Foto’s Francois Oberholster en Kosie Jansen van Rensburg 

Leivore verdeel die tuin in verskillende dele. Baie van dié dele het ’n spesifieke gevoel en doel, en word met paadjies, priële, boë en tonnels van plante verbind.

In Hertestraat in die hartjie van ou Stellenbosch is ’n tuin groter én mooier as wat jy ooit sou kon dink. 

Dít te danke aan Dorothy Johnman wat dié huis en tuin met haar dood in 1995 nagelaat het om vir die nageslag bewaar te word. Sowat vyf jaar gelede is daar met die restourasie van die tuin

begin. Huise in die middedorp van Stellenbosch het vroeër groot tuine gehad. Die meeste het ongelukkig weens ontwikkeling tot niet gegaan en die Johnman-tuin is een van die enigstes wat nog as sodanig bewerk word. Daarom is sy bewaring so belangrik: Dit vertel die storie van dié geskiedkundige deel van Stellenbosch.

Pietman Diener, ’n plaaslike tuinontwerper, is by die opknap van die tuin betrokke, terwyl Paula Raubenheimer, wat op die eiendom bly, saam met ’n span van twee werkers vir die dag-tot-dag- onderhoud verantwoordelik is.

“Die tuin was oorgroei en verwaarloos,” vertel Pietman. “Daar was talle opslagbome, die vrugtebome was oud en baie van die rose waarvoor die tuin bekend was, het oor die jare verdwyn.

“Ons het besluit om die tuin in sy volle glorie te herstel – vanweë die huis se Victoriaanse argitektuur het ons aanvanklik na dié era se 

tuine gekyk om te sien wat hier gedoen moet word. Uiteindelik het ons nie streng daarvolgens gewerk nie, maar dit eerder in ’n paradys van plante omskep, aangesien Dorothy ’n ware plant- en blomliefhebber was.”

Pietman-hulle het die meeste van die oorspronklike bome behou en netjies gesnoei ten einde die raamwerk van die tuin bloot te lê. Die opslagbome is uitgehaal en op dié manier het meer lig in die tuin gekom.

“Daarna het ons met die uitleg van die beddings begin. Omdat die tuin redelik groot en arbeid beperk is, het ons dit stuk-stuk aangepak,” vertel hy. “Die aanvanklike beplanting is eenvoudig gehou, maar met verloop van tyd en namate die tuin ontwikkel het, het ons ’n groter verskeidenheid en interessanter plante begin kies.

“Gelukkig het ons genoeg water om alles nat te lei. Die ou dele van Stellenbosch het in die somer toegang tot leiwater uit die meulsloot wat sy water uit die Eersterivier kry. Daarom is dit moontlik om die tuin heeljaar mooi te hou.”

Virginiese klimop verkleur bloedrooi in die herfs. 

In dié skuur het Dorothy altyd haar Morris geparkeer. Die skuur was erg vervalle en is herstel. Ouwêreldse gereedskap wat in bokse in die skuur gevind is, is gerestoureer en word nou hier uitgestal.

Met die grawe van die put het daar hope rivierklippe uitgekom. Dis gebruik om paadjies se rande te vorm. 

Magnolia-spesies blom in die winter. 

Blomkweper (Chaenomeles speciosa) 

Paula Raubenheimer, die tuinier Sihlalo Nomana en Andre Rhodes, ’n bouer, is verantwoordelikvir die tuin. 

Riete en pale op die eiendom is gebruik om dié raamwerk te bou waarteen klimplante groei. 

Voortdurende proses 

Paula, wat saam met haar man, Carl, hier in ’n pragtige historiese huis in die Johnman-tuin woon, het geen formele ondervinding van die tuinwêreld nie.

Sy vertel hoe sy op ’n dag by haar lessenaar voor ’n venster wat op die tuin uitkyk, gesit het. “Ek het besef die tuiniers het hulp nodig en aangebied om betrokke te raak. Ek kon nie meer net sit en kyk nie. Van toe af is ek verantwoordelik vir die onderhoud en instandhouding van die tuin. En ek is absoluut gek daaroor. Ek ken nie plantname nie, maar leer elke dag. Dis vir my so lekker om te sien hoe die tuin vorder.”

Hoewel die Johnman-tuin al soveel anders lyk as in 2014 toe die projek begin het, is die restourasie ’n voortdurende proses.

“Dis ’n groen oase in ’n vinnig ontwikkelende omgewing,” verduidelik Pietman. “En buiten die huidige tuin is daar nog ’n groot stuk grond agter die skakelhuisies aan die oorkant van die straat wat ons gaan ontwikkel. Dit het ook aan Dorothy behoort. Ons beplan om hier veral vrugtebome en plukblomme saam met plante met ’n ouwêreldse gevoel te kweek.

“Op die ou end wil ons hê die twee Johnman-tuine moet ’n tuinboukundige fokuspunt in Suid-Afrika en selfs die wêreld wees – ’n tuin wat geen plantliefhebber sal kan weerstaan om te besoek nie!”  

