Foto’s Elza Cooper

WIE Jan de Waal en John Mundell

WAAR Kloofendal, Roodepoort

GROOTTE 1479m2

SOORT GROND Sanderige leem

Juliet-balkonne beklemtoon die treffende argitektuur van die huis.

’n Paadjie van rotsklip lei jou met trappe onderdeur ’n roosboog na die kleurvolle roostuin, die enigste gedeelte in die tuin wat in volson is. Mos en klein varings groei uit elke krakie.

Dit was die asembenemende uitsig oor die Kloofendal- natuurreservaat, deur die hele Strubensvallei tot so ver as die Magaliesberg in die weste wat die knoop deurgehak het toe Jan de Waal en John Mundell in 1982 die erf in Roodepoort waarop hul huis nou staan, die eerste keer gesien het. Dis geleë op ’n rotsagtige koppie, en het daarom potensieel baie uitdagings ingehou. Maar dit het hulle nie afgeskrik nie.

Die huis se planne is opgetrek en dienste is aangelê, maar destyds was hul geld maar skraps en kon hulle net sowat twee-derdes daarvan laat bou. Toe die twee boonop in 1994 die bekende Garden World-tuinsentrum op Muldersdrift koop, moes die huis noodgedwonge tweede viool speel – hul nuwe besigheid was sewe dae ’n week hul eerste prioriteit en daar was rekeninge wat betaal moes word!

Dit was eers 26 jaar later, in 2008, dat die huis voltooi is soos Jan en John dit wou gehad het: ’n Groot onthaaldeel met ’n kroeg en braai is aangebou, asook ’n eenslaapkamer-woonstel, twee groot balkonne en ’n ateljee waar Jan kan skilder. En natuurlik moes die tuin ook ’n nuwe baadjie kry– dis immers Jan se nering! 

Die statige, trompetvormige blomme van Amaryllis sorg vir somerkleur in die tuin.

Blou lobelias is ’n wonderlike vuller vir plantbeddings, potte en hangmandjies, en is ideaal vir enige tuinkol in halfskaduwee tot volson.

Die roomkleurige en pienk blomme van vingerhoedjies, asook die pers salies en agapante troon bo hul loof uit. In die voorgrond kontrasteer dit met Scabiosa se fraai klein ligpers blommetjies.

Herontwerp

In ’n spanpoging tussen Jan en John, met die waardevolle raad van JJ van Rensburg, Garden World se hoof-bestuurder en bekende tuinkenner, is die tuin herbeplan. Al die grasperke is uitgehaal, besproeiing is aangelê en ’n waterval is geskep aan die voorkant van die rots waarop die nuwe onthaaldeel gebou is.

“Dié waterval kabbel oor sowat drie meter se klippe tot in ’n dammetjie onder; ronde spoelklippe vorm ’n paadjie oor die water na die leefkamer,” vertel Jan. “Dié area is nou ons gunstelingdeel van die huis en tuin, en ons ontspan en onthaal graag hier.”

Gelukkig het Jan en John reeds toe hulle die erf gekoop het, verskeie bome en struike geplant wat danksy ’n boorgat oor die jare genoeg water kon kry dat hulle nou tot majestueuse skadubome gegroei het.

“Ons kon nie destyds dié bome en struike plant waar ons wou nie. Die meeste plekke waar ons wou grawe, was soliede klip!” lag Jan.“Ons moes maar plant waar die terrein dit toegelaat het. Dit was wel van die begin af ons idee om ’n groen oase om die huis te skep waar ons van die stadsgewoel kon ontsnap en die natuur kon geniet.”

Die bome is oorwegend inheems, soos witstinkhout (Celtis africana) en riviervaderlandswilg (Combretum erythrophyllum). Onder die uitheemse bome is daar karob (Ceratonia siliqua) en berkebome (Betula alba) wat in groot, geboude planthouers geplant moes word weens die rotsagtige grond; Jan hou veral van laasgenoemde se wit stamme. Konifere is ook aangeplant om privaatheid te skep van die omliggende huise wat hoër as hulle s’n is.

Tydens die herontwerp is heelparty plante hersien omdat die tuin nou meer skaduryk was; verskeie beelde en potte is ook ingebring om by die Toskaanse styl van die huis te pas.

John (links) en Jan in 1982 by die huis wat op die rotskoppie gebou word – toe nog met sy ononderbroke uitsig op die Magaliesberge.

Pienk vingerhoedjies en wit Delphiniums is van Jan en John se gunsteling-plante. Voor groei rooi Iresine en geel Plectranthusas afronding.

Die idee was om ’n informele tuin te skep – ons eie paradys. – Jan

Tuinkamers en verrassings

Tuinpaadjies van sandsteenkleurige teëls en handgekapte sandsteenblokke uit Clarens lei jou op ’n ontdekkingsreis deur die tuin. Daar is altesaam vyf afsonderlike “kamers”, elkeen met ’n unieke atmosfeer en uitsig oor die vallei.

“Ons idee was om areas te skep wat nie sigbaar van mekaar is nie – elkeen ’n plek waar jy kan ontspan,” vertel Jan. Verskeie verrassings-elemente sluit beelde, tuinboë, hangstoele uit ’n boom en selfs ’n bamboesbos in.

