  • Deklae Om te keer dat die grond uitdroog en om onkruidgroei te onderdruk gooi Jessie in die winter ’n dik deklaag van houtsnysels of ou strooi in die beddings. “Ek los ook die blare van bladwisselende bome net so in die beddings. Dié wat buite die beddings gaan lê, vee ek terug. Dit verrot en vorm ’n natuurlike deklaag.”
  • Plaagbeheer Jessie spuit glad nie die rose nie. “Die voëls help om die goggas in toom te hou. Gelukkig is die outydse rose redelik weerstandig teen siektes. Ek voel ons is te veel gepla met ’n paar siek blare; solank die roos goed groei, is ek tevrede.”
  • Snoei Jessie snoei haar rose einde Julie en vroeg in Augustus. “Die outydse rose sny ek ligter – sommer met ’n heiningskêr – net om dit weer vorm te gee. Die teerose sny ek harder terug. Fyn takkies en ou hout word verwyder om vernuwing aan te moedig.”
  • Voeding Een keer per jaar kry Jesse se rose ’n bietjie saamgeperste hoendermis, en Seagro as blaarvoeding. “Maar as die houtsnysels eers vrot en die erdwurms hul werk begin doen, is dit skaars nodig!” sê sy. 


Tuinpaadjies wat wegkronkel, lei jou van die een tuinkamer na die volgende.

Rose en die perfekte pasmaats sorg vir ’n skouspel van kleur.


Ek is mal oor ’n roos met ’n geur. – Jessie


Rosa roxburghii

‘Deloitte & Touche’