Foto’s Francois Oberholster

Wie woon hier? Arina Vermeulen en haar Jack Russell, Kahlúa WAAR Franschhoek

In Arina Vermeulen se voortuin op Franschhoek is dit kleur, plantkombinasies, interessante vorms en teksture wat tel. Hoe dan nou anders – sy is immers ’n grafiese kunstenaar! Haar 6 x 6 m-tuin bestaan uit ’n sirkelvormige grasperk met ’n kleurvolle bedding rondom. In dié bedding groei ’n interessante verskeidenheid plante wat feitlik regdeur die jaar kleur verskaf. En omdat sy daarvan hou om self in haar tuin te werk, het sy die bedding so beplan dat sy steeds elke seisoen nuwe saailinge kan plant – al is dit hoe klein.

“My vorige tuin was groot en ek kon koop wat vir my mooi is; daar was oorgenoeg plek. Maar nou moet ek dink voor ek koop. Ek het gou besef ek het minder van ’n soort plant nodig om dieselfde effek as in my vorige tuin te kry. Dit is vir my moeilik, want ek kan beswaarlik die versoekings weerstaan as ek by ’n kwekery kom, veral as ek iets nuuts of onbekends ontdek.

“Voor ek in Maart 2016 by die meenthuis ingetrek het, kon ek nie slaap nie – ek was net te opgewonde oor my nuwe tuin. Ek het die Iscape-app op my foon afgelaai waarmee jy jou tuin kan beplan. So kon ek foto’s van verskillende plante en tipes gras insit en sien hoe dit gaan lyk. Ek het nagte daarmee omgespeel voor ek besluit het wat ek in my tuin wou doen,” vertel sy.

In my klein tuin kan ek aan elke plant aandag gee en sien hoe dit groei. Dit gee my soveel plesier. Selfs onkruid uittrek is vir my lekker! – Arina

Kleurkombinasies

App in die hand het Arina die hele tuin oorgedoen. “Hier was net vier gevestigde struike, wat ek behou het. Verder was daar plaveiblokke, klippies en gras. Ek het met die grasperk begin en op ’n sirkelvorm besluit. Ek hou van ronde vorms en het gehoop dit sal die tuin groter laat lyk. Die kikoejoegras wat ek aanvanklik geplant het, het glad nie goed gegroei nie, veral in die winter wanneer die tuin geen son kry nie. In die somer het dit weer heeltemal verdor. Verlede jaar het ek All Seasons Evergreen-gras gesaai wat goed aard in son én skadu, en nie so gereeld gesny hoef te word nie.”

Hoewel Arina vooraf dink wat sy in haar tuin wil doen, besluit sy eers by die kwekery watter plante sy gaan koop. “Ek geniet dit om daar kombinasies van plante neer te sit en te kyk wat werk en wat nie. Dit is beter om plante te kombineer en saam te koop as een-een. So kan jy sien hoe die kleure, blaarvorms en teksture mekaar komplementeer. Ek probeer wel hou by sekere kleurkombinasies, maar kry dit nie altyd reg nie. En om die bedding as ’n geheel te laat saamwerk, gebruik ek grys tussenin. Dit werk vir my.”

Barbertonse madeliefies, vingerhoedjies, gesiggies en grys lamsore maak ’n kleurvolle vertoning.

Gunstelinge

Dis vir Arina baie moeilik om plante uit te sonder – daar is net te veel waarvan sy hou. “Elke plant is fantasties as dit net op die regte plek en in die regte kombinasie met ander gebruik word. Ek kan my verwonder aan die detail van vetplante se blommetjies en ek hou baie van bloeisels.” Ander gunstelinge is:

  • vingerhoedjies
  • vergeet-my-nietjies
  • gesiggies
  • Inkalelies
  • nieskruid
  • anemone
  • artisjokke
  • pronkertjies – “Dit laat my aan my ma dink!”

1. Senecio-hibriede 2. Euphorbia epithymoides

Arina se tuinwenke

  • As jy soveel geld aan plante spandeer, sorg dat hulle die beste kans op oorlewing het. Ek gebruik beenmeel, superfosfaat en baie kompos wanneer ek plant. Deesdae gooi ek ook ’n waterhoudende produk, Wonder se Waterwise Crystals, in die plantgat.
  • Moenie bang wees om plante te verplant wat nie goed aard nie. Skuif die plant en gee dit nog ’n kans.
  • Deur steggies te bedel of met ander tuiniers uit te ruil is nie net ’n manier van plante vermeerder nie; so kry jy ook interessante plante in die hande wat jy nie altyd by ’n kwekery sal raakloop nie.
  • Voed gereeld jou grond. My grootste verjaardaggeskenk elke September is ’n bakkievrag kompos.

Grondbedekkers in skakerings van groen en met verskillende teksture versag die paadjie, terwyl ligblou lobelias, wit gesiggies en pers viooltjies vir kleur sorg. LW Ons het dié welige tuin reeds verlede jaar afgeneem voor die droogte die Wes-Kaap getref het.

Maak jou eie plaveilsel

Arina het self begin plaveiblokke maak omdat sy niks te koop kon kry wat in haar smaak val nie. Dié blokke (bo) het sy met sement en olifantsoor-blare gemaak. So het sy dit gedoen:

1. Koop klaar gemengde sement en meng dit tot ’n stewige pasta.

2. Strooi dan ’n laag riviersand net groter as die olifantsoor-blaar oor ’n swart plastieksak. Hol die sand uit in die vorm van die blaar en sit die blaar met die are na bo in die holte.

3. Skep ’n laag sement so dik soos ’n stapblok bo-op die blaar en maak gelyk. Laat die sement vir ’n dag uitdroog; maak weer nat en laat staan vir nog ’n dag.

4. Haal die sementvorm uit die sandholte en trek die blaar af. Siedaar – jou eie stapblok met ’n blaarpatroon!

Plantlys
  1. Lychnis coronaria
  2. Artisjok
  3. Koraalklokkies (Heuchera ‘Citronelle’)
  4. Vingerhoedjies (Digitalis purpurea)
  5. Nieskruid (Helleborus argutifolius)
  6. Euphorbia characias
  7. Engelvlerkies (Oenothera lindheimeri)
  8. Ornamentele gras
  9. Asparagusvaring
  10. Lamsoor (Stachys byzantina)
  11. Duisendblad (Achillea millefolium)
  12. Wit krismisroos
  13. Kerriebos (Helichrysum italicum)
  14. Geranium maderense
  15. Antennaria parvifolia
  16. Barbertonse madeliefie (Gerbera jamesonii)
  17. Japannese anemoon