Salvia leucantha blom oorvloedig in die herfs. 

Dié dik stam van ’n koejawelboom wys hoe oud hierdie tuin is! 

DIE JOHNMANS SE STORIE 

David Taylor, voorsitter van Die Charles en Dorothy Opvoedkundige Trust, vertel meer:

“Charles en Dorothy Johnman was kleurryke figure in Stellenbosch se geskiedenis, veral op kultuurgebied. Hy was ’n Engels-dosent aan die Universiteit Stellenbosch en sy was jare lank onderwyser in musiek en euritmiek (die kuns van harmoniese liggaamsbeweging) en ’n begaafde tjellis wat by die Royal School of Music in Londen gestudeer het. Haar oupa eerwaarde Samuel Hahn, ’n Rynse sendeling, het oorspronklik die eiendom in Hertestraat gekoop en die huis in 1903 laat bou.

Dorothy was drie jaar oud toe sy en haar ouers ingetrek het. Hier het sy tot haar dood in 1995 gebly. Mettertyd het die familie ook ander eiendomme in die straat gekoop. Dorothy het die familie-eiendomme geërf en, saam met die Smuts- en Erskine-gesin van Stellenbosch, ook ander skakelhuisies in dié straat aangekoop, gerestoureer en almal tot nasionale gedenkwaardighede laat verklaar. Met haar dood is die eiendomme volgens haar testament in ’n trust geplaas. Sy het gevra dat haar persoonlike woning, Hertestaat 8, oftewel Camido, soos dit ook bekend staan, as ’n musieksentrum gebruik moet word en dat die tuin behoue moet bly.” 

WAT GROEI WAAR 

Die tuin is verdeel in verskillende dele, en elkeen het ’n karakter van sy eie: 

Skadutuin 

In die skadutuin kan jy heerlik op ’n hangmat onder die kanfer- en populierboom lê en droom! Onder die bome blom goueswane en Spaanse blouklokkies, Japannese anemone, asaleas en kamelias. (Let wel: Die kanferboom is ’n kategorie 3-indringer in die Wes-Kaap, wat beteken dat bome wat reeds in tuine groei nie verwyder hoef te word nie.) 

Groentetuin 

’n Nuwe groentetuin is gemaak waarin Carl, Paula se man, ’n groot verskeidenheid groente kweek. 

Die prieel 

Die prieel is toegerank met bloureën en rose wat oorspronklik in die tuin gegroei het. Dit skep ’n weggesteekte sitplek waar jy die stilte van die tuin kan ervaar. 

Die sirkelbedding 

Die sirkelbedding word omraam met salies, rose, kannas, dahlias en eenjariges soos kosmos, sonneblomme, pronkertjies en jakobregops. Dié deel kry baie son en die blomme is hoofsaaklik in skakerings van pienk, pers, blou, wit en room. 

Geurgrasperk 

Die geurgrasperk is beplant met grondbedekkers soos tiemie, ’n verskeidenheid ment, origanum, kamille, gouepenningkruid en Engelse madeliefie. Hier kan jy kom sit of daaroor loop vir ’n wonderlike geurervaring! 

Vrugteboord

Hier is nog van die oorspronklike vrugtebome soos suurlemoene, vla-appels, koejawels en kwepers. 

Woudtuin 

In die woudtuin is ’n natuurlike paadjie wat tussen die bome deur kronkel. Hier groei onder meer ’n reuse-geelhoutboom, ’n Japannese esdoring, populier en die kanferboom. Onderlangs groei spoorsalies, varings, boslelies, Chinese lantern en Setaria-grasse. 

Setaria-grasse

Alwijn Burger van die onderneming Blomboy pluk blomme en loof in die tuin. 

Die grasperk naby die huis word gebruik vir onthale en musiekkonserte. 

Kamelias blom in die winter. 

Die bamboes in die tuin is destyds gebruik om lere mee te maak. Vandag span hulle dit in om interessante stellasies en oprankplek in die tuin te prakseer. 

Granate is ’n ouwêreldse gunsteling. 

PLANTLYS 

Die plantkeuse vir die tuin is geïnspireer deur onder meer dié waarvan Dorothy baie gehou het. Pietman het genoeg inligting gekry uit ou foto’s, dokumente wat in haar huis gevind is, tydskrif- en koerantartikels en oorvertellings om te weet wat om te plant.

Hy het ook plante waarvan ’n plantliefhebber soos sy beslis sou hou, by sy keuse gevoeg. Die plante is so gekies dat daar reg deur die jaar iets is wat blom. Die onderstaande is nie ’n volledige plantlys nie – kom kyk self wat nóg in die tuin groei. 

