WIE WOON HIER?

Femma en Rick Hackland

WAAR Bishopstowe, KZN

GROOTTE 2 hektaar

GRONDTIPE Leem- en kleigrond gemeng, en skalie plek-plek

Plantlys

Enkelsteel

• Aloe candelabrum

• A. marlothii

• A. thraskii

• A. rupestris

• A. africana

• A. speciosa

Steelloos

• A. vanbalenii

• A. spicata

• A. chabaudii

• A. cryptopoda

• A. gerstneri

Meerstelig

• A. arborescens

• A. dawei

Aloe marlothii (bo) en Aloe camperi (onder)

Trappies en relings maak dit makliker om die skuins tuin te verken. 

Oranje was nog nooit een van Femma Hackland se gunstelingkleure nie, daarom het sy geen sin aan aalwyne gehad nie – wat nog te sê ’n hele tuin met net dié plante. Min het sy geweet aalwyne kom in allerhande fatsoene, groottes én kleure!

Haar man, Rick, woon al sy lewe lank op die familie-plaas oos van Pietermaritzburg, en toe hy en Femma in 1995 trou, het hulle stadigaan die talle bloekombome begin uithaal en grasperke, koorsbome, kiepersolle (Cussonia spicata), struike en later beddings vol rose in die plek daarvan geplant. “Op die ou end het ek sowat 800 rose gehad,” sê sy. “Ek was gek na rose, maar ons het ontsettend las gehad van swerms komkommer-kewers wat al wat ’n roosknop is, verwoes het. Ons moes gedurigdeur spuit. Die rose het ook baie water gevra. Dit was net te veel.”

Aangesien Rick nog altyd van aalwyne gehou het, het Femma in Julie 2012 besluit om van die roosbome uit te haal en met ’n paar van dié vetplante te vervang. Dit was die begin van ’n nuwe passie, en sedertdien het haar liefde vir aalwyne net gegroei. “Ek het nie besef dit kom in soveel verskillende kleure nie,” sê Femma. “En wanneer hulle almal op een slag blom, is dit iets om te aanskou.”

Veelsydigheid

Nadat hulle besluit het waar om die aalwyne te plant – en elkeen se plek met ’n klip uit die omringende suikerriet- lande gemerk het – het Femma en Rick hul eerste plante by Rocky Wonder Aloe Nursery in Ashburton en Gwahumbe Nursery in Eston gaan koop.

“Met behulp van ’n boek oor aalwyne kon ons sien watter plante kort stele het en watter van die langsteel-kultivars is. Ons moes so baie leer!” vertel Femma laggend. “Nou koop ons aalwyne oral waar ons gaan – dis regtig lekker om hulle te versamel. Dis sulke interessante plante met al die verskillende blaarvorms. Die meeste van ons aalwyne is plaaslike kultivars, maar hier is ook ’n paar uit ander dele van Afrika, soos Kenia, Madagaskar en Zimbabwe.

“Min mense weet dat aalwyne nie net in die winter blom nie. Die onderskeie soorte dra amper dwarsdeur die jaar blomme,” sê Femma. “Aloe gerstneri en A. reitzii, wat kort stele het, blom byvoorbeeld in Februarie, terwyl A. pruinosa (ook met ’n kort steel) in Maart blom. Laasgenoemde het ’n silwerkleurige steel met lieflike ligpienk blomme.”

Die Hacklands het ook ’n groot versameling Sunbird-hibriede. “Die plantteler Leo Thamm van Pretoria spesialiseer in hibried-aalwyne en gebruik die beste ouerplante om die beste eienskappe te verseker,” verduidelik Femma. “Party het tot 10 ouerplante.”

Een van die Hacklands se gunsteling-hibriede is ‘Erik the Red’, wat uiters gewild geraak het by die jaarlikse Ashburton-aalwynfees. Die Hacklands bedryf ook ’n kwekery en verkoop hul plante direk uit die grond. Die kwekery en tuin is dwarsdeur die jaar op afspraak oop vir die publiek.  

‘Erik the Red’

Aloe dawei

Plantgids

Verskeie aalwyne

Volson tot gedeeltelike son

Waterwys

Hoogte en wydte wissel

Windbestand

Die meeste is rypgevoelig

Aalwyne vra ryk grond wat goed dreineer en kan nie swaar klei hanteer nie. Verbeter swak dreinering deur beddings te verhoog – werk sowat 30 cm riviersand en ’n ruim hoeveelheid kompos by die grond in. Foto: Aloe maculata

Die meeste aalwyne vra volson, maar daar is uitsonderings, so doen ’n bietjie navorsing. Dié wat in volson groei, het gewoonlik beter kleure, blom sterker en is minder vatbaar vir plae en siektes. Foto: Aloe marlothii

Metgeselplante

Benewens aalwyne spog die Hacklands se tuin ook met ’n groot versameling broodbome. “Hulle vul die aalwyne so goed aan,” sê Femma. Daar is ook speldekussings, wat ander kleure inbring, terwyl garingbome en strelitzias tekstuur gee.

“Crassula, plakkies (Cotyledon orbiculata) en Plectranthus maak mooi grondbedekkers tussen die aalwyne,” verduidelik sy. “Maar kies plante wat nie baie water vra nie, want jy sal agterkom dat aalwyne grootliks op reënwater kan oorleef.” Femma plant graag dieselfde plante bymekaar in groepe, want sy sê dit skep die mooiste prentjie wanneer dit blom. “En moenie jou aalwyne te na aan mekaar plant nie; dit raak ’n probleem wanneer hulle volgroei is en dan kos dit baie moeite om hulle oor te plant.”

