Foto’s Sally Chance

WIE WOON HIER?

Clynton en Lisa Fraser

WAAR Underberg, KwaZulu-Natal

GROOTTE VAN TUIN 1 ha

GRONDSOORT Leiklipagtig en suur

Omdat die grond so leiklipagtig en vlak is, het Lisa massas kompos en verrotte blare ingewerk. Sy het ook van die beddings ’n kliprand gegee om die grondvlak te verhoog. Blomme soos baardirisse en asaleas verskaf kleur in hierdie skadu-bedding.

Haar tuin is ’n voortdurende proses en oor ’n tydperk van 30 jaar van konstante werk het sy dit ontwikkel en geleidelik vergroot sodat dit nou die ou, amper vervalle skure en geboue op die plaas insluit. Maar Lisa Fraser van Underberg in KwaZulu-Natal is nog glad nie klaar nie.

“Ek kry altyd nog iets wat gedoen moet word of iets wat moet verander,” sê sy. “Toe ons hier ingetrek het, was daar feitlik geen tuin meer nie. Die wattelbome en braambosse het heeltemal oorgeneem en die meeste van die muurtjies tussen die terrasse het meegegee.” Maar daar was een ligpunt: In die oorgroeide boskasie het sy die oorblyfsels van ’n ou roostuin ontdek.

“Behalwe die roostuin was daar ook ’n jakarandaboom, ’n Himalajaseder (Cedrus deodara), ’n paar asaleas, irisse, krisante en dahlias.

“Ek het die meeste van die klipmuurtjies herbou en oor die jare eintlik net voortgeploeter – nuwe blombeddings gemaak en dit weer verander, plante en paadjies geskuif, nuwe klippaadjies gemaak en die tuin met verloop van tyd vergroot. Dis ’n mengsel van allerlei plante. Die huidige roostuin en die rose naby die dammetjie is seker die naaste wat ek ooit aan ’n formele tuin sal kom.”

’n Verskeidenheid rose groei in die beddings rondom die dammetjie; dit is een van die min formele dele in die tuin.

’n Verskeidenheid rose groei in die beddings rondom die dammetjie; dit is een van die min formele dele in die tuin. 

Clynton en Lisa

‘The Bishop’

’n Boog waaroor ’n ‘Souvenir de Mme. Léonie Viennot’- roos rank, omraam ’n bankie tussen beddings vol kleurryke vingerhoedjies.

Kattekruid, vingerhoedjies, angeliere en ’n ‘Francois Juranville’-rankroos oor die boog is ’n prentjie in die lente.

‘Francois Juranville’

Angeliere

Die poue wei graag in die kattekruid wat Lisa as grondbedekker onder haar rose plant.

Pyn en plesier

Die klimaat waarin Lisa tuinmaak, is uiters gehard. “In die warm somers is die reënval met tye wisselvallig; ons kry dan selfs ’n haelstorm of twee,” vertel Lisa. “Die winters is weer baie koud en droog, met ryp en soms sneeu. En in Augustus waai die wind. In dié klimaat moet plante taai wees, daarom hou ek van plante wat na hulself kan omsien.”

’n Plaastuin hou ook sy eie onheile in. “Die beeste of skape kry dit altyd reg om op die een of ander manier toegang tot die tuin te kry en dan saai hulle absolute verwoesting. Die poue is pragtig en ek is gek oor hulle – wel, die meeste van die tyd. Nié wanneer hulle ’n stofbed in my tuin maak of my groente vreet nie! Tog bring hulle ’n eiesoortige bekoring na die tuin.”

Lisa doen die meeste van haar tuinwerk self en kry per geleentheid hulp om boomtakke af te saag of ’n baie swaar klip te skuif. “Ek het ’n grassnyer waarop ek kan ry; dis my kosbaarste besitting. Hoewel ek nie noodwendig daarvan hou om die gras te sny nie, maak die eindresultaat van ’n netjies gesnyde grasperk dit die moeite werd. Om nuwe beddings te maak in vars bewerkte grond met plante wat wag om te groei, is my gunsteling-tuintaak. Ek geniet dit selfs om onkruid uit te trek.

