Foto’s Jeandri Streicher

WIE WOON HIER?

Die Streicher-gesin

WAAR Stellenbosch

GROOTTE 6 000 m²

GRONDTIPE Kleigrond

Vir Jeandri Streicher van Stellenbosch is haar tuin meer as net ’n plek waar plante groei. Dié fotograaf maak hier ook prentjies met lyne en vorms.

“Wanneer ek as fotograaf werk, is lyne belangrik vir ’n treffende foto,” verduidelik sy. “Met die beplanning van ons tuin het ek in terme van ‘prentjies’ met ’n romantiese aanslag gedink. Die aanplantings werk soos raampies wat vorm, struktuur en diepte gee. Op dié manier het ek reeds ’n komposisie sonder te veel moeite.”

Jeandri het sewe jaar gelede hier begin tuinmaak. Sy het Liesl van der Walt, hooftuinier by die plaastuin Babylonstoren, gevra om te help met die vestiging van inheemse spesies in die tuin – sommige is plante wat oorspronklik in dié omgewing gegroei het en ander is spesies waarvan sy en haar man baie hou.

Sy het onder meer blouklokkiesbos (Mackaya bella), groot getalle olienhoute (Olea europaea subsp. africana), assegaai (Curtisia dentata), geelhoutbome (Podocarpus-spesies), bloukappies (Polygala virgata) en lepelhoute (Cassine peragua) geplant. Met dié bome is die erf se grense gevestig as ’n wilde, beboste strook waar talle voëlspesies hulle tuisgemaak het.

“Omdat ek nie self genoeg kennis het van harde tuinelemente en die aanplanting wat daarmee saamgaan nie, het ons Mareza van Rensburg, ’n landskapargitek, se hulp ingeroep. Sy het die uitleg van die tuin verfyn en verder gehelp met die keuse van plante. Mareza het my persoonlikheid baie goed opgesom met die insluiting van lae heinings, paadjies en klipmure in die ontwerp. Ek hou van die chaos in die beddings, maar daar is tog struktuur wat alles op die oog af netjies hou.

“Die bome op die werf, wat nou al mooi groot is, het ons as ‘tieners’ gekoop,” vertel Jeandri. “Die res van die struike is klein geplant om geld te bespaar. Verder het ons steggies of plantjies by vriende gekry en dit in massas aangeplant. Ek het onder meer wildeknoffel, spoorsalies, kruisement, dahlias en baie papawersaad by vriende gekry.

“Elke keer as ek deur die tuin stap, herinner dit my aan die betrokke vriende. Op my beurt gee ek weer van die plante weg wanneer hulle verdeel moet word of saad vorm,“ vertel sy.

Vir Jeandri is die lekkerste van tuinmaak om ’n boom te plant, want dan laat sy iets lewend na vir volgende geslagte. “Daar is niks meer positiefs as om ’n boom of selfs ’n klein plantjie te sien groei en blom nie. Dit bly vir my net een groot lekkerte!”

Tuinkamers

Jeandri het die groot tuin verdeel in tuinkamers met interessante hoekies en loopvlakke – elk met ’n eie karakter.

 Die stoep kyk na die noorde op die voortuin uit. Dié deel bestaan uit onder meer ’n groot grasperk met terracotta-potte waarin suurlemoenbome groei. Ander bome wat hier groei, is gewone platane, geelhoutbome, populiere en waterpere.

Witstinkhout (Celtis africana)

Kuierplek In die binnehof is ’n heerlike kuierplek in die skadu ingerig. Die gruisklippies as loopoppervlak en terracotta-potte met ’n verskeidenheid plante daarin gee dit ’n landelike gevoel.

Kruipvy (Ficus pumila)

Die binnehof is verdeel in vier blokke gras wat geskei word deur gruispaadjies omraam met bakstene. In elke blok is ’n koemkwatboom en teen die oorkantse muur groei kruipvy wat die harde oppervlakke versag.

’n Kanferfoelie met geurige blomme groei oor die tuinmuurtjie, terwyl kappertjies kleur gee in die lente.

Kanttuin Aan die sykant van die huis, naby die grens van die erf, lei ’n paadjie deur ’n ysterhekkie in ’n klipmuur jou na die volgende deel van die tuin. Dié hekkie is een van drie wat die Streichers by ’n skrootwerf raakgeloop het. Dit is gemaak van die vellings van oorspronklike wawiele en is tot vandag toe nog een van Jeandri se gunsteling-optelgoed. As jy eers deur die hekkie is, raak die beplanting minder formeel en hier vorm blousyselbos ’n meer natuurlike heining.