Klimplante

  • Ouwêreldse rose soos ‘Cécile Brünner’, ‘Mme Alfred Carrière’, Rosa roxburghii
  • Bloureën (Wisteria sinensis)
  • Chinese jasmyn (Jasminum polyanthum)
  • Grenadella (Passiflora edulis)

Struike

  • Krismisrose (Hydrangea-spesies)
  • Asaleas (Rhododendron-spesies en -hibriede)
  • Camellia-spesies
  • Rose
  • Salies (Salvia)
  • Spoorsalies (Plectranthus-spesies)
  • Sneeubal (Viburnum opulus ‘Sterile’ en V. tinus ‘Lucidum’)
  • Kaapse mei (Spiraea cantoniensis)
  • Blomkweper (Chaenomeles speciosa)
  • Oranjejasmyn (Murraya exotica)
  • Fynblaarrooihout (Ochna serrulata)
  • Saliehout (Buddleja salviifolia)

Bome

  • Frangipani (Plumeria rubra)
  • Magnolia-spesies
  • Prag-van-Indië (Lagerstroemia indica)
  • Blinkblaar (Cornus capitata en C. florida)
  • Koraalboom (Erythrina caffra)
  • Esdoring (Acer palmatum)
  • Japannese blomkersie (Prunus serrulata)
  • Vrouehaarboom (Gingko biloba)
  • Populier (Populus alba)

Vrugtebome

Lemoen, suurlemoen, kweper, tamatiepruim, koejawel, granaat, moerbei, olyf, appelkoos en vla-appels. 

In my navorsing oor die tuin het ek agtergekom Dorothy was mal oor plante met lekkerruik-blomme! – Pietman

WENKE VIR TUINVERNUWING 

As jy ’n bedding of ’n tuin wil nuut maak, moet jy geduldig wees, sê Pietman. “Ek hou daarvan om eers die tuin te leer ken voor ek daaraan begin werk. Moenie onmiddellik wanneer jy intrek aan die werk spring nie – gee jouself kans om ’n idee te ontwikkel van wat jy wil doen. Dit is natuurlik so dat ’n mens wanneer jy dit die eerste keer sien instinktief ’n gevoel kry van hoe dit moet lyk. Sulke aanvanklike reaksies is belangrik en baie keer presies dit wat jy daar moet doen.”

Hier is sy raad:

  • Begin deur die ongewenste plante en bome uit te haal en die bome reg te snoei. Kry ’n kenner hiervoor indien nodig. Kyk hoe lyk die tuin of bedding met die plante wat oorbly en wat jy nog nodig het vir vorm en struktuur. Daarna kan jy aan die detail van die beddings begin aandag gee.
  • Besluit wat jy waar wil plant en teken ’n eenvoudige plan van jou tuin. As jy voel jy het nie genoeg kennis nie, kry iemand om jou hiermee te help. Plante is duur. Dit is soveel beter om van die begin af die regte plant op die regte plek te hê – jy sal soveel gouer resultate sien.
  • Berei die bedding(s) goed voor en begin stuk-stuk plant as jy ’n groot tuin het. In ’n kleiner tuin is dit beter om dit as ’n geheel te beplan, aangesien jy gewoonlik die hele tuin met een oogopslag kan sien.
  • Maak seker jy het water om dit wat jy plant, nat te maak. Kies waterwys plante, veral as jou water min is.
  • Dis nie altyd nodig om duur plante te koop nie. Kry steggies en saad by vriende en plant goedkoop grondbedekkers wat die grond vinnig toegroei. Namate die tuin ontwikkel, kan jy dit vervang met interessanter plante.
  • Deel uit waarvan jy te veel het. Ons het hope agapante en Dietes uitgehaal en weggegee. Niks hoef verlore te gaan nie.
  • Gebruik wat in jou omgewing beskikbaar is of wat jy reeds in die tuin het. Ons het die bamboes wat hier groei, gebruik om stellasies mee te maak waarteen plante kan opgroei. Dit het vinnig hoogte aan die tuin gegee en dit interessant gemaak. Met oortollige rivierklippe het ons rande vir paadjies gepak.
  • Moenie moedeloos raak as dit aanvanklik nie lyk soos jy dit gevisualiseer het nie. ’n Tuin ontwikkel met verloop van tyd en verander voortdurend.
  • En laastens: Doen wat vir jou mooi is; dit is jou tuin en jy wat daar woon! 

Inheemse persbesem (Polygala virgata) saai homself maklik en aard goed in die klammer dele van die tuin. 

As musiek- en blomliefhebber het Dorothy jare lank die blommerangskikkings in die Stellenbosse Konservatorium met blomme uit dié tuin gedoen.

Plukblomme sorg in al vier seisoene vir kleur – soos dié Japannese anemonein die herfs. Dit word aan ’n blomwinkel verkoop as ’n bron van inkomste en om dit meer as deel van die gemeenskap te laat funksioneer.  

Kom kyk self

Die Johnman-tuin is oop vir die publiek. Elke Dinsdag begelei Ursula Schwerdtfeger, ’n tuinboukundige, besoekers deur die tuin en vertel meer oor die geskiedenis en die plante. Daar is ook elke seisoen ’n spesiale ope dag waar tee en koek bedien word. Tuinbouverenigings is welkom om die tuin te besoek. Stuur ’n e-pos aan info@johnmanmusiccentre.co.za, of besoek die webwerf, johnmanmusiccentre.co.za.