Foto’s Elza Cooper

WIE WOON HIER? Ramona en Nuno Afonso en hul dogters, Aurora (11) en Luna (5)

WAAR Northcliff, Johannesburg

GROOTTE VAN TUIN 1 000 m²

Net drie jaar gelede het Ramona Afonso nog niks geweet van tuinmaak nie. Nou kan sy haar nie ’n lewe voorstel sonder haar geliefde tuin, ’n romantiese lushof waaroor die soet geur van rose en laventel hang, nie. Sy en haar man, Nuno, was in 2017 met hul kombuisopknap die naaswenners in Tuis se Regruk met Flair-kompetisie.

Ramona, ’n ontwerper, het ’n klein dekorsaak, Ruffles and Rust, en is ook kreatiewe direkteur van die maatskappy Busby Promo. Sy erken self tuinmaak was nooit juis deel van haar bestaan nie. “Ons het voorheen in ’n kothuis by my ouers in die suide van Johannesburg gebly,” verduidelik sy. “Al blomme wat ek geken het toe ons vyf jaar gelede hier ingetrek het, was laventel en krismisrose.”

In die somer tree wit ‘Iceberg’-rose in die kollig voor die fontein.

Die tuin op ’n 1 500 m²-erf was gevestig toe hulle die huis gekoop het. “Dit was mooi, maar outyds. Hier was baie groot bome en blombeddings met kurwes, omring deur ’n grasperk. En seker vier roosbome. Al is ek hoe lief vir bome het ek twee yuccas uitgehaal, en die laventelbosse voor die slaapkamervensters vervang met ’n verskeidenheid rose.’’

Toe Ramona begin tuinmaak, het sy geen idee gehad hoe haar tuin presies moet lyk nie. “Dit het net ontwikkel,” sê sy. “Wanneer ek enige ontwerp doen, neem dit waaraan ek werk ’n lewe van sy eie aan. Ek gaan net daarmee saam. As dit werk, werk dit en bou ek voort daarop. Ek is nie ’n landskapkunstenaar nie en leer maar soos ek aangaan. Oor twee jaar sal my tuin anders lyk; ouer en mooier wees. ’n Tuin is seker nooit klaar nie...”

Vandag is Ramona se tuin ’n groot deel van haar lewe. “Dis terapeuties. Ek werk omtrent elke dag in die tuin – soggens, terwyl ek my tee daar drink, en weer smiddae.” Een keer per week kom help ’n tuinier. “Ek beplan alles en merk uit wat ek gedoen wil hê. Ons het ’n boorgat en ’n besproeiingstelsel en maak elke sone in die tuin elke dag ’n uur lank nat.’’

Die tuin is vir my ’n privaat ruimte. Dit is ’n weerspieeëling van wie ek is.
– Ramona

’n Geel ‘Lady Bank’s’-rankroos versier ’n tuinmuur.

Passie vir rose

Ramona het eers begin tuinmaak nadat sy drie jaar gelede ’n bustoer, gereël deur Ludwig’s Roses, saam met ’n vriendin meegemaak het. “Ons het vier roostuine besoek,” vertel sy. “Daar was massas rose van allerhande soorte. Dis toe dat ek die ‘Sharifa Asma’-roos van David Austin die eerste keer gesien het. Sy ligpienk kleur en wonderlike geur was onweerstaanbaar en ek was dadelik verlief op al wat ’n roos is.

“Ek het ’n romantiese tuin geskep deur meer as 350 roosbome te plant op die wyse waarop Europese tuiniers dit deesdae doen: Ek bedek die area rondom die rose met ander blomplante en grondbedekkers sodat niks grond wys nie. Op die tradisionele manier word niks saam met roosbome geplant nie, sodat hulle al die voeding uit die grond kry. Tog is dit nie nodig nie. Dit lyk vir my ook te formeel en skep nie die landelike voorkoms waarvan ek hou nie.

“Ek is gek na die geurige outydse rose van die Britse rooskweker David Austin,” vertel sy. “Ek plant ook graag ‘Iceberg’-rose in die agtergrond. Dit laat my ander plante nog mooier vertoon.” Ramona doen heelwat navorsing oor tuinmaak en plante. “Ek kyk graag na YouTube-video’s en loer wat is nuut op Pinterest. Ek het ’n Pinterest-bord met ’n lys van al die rose in my tuin.’’ 

‘The Generous Gardener’ van David Austin;‘Deloitte & Touche’; Dubbele pienk papawer & ‘Princess Alexandra of Kent’ van David Austin.

Vormgesnoeide wit ‘Iceberg’-rose maak ’n spoggerige vertoning in dié deel van die tuin, waar laventel die paadjies versag. Ramona gebruik die wit tuinhuisie langs die swembad om plantjies te kweek. ’n Netjies gesnoeide heining van Duranta ‘Sheena’s Gold’ omring ’n waterglanspunt.

Ek is lief vir rose; ek kan my nie ’n lewe daarsonder voorstel nie. Ek pluk rose en rangskik hulle in die slaapkamer, badkamer, kombuis ...
– Ramona

Franse kleur en geur

’n Dubbele oopswaaideur lei uit die hoofslaapkamer na ’n stoepie onder ’n prieel. Hier wieg ’n kristalkandelaber liggies in die wind en loer die pienk blomme van ’n ‘Fandango’-rankroos deur die blare en druiwetrosse van ’n wingerdstok.