“Die agtertuin is my werkkamer. Hier kan die papawers en koringblomme maar groei waar hulle wil. Dis ook hier waar ons die tuingereedskap bêre en die vuurmaakhout stapel, en waar my man vis skoonmaak.”

Die papawers gee soveel vreugde en is altyd ’n bonus wanneer ek kliënte in die tuin afneem. – Jeandri

Louisiana-iris

Artisjok

Koringblomme

Jeandri se gunstelinge

• Waterpeer (Syzygium guineense). Dit is ’n dankbare en vinnige groeier wat min aandag nodig het.

• Olienhout (Olea europaea subsp. africana). Hulle groei welig in die kleigrond en die takke lyk pragtig in blompotte.

• Kerkhofsipres (Cupressus sempervirens ‘Stricta’) vir hul lang silhoeëtte in die tuin. Dié bome groei ook vinnig.

• Suurlemoenbome. Ons maak elke jaar limoncello van die skil. Moet nooit die bome met gif spuit as jy die skil wil gebruik nie.

• Viburnum-spesies. Jy kan dit in ’n bal of heining vorm en dit is ’n wonderlike loofplant in blommerangskikkings.

• Eenjariges soos papawers en koringblomme vir kleur in die lente. En natuurlik vergeet-my-nietjies met hul mooi kobaltblou blommetjies.

• Tjienkerientjee vir ’n oorvloed wit blomme in Oktober. Dié inheemse bolplant groei maklik; ek het destyds ’n paar pakkies bolle by die kwekery gekoop en hulle het ongelooflik vermeerder. Die blomme lyk ook pragtig in ’n rangskikking.

• Spoorsalies (Plectranthus-spesies). Ek het baie verskillende spoorsalies in die tuin, waarvan Plectranthus zuluensis my gunsteling is. Die blare ruik soos pynappel.

• Artisjokke en Alliums (uieblomme) vir rangskikkings.

Blink plan!
Die heining by die wasgoeddraad is gekweek met Viburnum-struike. “Ek het dit so met hul stamme kaal gekoop. Die idee was dat daar nie ’n soliede heining is wat te veel skadu gooi by die wasgoed nie, maar tog die onooglike wasgoedlyn wegsteek agter die blare.”

Tuinwenke

Hoewel Jeandri een maal per week ’n span van vier werkers kry om als ’n bietjie reg te ruk, doen sy en haar huishulp, Dinah Jacobs, die res van die tuinwerk self. “Dinah is gebore met groen vingers. Die plante floreer as sy naby is! My man, Hanré, sit weer hand by met die besproeiing, wat gereeld aandag nodig het. Hoewel ons ’n boorgat het, gebruik ek dit baie oordeelkundig. Met die droogte was die water baie min en moes ek daarmee vir lief neem dat die tuin by tye droog moes bly.”

Haar tuinraad is:

• As ’n plant nie in jou tuin aard of van jou grond hou nie, haal dit uit en kies ’n alternatief. Wat ons baie gou geleer het, is dat nie alles wat inheems is, van ons grondtipe hou nie. Sekere spesies aard goed terwyl ander, soos die lepelhoute en bloukappies, met verloop van tyd gevrek het.

• Die beste tyd om papawersaad te saai, is wanneer dit klaar geblom het en saadkoppe vorm wat vanself oopgaan. Ek laat die papawers opkom net waar hulle wil.

• ’n Hoender in ’n tuin is ’n groot bron van vermaak vir kinders en die hoendermis is goed vir die kompos. As jy bang is dat hulle jou plante uitskrop, kry vir jou klein veerpoothoendertjies.

• Moet jou nie te veel steur aan allerhande ingewikkelde maniere om kompos te maak nie. Ek hou by ’n lagie grond, ’n lagie groen grassnysels of blare en ’n lagie bruin materiaal soos bruin blare of karton. So bou jy die lae met min moeite en sal jy nooit ’n komposhoop hê wat sleg ruik nie.

• As jy kruipmolle op jou gras het, kry ’n kat. Molgif is nie ’n permanente oplossing nie. Ons kat, Batman, dra omtrent elke week ’n mol as geskenk by die huis in.

• Ek weet my plante sal beter vaar met meer gereelde voeding, maar omdat dit ’n groot tuin is, is dit te duur om bemesting te gee soos wat ek eintlik behoort te doen. Ek sal dus een stuk van die tuin op ’n keer met my eie kompos bederf en as ek gelukkig is, kry ek soms op Moedersdag ’n vrag gekoopte kompos van my man en kinders. Ek het baie lank laas kunsmis gebruik.

Jeandri skep graag interessante hoekies in haar tuin. “Ek sukkel om verby ou geroeste goed te loop sonder om dit te koop. Ek gebruik dit ook as bykomstighede wanneer ek foto’s neem.