Foto’s Francois Oberholster

WIE WOON HIER?

Retha Swart

WAAR Durbanville

GROOTTE Voortuin 45 m², smal strook langs huis 22 m²

GRONDTIPE Klei

OUDERDOM 2½ jaar


Kunstig met ’n mosaïekvoorkoms – dit is wat Retha Swart graag in die knap tuintjie van haar meenthuis wou hê.

“Ek is ’n groot tuinliefhebber wat graag self in die grond werk,” vertel sy. “In 2006 was ek Spanje toe en daar, in Barcelona, het Antoni Gaudí se mosaïekwerk my begeester. Sedertdien beoefen ek dié kunsvorm en het ek toe besluit om die voorkoms van my voortuin hierop te baseer.” Retha het kontras, kleur en tekstuur ingespan en ’n geordende, lewende mosaïek geskep.

“Die tuin bestaan uit twee dele omring deur hoë mure – die voortuin met ’n mosaïekvoorkoms, en ’n smal strook aan die kant van die huis,” verduidelik sy. “Wanneer ’n mens met so ’n klein ruimte werk, moet jy deeglik beplan; daarom het ek my vriendin Martie de Wet van Fresco Landscaping in Durbanville gevra om te help. Ek kan nie genoeg beklemtoon hoe belangrik die aanvanklike uitleg, beplanning en grondvoorbereiding is nie – veral as jy ’n bepaalde voorkoms wil skep.”

Martie het vir Retha ’n plan met presiese afmetings opgetrek. Met dié plan in die hand het sy toe die voortuin in netjiese blokke verdeel en afgebaken met sement-plaveiblokke. Daarna het sy ’n kombinasie van waterwys plante in elke blok geplant.

Omdat Retha haar kostes so laag moontlik wou hou, het sy seker gemaak sy kies van die begin af die regte plante sodat sy dit nie later hoef te vervang nie. Die plante is soort by soort saamgegroepeer om instandhouding te vergemaklik en om ’n groter fokuspunt in elke blok te skep. Plante is ook gekies met kontrasterende blaarvorms, blaarkleure en blomme in die verskillende blokke.

“My tuin verg min onderhoud en min aandag. Ek is gelukkig dat die baie kreatiewe en behendige Enerst Madechihwe my een maal per maand kom help. Hy snoei die spekbome en sorg dat die soutbosblokke soos perfekte ‘tafels’ lyk,” vertel Retha. “Verder doen ek alles self en gee gereeld vloeibare bemesting soos Nitrosol. In die lente en somer gee ek die tuin maandeliks organiese kompos, maar minder in die winter.

“My tuin is die plek waar ek gelukkig is. Dit is my toevlug ná ’n lang dag by die werk, waar ek my kreatiwiteit kan uitleef. Dis waar ek soggens my eerste koppie koffie drink en weer asem skep en stil raak.”

’n Tuin kan gou na chaos neig, veral in ’n klein ruimte. Daarom moet ’n mens dit netjies hou. – Retha

Retha het geen besproeiingstelsel in die tuin nie. Dis klein genoeg dat sy alles met ’n gieter kan natgooi, anders laat sy die tuinslang uit die watertenk net liggies tussen die plante loop. Dit gebeur in die somer so drie keer per week, altyd met tenkwater; in die winter gooi sy selde nat. Dié meermin in die voëlbadjie het Retha by die Uilhuis op Nieu-Bethesda gekoop.

Senecio mandraliscae

Aloe ‘Porcupine’

Rhagodia hastata

Retha se mosaïek-handewerk

Cotyledon orbiculata

Só het Retha gemaak

Retha het haar tuin in Mei 2017, te midde van die erge droogte in die Wes-Kaap, beplan en beplant. Die plante en bome wat sy gekies het, is almal waterwys, gehard en verg min onderhoud. Deeglike beplanning, die regte plantkeuses en professionele hulp was deel van haar wenresep. Die voortuin was binne net twee dae klaar.

Dag 1 Die grond is goed voorberei. Eers is die hele area omgespit en al die klippe en bourommel (die ontwikkeling was toe pas voltooi) verwyder. Die grond is gelykgemaak en in ses blokke verdeel. Sand is gegooi om die plaveiblokke wat die beddings verdeel en ’n paadjie vorm, te lê. Daarna is kompos in die afsonderlike beddings ingewerk.

Dag 2 Die bome is eerste geplant en daarna die res van die plante. Retha het bome gekoop wat al redelik groot was, want sy wou nie te lank wag vir skaduwee nie. Heel laaste was die grondbedekkers aan die beurt. Hoewel sy hier en daar plante gekoop het, het sy baie by vriende gekry en van steggies gekweek. 


Plante in die mosaïektuin

1 Aloe ‘Porcupine’ met Crassula expansa as grondbedekker tussenin. Die aalwyn se pragtige koraalkleurige blomme lok suikerbekkies.

2 Heilige bamboes (Nandina domestica) en spekbome (Portulacaria afra) is teen die mure geplant om dit te versag.

3 Varkoorplakkie (Cotyledon orbiculata) met oranje klokvormige blomme wat bye en voëls lok. Die blare het ’n fyn rooi randjie.

4 Meelplakkie (Kalanchoe luciae). Die rooi van die blare gee nog meer kleur aan dié blok.

5 Soutbos (Rhagodia hastata sin. Einadia hastata) met ’n fyn grys blaartjie in ’n blokvorm gesnoei.

6 Luiperdboom (Caesalpinia sin. Libidibia ferrea) is perfek, aangesien dit ’n regop groeiwyse het en sonlig deurlaat. Dit oorweldig dus nie die klein ruimte nie en die plante onder die bome kry steeds stippelson in die somer. Omdat dit ’n bladwisselende boom is, laat dit in die winter oorgenoeg son deur. Let wel In meer vogtige, subtropiese streke kan ’n luiperdboom heelwat groter word en is dit nie so geskik vir ’n klein ruimte nie.

7 Agave attenuata met wandelende jood (Tradescantia zebrina) as grondbedekker tussenin; die rooi-en-groen blaartjies van laasgenoemde verskaf kontras. Retha het die Agaves opsetlik baie klein geplant en wanneer hulle te groot word en die bedding oorheers, gaan sy daarvan uithaal en aan vriende uitdeel.

8 Senecio mandraliscae onder die olienhoutboom.

9 Olienhout (Olea europaea subsp. africana). Dié immergroen boom is naby die stoep en braaiplek geplant vir koelte. 

Retha het inspirasie uit Gustav Klimt se bekende “Boom van die lewe” gekry vir hierdie rankende mosaïek.

’n Smal strook langs die huis kry in die winter weinig son, maar is in die somer baie warm – faktore wat die plantkeuse bemoeilik. “Hier groei ’n verskeidenheid plante en dis minder georden,” sê Retha. “Daar’s bome vir skaduwee, spinasie en kruie vir die kombuis, miniatuurrose vir pluk, waterwys vetplante en bolle wat deur die loop van die jaar opkom en kleur gee.”