Ramona beskryf haar tuin só: “Dit het ’n Franse voorkoms en ’n landelik Franse gevoel. Ek het nog altyd gehou van ’n ouwêreldse karakter. Met dit in gedagte het ek die ou gras met gruis vervang en paadjies gemaak met sementblokke omring deur gruis. Omdat dit goedkoper is, het ons die growwer bouersgruis gebruik. Dit lyk mooi, maar is moeiliker om op te loop!’’

Die kunssinnige Ramona speel met die blomkleure in haar tuin soos ’n skilder met ’n verfkwas. “Die blomme is oorwegend sagte skakerings van pienk,’’ vertel sy. “Hier is glad nie rooi blomme nie; dit sou bots met die sagte, romantiese kleure.’’

Laventel pas natuurlik perfek in dié tuinstyl. “Ek snoei die laventelbosse wat in ’n ry geplant is sodat dit ’n heining vorm,’’ verduidelik Ramona. “Ander snoei ek weer in ’n ronde vorm. Die snoeiery verleng die lewe van laventelplante, en die beste tyd om dit te doen is net voordat dit harde stokke vorm.’’

Teen ’n ligte muur in die tuin het sy op een plek net wit blomme geplant – varkore, krismisrose en vingerhoedjies met lang trosse blomme. En rondom ’n groot koelteboom is blomme in skakerings van pers. Sy het ook honderde verskillende baard-irisse in suurlemoengeel, perske en pers. “Baard-irisse pas besonder mooi in die kleurskema,” vertel sy. “Ek bestel dit aanlyn by die Mooiplaas Iris & Daylily-kwekery in Centurion en laat hulle aflewer.

“Salies (Salvia officinalis), wat in verskillende kleure voorkom, en koringblomme (Scabiosa atropurpurea) in kleure soos wit, pers en blou, is ook vir my mooi. Voor die blombeddings het ek die geelgroen struik Duranta ‘Sheena’s Gold’ geplant en in ’n heining gesnoei.’’ 

‘Iceberg’-rose verfraai een van talle kuierhoekies in Ramona se tuin. Die rose ‘Sharifa Asma’ en ‘Princess Alexandra of Kent’ verskaf sagte pienk kleur voor die slaapkamervensters. Rondom ’n groot koelteboom groei ‘My Granny’-, ‘Simplicity’- en ‘Burgundy Iceberg’-rose, met lamsore (Stachys byzantina) teen die grasrand.

Ek sal enige plek in die wêreld gaan bly, solank ek daar kan tuinmaak. – Ramona

Die drie bantam-hoenders, Shadow, Lavender en Bliss, woon in styl. Hul hok is van sieryster en ogiesdraad, en hulle slaap op droë laventelbos en -blomme.

Wit bougainvillea in volle blom verskaf koelte oor die eettafel langs die braaiplek.

Kuierplek

As ontwerper en binneversierder is dit vanselfsprekend dat Ramona ook haar tuin as gesellige onthaalruimte versier. “My man sê ek speel huis-huis hier buite,” vertel sy laggend.

By die braaiplek het sy vier jaar gelede die bestaande baksteenvloer aangevul met gruis en ’n prieel bo-oor opgerig. Daaroor groei wit bougainvillea en ’n geel rankroos, ‘Gold Bunny’. Daar is ook stringe feetjieligte. Ramona wys na die lang trosse wit blomme wat deur die prieel hang. “Toe ons my 40ste verjaardagpartytjie hier gehou het, het dit pragtig gelyk; sommige mense het selfs gevra of die blomme eg is.’’

Sy het by ’n skrootwerf twee ou vensters gekry wat sy ingespan het as deure onder die ingeboude braaikaggel. “Daaragter bêre ek breekgoed, eetgerei, servette, glase – als wat ek gebruik wanneer ons braai. Hier is selfs ’n elektriese kontakpunt en ’n ketel.’

Die baard-iris ‘Shy Violet’; ’n Gesnoeide Eugenia in ’n pot, met pienk malvas by sy voete, word omring deur donkerpienk salies wat maande lank kleur verskaf; ’n Voëlbad met ’n engelbeeldjie, een van ses water-fokuspunte in die tuin.

Bloureën; Dubbele pienk papawers staan lieflik uit teen die bloureën se pers blomtrosse.

Ramona se tuinwenke

  • Vind jou passie. Myne was rose en ek wou alles moontlik daaroor uitvind.
  • Groepeer plante wat dieselfde behandeling verg – soos baie of min water – bymekaar. Sommige plante is aanpasbaar en kan enige plek aard; eksperimenteer en kyk wat werk op jou werf.
  • ’n Oorkoepelende kleurskema werk goed vir ’n landelike voorkoms.
  • Ek is gek na grondbedekkers; dis ’n natuurlike deklaag (sien ook ons storie oor grondbedekkers op bladsy 90).
  • Saam met massas blomme kan jy heinings inspan om vorm aan jou tuin te gee.
  • Ek voed my rose met Ludwig’s Vigorosa. In die lente en in die reën- seisoen kry hulle ook Chronos (ek giet die opgeloste mengsel oor die wortel- area). In die winter snoei ek die rose taamlik hard terug.
  • Plantluise spuit ek met ’n mengsel van vyf eetlepels skottelgoed-wasmiddel, 5ml bloekomolie en 5 liter water.
VERSKAFFER EN KONTAK

Mooiplaas Iris & Daylily Nursery 082 461 6102, mooiplaasnursery.co.za

Ruffles and Rust rufflesandrust.co.za