’n Bykomende voordeel van die onderskeie tuinkamers is dat jy nie die hele tuin met een oogopslag kan sien nie. Gevolglik lyk en voel die tuin aansienlik groter as wat dit werklik is.

‘Garden Queen’- en ligpienk ‘Garden Princess’-rose.
‘L’Aimant’-rose het ’n sterk geur en is ’n pragtige snyblom.

Die roostuin is “Memories” genoem, ter nagedagtenis aan al die geliefde mense en troeteldiere wat deel van Jan en John se lewe was.

Dié paadjie van sandsteenplaveiblokke by een van die onderste terrasse lei jou na die bamboesbos.

Die brons-arend is ’n kunswerk deur die bekende beeldhouer Dietmar Wiening. Die arend kyk uit op die waterval en dammetjie en is ’n fokuspunt as jy by die patio se trappe afstap.

Jan en John se tuinwenke

  • Beplan jou tuin sorgvuldig deur verskillende dele te identifiseer: voortuin, ontvangsdeel en onthaalareas, fokuspunte soos beelde, potte, waterfonteine en dammetjies, ’n groentetuin en ’n werkplek. Maak seker dié dele is funksioneel. Skets jou idees op papier en begin met jou uitleg.
  • Bou eers al die harde landskap-elemente soos terrasse, paadjies en geplaveide dele.
  • Installeer jou besproeiingstelsel voor jy begin plant en onthou om pype diep genoeg te lê dat jy dit nie met ’n tuinvurk sal beskadig nie.
  • Goeie grondvoorbereiding is noodsaaklik – maak seker jy werk genoeg kompos en kunsmis in.
  • Begin met struktuurplante soos bome en struike en voeg daarna jou een- en meerjariges by. 

‘Butterfly Kisses’ beloon jou dwarsdeur die seisoen met groot trosse van 25 tot45 enkelrose.

Plante wat werk

Skaduliewende plante soos vingerhoedjies, varkore, begonias, impatiëns, verskeie Plectranthusse, wilderabarber, krismisrose, asook verskeie varingspesies, is nuut aangeplant. “Dit is soms baie moeilik om onder bome te plant waar daar baie grondbedekkers en boomwortels groei,” vertel Jan.

“Ek maak gebruik van groot plastiekpotte wat ek in die grond versink en met kleurplante vul; dan hoef hul wortels nie met die boom s’n te kompeteer nie.”

Benewens die klein roostuin plant Jan en John ook kleurvolle plante in potte en plaas dit dan op strategiese plekke vir kleur in die skaduryke tuin.

Die tuin is van nature waterwys, danksy al die grondbedekkers en deklae. “Ons is in die gelukkige posisie om ’n boorgat te hê en ons gebruik ons besproeiingstelsel net as die tuin droog is,” verduidelik Jan. “Die baie skadu help natuurlik ook dat ons minder hoef nat te maak. Verder groepeer ons plante volgens hul waterbehoeftes, en spaar so ook water.”

Lesse wat Jan en John oor die jare geleer het, is om nooit teen die natuur nie, maar altyd saam met die natuur te werk, om plante op die regte plekke te plant volgens hulle son- of skaduvoorkeure, goeie grondvoorbereiding te doen en vooraf seker te maak hoe groot jou bome, struike en plante gaan groei.

“Ons geniet elke seisoen in ons tuin,” vertel Jan. “Ons put ook vreugde uit die verskeidenheid voëls, bye, vlinders en paddas wat hier woon – ons het selfs ’n byekorf in ons bamboesbos. Wat meer kan ’n mens vra?”

“Ons is veral baie lief vir die ‘Green Goddess’, want dis ’n uitstekende snyblom,” sê Jan.

’n Groepering van donkerpers en koper Josefskleed (Coleus) en veelkleurigeIresine maak ’n besonderse randakker.

Fuchsias skep ’n sprokiesagtige voorkoms met hul kleurvolle ballerina-blomme en vaar boonop goed in halfskaduwee.

Geharde gunsteling soos pienk madeliefies, krismisrose (wat Jan self gekweek het van ’n moederplant oorspronklik uit Engeland) en pers lobelias bly wenners in enige tuin.

Gunstelingplante

STRUIKE

Vingerhoedjie vaar baie goed in koelte en is ’n baie statige blom.

Krismisrose is een van die mooiste blomstruike wat jy in ’n skadutuin kan plant.

Fuchsia se blomme vertoon soos ballerinas en het van die sterkste kleure.

Delphinium is ’n uitstekende agtergrondplant vir die sonkolle.

Malvas is altyd ’n wenner in potte in volson.

VARINGS

Microlepia-spesies

Pteris cretica 

‘Albolineata

’Rumohra adiantiformis

Phlebodium

Dicksonia antarctica

ROSE

‘Garden Queen’

‘Garden Princess’

‘Rosafrica’

‘Rhapsody in Blue’- rankroos met sy koninklike bloupers kleur

KONTAK Garden World 011 957 2046