PERFEKTE PASMAATS

Aalwyne werk goed saam met die volgende plante:

Struike Garingbome, broodbome, speldekussings, Strelitzia nicolai en S. reginae, Kalanchoe beharensis

Grondbedekkers Crassula, Plectranthus, Cotyledon orbiculata, Kalanchoe gastonis-bonnieri, K. pumila, K. sexangularis, Senecio crassifolius, vygie

Kies jou aalwyn

Vir potte Die Sunbird-hibried ‘Candy Floss’, Aloe maculata

Vir massa-aanplantings Aloe marlothii, A. vanbalenii, A. arborescens ‘Limelight’

Vir fyn blommetjies Aloe camperi

Femma se gunstelinge ‘Erik the Red’, Aloe dawei

Aloe marlothii

Het jy geweet?

Die Aloe-genus is beperk tot Afrika en Madagaskar, en baie spesies is inheems tot Suid-Afrika. Omdat aalwyne in uiteenlopende klimate voorkom, is daar groot verskille tussen spesies – van boomagtige aalwyne, soos Aloidendron barberae (sin. Aloe barberae), tot die polvormende A. arborescens, rosetvormende A. maculata en piepklein A. parvula. Blomkleure wissel van wit tot skakerings van geel, oranje, rooi en pienk.

Die meeste aalwyne is droogtebestand en daarom ’n goeie keuse vir waterwys tuine. Aalwyne produseer groot hoeveelhede stuifmeel en nektar, wat in hul blomtyd voëls en insekte lok. Baie van die aalwyn-hibriede is spesiaal vir tuintoestande gekweek.

Aloe arborescens ‘Limelight’

Plae en siektes

Femma was taamlik teleurgesteld toe sy ontdek aalwyne is ook geneig tot siektes. “Party is vatbaar vir roes, wat begin as ’n geel kolletjie op die blaar,” verduidelik sy. “As dit onbehandel bly, kan dit na ander aalwyne versprei – dit vorm ’n kors wat later oopbreek en spore in die lug vrystel. Die beste manier om dit uit te roei is om die blaar af te sny sodra jy die eerste tekens van roes sien. Swamdoder-spuitmiddels is nie juis doeltreffend nie.” Mense word ook aangeraai om uit te kyk vir enige soort misvorming op die steel tussen die blare. “Dit kan lyk soos ’n blom wat ontwikkel, maar dis eintlik ’n kanker wat deur ’n myt veroorsaak word,” waarsku Femma. “Die beste manier om dit uit te roei is om die aangetaste deel versigtig uit te sny met ’n skerp mes. Spuit of smeer die wond dan met ’n insekdoder.”

Sy beklemtoon dat jy al die aangetaste blare of stele in ’n sak moet sit en dit dan verbrand sodat die siekte nie na die res van jou tuin kan versprei nie.

’n Ander laspos is die snuitkewer. “Ongelukkig sien ’n mens dit eers raak wanneer die aalwyn amper dood is – iets wat oornag kan gebeur. Die kewer lê sy eiers in die steel en wanneer die larwes uitbroei, vreet dit die plant van binne af. Sodra jy klein prikgaatjies op die blare sien, moet jy die grond by die wortels deurdrenk met ’n sistemiese middel soos Bandit,” is Femma se raad. “Moet dit net nie doen terwyl die aalwyn blom nie, want dit kan bye doodmaak.”

Aalwyne in die tuin reageer goed op organiese bemesting, veral vroeg in die lente (vir beter somergroei) en van Februarie tot Maart (vir beter blomvorming). Aalwyne hou van goed verrotte kraalmis. Dit kan by die plantgat of potgrond ingemeng word, of strooi dit as bolaag rondom die basis van gevestigde plante.

Bewaringstatus

Al die Aloe-spesies (behalwe A. vera) verskyn op Cites (die konvensie oor internasionale handel in bedreigde spesies van wilde fauna en flora) se bylaes. Dit beteken handel word beheer om te voorkom dat die plant op maniere gebruik word wat sy voortbestaan kan bedreig. In Suid-Afrika word aalwyne (byna sonder uitsondering) ook in al nege provinsies deur omgewingswetgewing beskerm. Dit is teen die wet om plante uit hul natuurlike habitat te verwyder as jy nie die nodige permitte (uitgereik deur ’n provinsiale of ander natuurbewaringsowerheid) en die grondeienaar se toestemming het nie.

Oop tuin

Indien inperkingsreëls dit toelaat, loer in by die Hackland-aalwyntuin se ope dae op 13–14 en 20–21 Junie. Daar sal praatjies en verversings wees, asook plante om te koop: Ruthe Gray van Ndundulu Aloes bring Sunbird-hibriede en die Hacklands bied van hul inheemse aalwyne aan

Addisionele bron Hackland Aloe Garden

VERSKAFFERS EN KONTAKTE

Gwahumbe Nursery 076 019 2460

Hackland Aloe Garden 083 628 1290 of 083 636 0881

Ndundulu Aloes 082 727 2075

Rocky Wonder Aloe Nursery 082 728 7467