Wie woon hier? André en Elmarie van Niekerk
WAAR Paradyskloof, Stellenbosch
GROOTTE 500 m²
GRONDSOORT Hoofsaaklik klei

Toe Elmarie 26 jaar gelede by haar huis op Stellenbosch begin tuinmaak het, was water nie ’n probleem nie. Nou is dit.

“Ek het reeds in 2004, toe dit ook taamlik droog was hier in die Wes-Kaap, na ’n gryswaterstelsel begin kyk – sonder om iets daadwerkliks daaromtrent te doen. Maar in November 2016 het ek besef dat water nou regtig baie beperk gaan word as gevolg van die min reën die afgelope paar winters. Dié keer het ek nie op my laat wag nie en gryswater begin herwin,” vertel sy.

Aanvanklik het Elmarie die wasmasjien se water in ’n ou ysterbad opgevang. Die wasmasjien staan teen ’n buitemuur en sy kon maklik ’n aparte afvoerpunt agter die wasmasjien deur die muur laat insit om die water te herlei. Haar volgende plan was om ’n harde plastiektenk wat sy reeds gehad het, in die agterplaas te versink. Dié stap was nodig omdat Elmarie en André in ’n enkelverdiepinghuis woon en die pype waarmee sy voortaan al hul wasgoed- en stortwater wou herlei, genoeg van ’n val moes hê dat die water onder eie druk na die tenk sou vloei. ’n Pomp is aan die tenk se uitlaat verbind om water na die tuin te voer.

“Ná ’n paar maande het ons besef daar is heelwat onsuiwerhede in die water in die ondergrondse tenk en het ons ’n Ecogator-filter by die tenk se inlaat geïnstalleer. Dié filter hou enige vaste stowwe terug en moet gereeld skoongemaak word. Omdat opgeloste onsuiwerhede in staande water ’n teelaarde vir bakterieë is – wat tot slegte reuke lei – moet gryswater verkieslik binne 24 uur gebruik word.

“Ondanks die filter gebruik ek nie meer sprinkel-besproeiing nie, want daar bly steeds onsuiwerhede agter wat die klein spuitjies verstop. Ek verkies die gewone skilpadsproeiers wat aan verskillende krane in die stelsel gekoppel is en ek met die hand verskuif. Dit verg op die ou end minder onderhoud.”

Jy kan nie iets plant as jy nie eers beplan het hoe om dit nat te maak nie. – Elmarie
Installasie deur Simon Thompson

Kies die regte pomp vir jou behoeftes – daar is verskillende opsies. Dit kan ’n dompelpomp binne-in die tenk wees of ’n gewone pomp buite; in al twee gevalle kan dit met ’n vlotterskakelaar geaktiveer word om water na die tuin te gelei.

Ook reënwater

Elmarie het nog ’n tenk staangemaak waar dit reënwater van die dak af uit twee afvoergeute kan opvang. Dié water gebruik sy in dele van die tuin waar sy nie met haar gryswater kan bykom nie.

“Dié 2 500-litertenk is nie naastenby groot genoeg om al die geutwater te stoor nie. As jy regtig reënwater vir jou tuin wil opgaar, het jy ’n groter tenk – of ’n hele paar tenks – nodig, maar ons plek is te min. Die probleem in die Wes-Kaap is dat die meeste reën in die winter val. In die somer, wanneer jy water vir jou tuin nodig het, help so ’n tenk nie veel nie; daar is eenvoudig nie genoeg reënwater nie. Ek beskou dit dus as ’n noodmaatreël en net nog ’n manier om elke druppel water vir hergebruik op te vang. Van ons ander geute word weer na die gryswatertenk herlei en dan deur dié stelsel na die tuin gepomp.”

Met al haar waterslim planne floreer die tuin wat Elmarie destyds van nuuts af gemaak het toe daar nog net veld rondom hul erf was. “Hier was geen grensmure nie en ons het aanvanklik min plante gekoop, almal klein. Vandag is die witstinkhout, wat skaars ’n meter hoog was, ’n boom van oor die 10 meter. Ek het ook baie plante by my ma, vriendinne en my drie susters gekry. Hier is dahliabolle wat ek 25 jaar terug uit my ma se tuin gehaal het.”

Elmarie sê daar is plante wat nie die vorige somer oorleef het nie, maar dit is waarskynlik as gevolg van die minder water eerder as die grys- en geutwater wat sy gebruik. “Ek hou van my tuin en werk graag self daarin. Ek gaan nie dat ’n tekort aan water my keer nie!”

1. Klokkiesblomme 2. Waterwys woestynrosies gedy in potte. 3. Boslelies en geurige verbleikblomme verskaf kleur in die vroeë lente.

Gunstelinge
  • Viburnum (Viburnum tinus ‘Lucidum’) as skermplant teen grensmure.
  • Indiese meidoring (Raphiolepis x delacourii ‘Kruschenia’), ’n baie geharde struik wat in die son en skaduwee groei.
  • Oranjejasmyn (Murraya exotica); dié struik ruik heerlik en kan as heiningplant tot enige hoogte gesnoei word of agter in ’n bedding as groot struik groei.
  • Sterjasmyn (Trachelo-spermum jasminoides) is baie gehard as dit eers gevestig is. Dit dra ’n massa wit blommetjies in die lente en lyk mooi as klimplant of grondbedekker.
  • Boslelie (Clivia miniata). Dié inheemse plant is baie waterwys, verdeel maklik en gee van laat-winter af kleur in die skaduwee.
  • Agapante (Agapanthus praecox ‘Dwarf White’) vir wit blomme in die somer.

1. Elmarie se rose blom in oorvloed – hulle is duidelik tevrede met die gryswater! 2. Elmarie het jare terug haar wasmasjienwater in dié ou ysterbad pgevang vir gebruik in die tuin. Langs die swembad rank sterjasmyn (onder) wat in die lente oortrek is met massas blomme.

Elmarie se tuin- en waterwenke

  • Grondvoorbereiding en waterbeplanning moet eerste kom. Eers daarna kan jy begin plante koop.
  • Bestee meer tyd aan die beplanning van wat jy gaan plant en wat in jou tuin sal aard as in die kwekery self.
  • Selfs plante wat met min water kan klaarkom, moet in die Wes-Kaap liefs in die winter geplant word sodat hul wortelstelsels voor die somer kan vestig.
  • Moenie die grond gedurig losmaak nie; dit versteur die plante se wortelstelsels en laat vog verdamp.
  • Gooi ’n deklaag en moenie blare in die beddings ophark nie. Albei help om vog in die grond te behou.
  • Voed jou plante gereeld. Ek gebruik ’n organiese bemesting soos Bioganic van Atlantic Fertilisers. En as ek hoender- of perdemis in die hande kan kry, meng ek dit met my tuisgemaakte kompos. Hersirkuleer ook geskikte kombuisafval na ’n erdwurmplaas en maak jou eie kompos.
  • Kyk na die inhoud van waspoeier en die middels waarmee jy jou stort skoonmaak. Die algemene riglyn is produkte wat min of geen fosfate of natriumhipochloriet bevat; vermy ook wasgoedversagmiddels.

KONTAK Simon Thompson 082 451 2839, gryswater@gmail.com