Foto’s Francois Oberholster

WIE WOON HIER? Jeremey-Anne en Hugh Hopkins

WAAR Greyton

GROND TIPE Riviersand en graniet

Grootte van die tuin 200 m²

In dié tuin pronk rose in welige beddings tussen meerjariges soos Alstroemerias en papierblomme, asook struike soos Abelia ‘Francis Mason’ en verbleikblom (Brunfelsia pauciflora).

Toe die gewese Johannesburgse landskapargitek Jeremey-Anne Hopkins se man, Hugh, in 2008 aftree, het hulle besluit om na Nieu-Seeland te verhuis waar hul familie woon. Maar terwyl hulle op hul emigrasiedokumente gewag het, het vriende hulle oorgehaal om ’n draai op die natuurskone Greyton tussen die Wes-Kaapse berge te gaan maak.

“Nadat ons lank gewik en weeg het tussen Nieu-Seeland en Greyton, het ons op laasgenoemde besluit,” onthou Jeremey-Anne met ’n glimlag. “Dit was ’n opwindende skuif – nie net van die groot stad na ’n klein dorpie nie, maar ook van die 1 000 m²-eiendom in Randburg waar ons 41 jaar lank gebly het, na ’n erfie van skaars 380 m²!”

Dis louter vreugde om Jeremey-Anne se kothuistuintjie te verken. Daar is geen grasperk nie; pleks daarvan lei paadjies jou van een deel na die volgende deur welige beddings propvol kleur.

Die voortuin beslaan net sowat 13 x 7 m. “My tuin in Randburg het soveel skadu gekry dat ek nie rose daar kon plant nie. Nou maak ek ten volle gebruik van die son in my voortuin wat wes front. Ek het dit so geniet om die rose te kies! My ‘Ace of Hearts’-roos het die afgelope drie jaar met ons jaarlikse Greyton-roosskou die prys vir beste rooi roos gewen, terwyl my ‘Deloitte & Touche’ die prys vir beste massaroosrangskikking losgeslaan het,” sê sy trots.

Jeremey-Anne se sypaadjietuin is ’n lushof van rose, magrietjies en jaarplante soos gesiggies.

’n ‘Deloitte & Touche’-floribunda was eenvoudig ’n moet!

’n Pers-en-wit laaggroeiende Princess-Alstroemeria saam met ’n goueblaar-Sedum met delikate geel, veeragtige blommetjies.

Verskeie inheemse Ericas blom op verskillende tye en sorg deurentyd vir ’n kleurspel.

1. ‘Ace of Hearts’ 

2. Die hibried-teeroos ‘Ann Wrighton’

Immergroen skoonhede

Jeremey-Anne plant graag laaggroeiende immergroen plante tussen haar rose. Onder haar gunstelinge tel Abelia ‘Francis Mason’ met sy treffende goue loof, Coprosma ‘Rainbow Surprise’ en Coprosma ‘Pacific Sunset’, Hebes, die kleiner laventel (Lavandula stoechas) en kleiner Argyranthemum wat in die laatwinter en herfs blom. “Nandina ‘Pygmaea’ en Nandina ‘Fern Flame’ is ook lieflike toevoegings tot ’n klein tuin,” sê sy. Die donker loof van Strobilanthes kontrasteer pragtig met die gryswit sipreskruid (Santolina chamaecyparissus). “Ek snoei laasgenoemde een keer elke jaar kwaai terug, met goeie resultate.

“Ek plant ook graag meerjariges soos Inkalalies, Shastamadeliefies, salies, papierblomme, vlooikruid en talle Engelse geraniums (nie te verwar met Pelargoniums nie) tussen my rose, wat bydra tot die kothuis-gevoel.” 

Groen-en-wit loof van Lamium ‘Wisley Silver’ vorm ’n digte mat langs ’n geel Princess-Alstroemeria, terwyl die ornamentele gras Carex ‘Frosted Curls’ tekstuur verskaf.

Gedurende die droogte het ek skoon neuroties geraak oor die gebruik van water op enige plek behalwe die tuin. – Jeremey-Anne

Inheemse skatte

Alles in Jeremey-Anne se agtertuin van sowat 13 x 8 m is inheems. Hierdie deel front oos na die vlei langs hul eiendom en bied die mooiste uitsig op die Riviersonderend-bergreeks daar naby. “Die grond hier bestaan uit sowat 40 cm goeie bogrond, 30 cm suiwer riviersand en verweerde graniet daaronder.”

Dié inheemse tuin spog met Kaapse fynbos in oorvloed: tolbosse (Leucadendron), speldekussings (Leucospermum) en erikas. “As ek myself die dag wil bederf, ry ons Kaap toe vir nog ’n paar inheemse skatte van die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin se kwekery,” sê sy.

“Elke keer as ons daar uitstap, laai my arme man maar gedwee die kattebak vol met al die plante wat sy tuin-mal vrou nie kon weerstaan nie,” vertel Jeremey-Anne laggend. “Boonop haal hy elke keer sonder teëspraak sy kredietkaart uit om te betaal.”

Water, grond en plae

Jeremey-Anne se tuintjie gedy onder haar geoefende oog. Só maak sy:

Trotseer die droogte

Die Overberg-streek gaan nou al vir meer as twee jaar gebuk onder erge droogte. Jeremey-Anne het ’n tuinslang aan haar wasmasjien se uitlaat gekoppel en tuin toe gelei om haar plante nat te maak. “Ek het tenniselmboog begin ontwikkel van emmers bad- en stortwater uitdra na my dorstige tuin,” vertel sy.

Grondstrategieë

Jeremey-Anne is gelukkig genoeg om toegang te hê tot groot hoeveelhede droë mis wat sy by boere in die omgewing kry. “Ek strooi dit met ’n ruim hand in die lente, en gebruik dit saam met kompos vir alles wat ek plant.”

Plaagbeheer

Met ’n natuurlike vlei langsaan gebruik sy nooit insekdoders nie. “Hier beweeg maar altyd paddas, liewenheersbesies en ’n klein grasslang deur wat plae natuurlik in toom hou. Ek het ook al minstens 20 voëlspesies in my tuin getel – die Kaapse glasogies en suikerbekkies probeer hul bes om die plantluise uit te roei!”

Meer oor Jeremey-Anne

In die sewentiger- en tagtigerjare het Jeremey-Anne en haar mede-landskapontwerper Rosemary Kilian 17 jaar lank by ’n bekende kwekery in Johannesburg gewerk.

“Nadat die kwekery toegemaak het, het ons saam Leisure Gardens begin en jongmense gehelp om hul tuine te ontwerp en self te beplant. Ons het ook ’n boek, Grow into Gardening, geskryf waarin ons al die vrae wat destyds by die kwekery en gedurende konsultasies aan ons gevra is, probeer beantwoord.”

Die floribunda-roos ‘Duet’

Top-tuinwenke

  • “Ek plant niks sonder kompos of droë mis nie,” sê Jeremey-Anne.
  • Moenie blare wat in jou beddings val, ophark nie – laat lê dit liewer om kompos te vorm.
  • Maak so diep en so dikwels nat as wat jy kan – minstens twee keer per week. Indien jy fyn sproeiers gebruik, moet jy vir langer tye natmaak.
  • Moenie die grond gedurig omspit nie – dit versteur die mikro-organismes. Plant liewer grondbedekkers.
  • Maak seker jy weet wat die korrekte posisie van nuwe plante is deur altyd hul etikette te raadpleeg