Al langs die inrit vorm asaleas ’n hoë heining wat ’n skouspel is in die lente. 

Foto’s Sally Chance 

DIE EIENAARS Die Chance-familie

WAAR KwaZulu-Natalse Middelland 

GROOTTE VAN EIENDOM 20ha

Vakansietye en naweke kuier die Chance-familie graag saam. En as dit by hul kleintydse kuierplek in die KwaZulu-Natalse Middelland is, is dit ekstra spesiaal. Want dis hier waar dié gesin al sedert 1967 afsaal en waar Betty Chance oor die jare die tuin in ’n lushof omskep het.

“Ons het in Zoeloeland geboer en in 1967 ’n naweek hier in die Middelland kom kuier nadat vriende hierheen verhuis het,” vertel Betty. “Ons vier kinders was toe op kosskool hier naby en ons was op soek na ’n plek waar ons naweke saam met hulle tyd kon deurbring. Ons vriende het aangebied dat ons ’n deel van hulle grond koop en vir ons ’n huis daarop bou. Ons het die geleentheid aangegryp.”

Sedertdien is die eiendom die Chance- familie se wegbreekplek. Betty het begin tuinmaak met die hulp van ’n egpaar van die omgewing, John en Trifena Ngobese, wat die eiendom onderhou het wanneer die Chance- gesin nie daar was nie. Vandag is dit die Nkathi-familie wat hier toesig hou.

“In die hoek van die eiendom is twee heuwels met ’n rivier wat daardeur loop. Die heuwel wat suid front was en is nog steeds bedek met natuurlike veld. Hier groei onder meer Kaapse kastaiing-, witstinkhout-, witels- en geelhoutbome tussen kleiner inheemse spesies.

“Die heuwel wat noord front is bedek met dennebome. Ons het van die denne afgekap en ’n trekker van ons plaas af laat kom om die grond op die kruin van die heuwel gelyk te maak sodat ons ons huis daar kon bou. Dit het ’n pragtige uitsig oor die rivier en die inheemse veld.”  

Klein begin

Omdat die eiendom ’n hele 20 ha beslaan, is groot dele daarvan natuurlik gelos en het hulle hoofsaaklik rondom die huis ’n tuin begin uitlê wat met verloop van tyd rivier toe uitgebrei het.

Die eerste ding wat Betty gedoen het, was om gras te plant. Die oorspronklike lappie gras kom uit haar ouers se tuin naby Underberg. “Hoewel John eintlik ’n kok is, het hy veral wanneer ons nie daar was nie in die tuin ingespring. Hy het die hele grasperk van dié stukkie gras gekweek en paadjies al langs die rivier gemaak. Aangesien daar soveel groot klippe rondom die huis was, het ons werkers van die omgewing in diens geneem om mure te pak en terrasse en trappies daarmee te bou. Toe dit klaar was, kon ek in alle erns met die tuin begin,” vertel sy.

Met genoeg water uit die rivier vir die huis én die tuin het Betty eerstens bladwisselende bome soos rooibeuke, platane, Japannese esdorings, blomkersies, blomkornoelies, Japanse blomappels, naaldeike en moerassipresse geplant. Dié bome sorg vir ’n asemrowende vertoning in die lente en herfs.

“Destyds het ek ’n paar asaleas in skakerings van wit, purperrooi en pienk gekry en geplant. Ek het ook van die kleiner Kurume-kultivars gekoop. Gelukkig is die grond en klimaat geskik vir asaleas en floreer dié struike hier. En as ek êrens een sien wat ek nog nie het nie, koop ek dit.

“Ná ’n besoek aan Engeland het ek Azalea mollis-struike as klein plantjies ingevoer van ’n kwekery in Woking, Surrey. Hulle het goed hier aangepas en is vandag groot struike wat met oorgawe blom. Ek het ook krismisrose geplant wat elke somer ongelooflik mooi is met hul wit, pienk, ligpers en veral blou blomme. Die klimaat is beslis ook tot hul voordeel.” 

Asaleas floreer onder bladwisselende bome. 