“My tuin gee my soveel plesier. Ek put soveel bevrediging daaruit om deur die tuin te stap en die skoonheid te waardeer ná ’n dag se harde werk in die warm son. En ek deel graag my tuin met vriende en familie. Dis lekker om te sien dat dit ook ander mense gelukkig maak, nie net vir my nie.”

PLANTKEUSES 

Lisa sê dis vir haar moeilik om gunsteling-plante te kies. Hier is ’n paar wat haar seisoen ná seisoen vreugde gee:

• Rose “Dis ’n verslawing wat waarskynlik begin het toe ek die oorblyfsels van die ou roostuin ontdek het. Ek was gefassineer daardeur dat die struike soveel jare kon oorleef sonder dat dit enige aandag gekry het.”

Soms wonder Lisa tog hoekom dit ’n gunsteling is. “Dit verg baie werk! My roosversorging is ietwat sporadies. Ek spuit selde, so daar is ’n oorvloed peste. Ons snoei in die winter, bemes in die lente en weer een of twee keer in die somer. Verder pluk ek dit. Deur rose gedurende die somer te pluk, kry dit sommer ook ’n somersnoei. Dié wat nie gepluk word nie, se dooie blomkoppe sny ek af.”

Die tekort aan water in ’n droë somer is ’n groot probleem, sê sy; so ook onkruid. “Ek het onder die meeste van die rose kattekruid geplant. Dit lyk altyd mooi, hou die wortels koel en keer onkruidgroei.

Op die oomblik is ‘Isidingo’ haar gunsteling, met ‘General Gallieni’, ‘Sunny Ayoba’, ‘Crème Caramel’, ‘Frau Karl Druschki’, ‘Le Vésuve’ en ‘Francois Juranville’ ook op haar lys.

• Vingerhoedjies (Digitalis purpurea), ’n ikoniese plant in Engelse tuine, kom elke jaar weer oraloor op. “Ek is ’n voorstander van plante wat na hulself omsien en vermeerder. Maar ek oes ook saad vir die volgende seisoen.”

• In die somer is die inkalelies pragtig en deesdae hou Lisa al hoe meer van salies. “Hulle is gehard en droogtebestand. Dié klein struike gee spatsels kleur selfs in tye wanneer ander plante verlep lyk.”

•  In die herfs is krisante in hul groot verskeidenheid kleure iets besonders.

• Wintertyd blom die nieskruid (Helleborus) op hul mooiste.

Kamelias is wonderlik, want dit is immergroen met die bonus van pragtige blomme in die winter.

• En in die lente is die asaleas, irisse, duiwel-in-die-bos (Nigella damascena), Kaliforniese papawers (Eschscholzia californica) en akeleie (Aquilegia vulgaris) vol in die blom.

Dié ou stoel het nuwe nut gekry as houer vir gesiggies.

‘Buff Beauty’

’n Gemengde bedding met vingerhoedjies en Lychnis coronaria verskaf ’n kleurskouspel in die lente. Die vingerhoedjies saai hulself en kom jaar ná jaar oral in die tuin op.

Geel Louisiana-irisse in ’n dammetjie.

‘Mozart’

Gesiggies en viooltjies

‘Ringlet’

‘Rhapsody in Blue’

Die geboue op die plaas dateer terug tot 1889. “Die meeste van die geboue was al baie vervalle toe ons 100 jaar later hier ingetrek het,” vertel Lisa. “Die oorspronklike huis van ysterklip staan steeds en het dringend restourasie nodig, maar dit gaan baie geld kos.

Die skuur, wat blykbaar deur oorlogsgevangenes gebou is, het in 1999 in ’n hewige sneeustorm inmekaargestort. Ons het intussen ’n struktuur met ’n dak bo-oor die murasie gesit om dit te probeer bewaar.”