Azalea mollis 

1 Betty en haar kleindogter Ruby, oudste kleindogter Lara (regs) en dié se dogter Scarlett in 2011. 

2 Betty en Sally Chance

’N DOGTER ONTHOU

Betty se dogter, Sally, ’n Tuis-medewerker wat die foto’s vir dié artikel geneem het, het wonderlike herinneringe van tye saam met haar ma en hul gesin in dié tuin.

“My vroegste herinneringe is van hoe ons as kinders by die rivier gespeel het. Ons het spek met ’n toutjie aan ’n stokkie vasgemaak en daarmee krappe gevang. In die inheemse veld het ons lang ente gaan stap en ystervarkpenne opgetel. Ek het vir ure saam met my ma in die dennewoud feetjietuine gemaak – en later het ons twee weer presies dieselfde saam met mý dogter gedoen! Ek en my drie ouer broers bring elke tweede Kersfees saam met my ma hier deur. Sy is nou 90 jaar oud. En wat ’n voorreg dat almal, tot haar agterkleinkinders, hier bymekaar kan kom.” 

Kurume-asalea 

Kleurryke ontvangs

Betty het die rugkantvan die heuwel geleidelikvol geplant met ondermeer asaleas, krismisroseen bome. Om die huis isblombeddings met ’n mengselvan meerjarige floksies, irisse,rose, miniatuur-agapante en eenjarigessoos vergeet-my-nietjies, papawers enpetunias. Affodille groei op die grasperk terwyl sneeuvlokkies, primulas en nooienshaarvarings die bedding by die ingang van die huis verfraai.

Al met die oprit langs saai Betty dahlias en Thalictrum wat pragtig is wanneer hulle in die somer saam blom. Sy het onlangs aalwyne in ’n natuurlike rotstuin aan die ander kant van die inrit geplant wat hopelik kleur sal gee in die winter, want dan is dit bitterlik koud en raak haar mooi groen grasperk bruin. En al met die paadjie langs tot by die rivier waar die kinders destyds krappe gevang het, groei aronskelke en blou miniatuur- agapante tussen die klippe. 

Blomkornoelie 

BETTY SE GUNSTELINGPLANTE

Buiten haar asaleas is Betty lief vir krismisrose, rose, irisse, pioenrose, agapante, magnolias en Luculia- struike. Klimplante wat haar na aan die hart lê, sluit Clematis en Engelse kanferfoelie in. En vir eenjarige kleur hou sy van Thalictrum, dahlias, papawers en vergeet-my-nietjies. 

Azalea mollis 

WENKE VIR ASALEAS

  • Betty het haar asaleas geplant in vierkantige gate wat met kompos en ’n strooisel kraalmis gevul is. Bo-op het hulle dennenaalde neergesit om die grond koel te hou. Die plante hou van klam, suur grond en goeie dreinering. Haar struike het veral goed gegroei daar waar die dennebome voorheen gestaan het. Goed verrotte akkerblare kan ook as deklaag gebruik word – net soos die dennenaalde sal dit die suurgehalte van die grond verbeter. As jou grond alkalies is en jy steeds asaleas wil kweek, kan jy dit in ’n geskikte grondmengsel in potte plant. Kies dan kleiner variëteite.
  • Betty vermeerder haar struike deur ’n klein tak tot op die grond af te buig, ’n klip daarop te sit en so te los tot dit vanself begin wortelskiet. Sodra dit genoeg wortels het, kan die nuwe plant elders in die tuin uitgeplant word.
  • Die oorgrote meerderheid asaleas is immergroen en aard die beste in gefiltreerde son; hulle is dus baie gelukkig onder bladwisselende bome. Die Azalea mollis-hibriede kan in volson groei en is bladwisselend.
  • Asaleas hoef nie eintlik gesnoei te word nie. Maak dit net netjies ná blomtyd, maar selfs dit is selde nodig.
  • Die struike blom veral in die lente mooi, maar daar is vroeë variëteite wat al laat in die herfs begin blom. As jy reg kies, kan jy blomme van die herfs tot in die lente hê. 
Plantgids

Volksnaam Asalea

Botaniese naam Rhododendron-hibriede

  • Halfskaduwee
  • Redelik bestand teen ryp
  • Baie water nodig
  • Immergroen sowel as bladwisselend