Stokou bome het die hele buurt toegegroei; die huis het oor die jare in hoogte en breedte gegroei; en uit al die vertrekke op die boonste verdieping was ’n seer duim sigbaar: die motorhuisdak … en toe skep hulle ’n lafenis – ’n Marokkaanse hemeltuin!

Ontwerp-elemente

Die huiseienaar vertel: “Die reusagtige groen krone van akker-, palm- en wilgerbome het oor baie jare ons woonbuurt toegegroei, en in dié tyd het ons huis ook al hoe groter en hoër geword. Daarmee saam het die tuingrond teen ’n baie steil helling natuurlik dramaties gekrimp… en dan was daar die lelike motorhuisdak wat ons naderhand net nie meer kon ignoreer nie.”

Uiteindelik is ’n bouer ingeroep wat moes seker maak die tuin gaan nie die motorhuisdak laat knak nie. Die hele dakoppervlak is eers met waterdigte verf behandel en daarna met dik, swart plastiek bedek voordat die plaveiwerk kon begin. Goeie dreinering was ’n ander probleem, en verskeie dreineringsgate is aangebring met afvoerpype wat die water kon weglei.

Plaveisel: Die uitleg is eenvoudig gehou met plaveiblokke van sement wat geskei word deur klein, gladde spoelklippies in wit en ligte skakerings van grys en bruin.

Sementblokke: Waar die kant van die dak oop en gevaarlik was, is los sementblaaie regop vasgemessel om dit toe te maak.

Die lelike dak van die motorhuis reg by die ingang na die voordeur was uit elke kamervenster op die boonste verdieping sigbaar.

Die uitleg is eenvoudig met ’n Marokkaanse geurtjie. Plaveiblokke en klein, gladde spoelklippies vorm die vloeroppervlak. Sementblokke word ingespan in die dele waar nie duifgrys dakmure is nie om die rand van die tuin af te rond.

Kombuiskruie is in potte geplant.

05tdaktuine5

05tdaktuine3a

Die plante

• Suurlemoenbome: Die goedvesorgde lowergroen suurlemoenboompies lyk pragtig in potte en verskaf meer as genoeg vrugte vir die huishouding. Dit gee ook hier en daar skaduwee.

• ‘Just Joey’-snyrose is ook in potte geplant.

• Gesiggies en fyn, donkerblou lobelias verskaf kleur in die tuin en vir blompotte.

• Kombuiskruie en -groente soos salie, pietersielie, soetbasiliekruid, tiemie, origanum, seldery, slaai-blare en selfs kool is dig om die stamme van die suurlemoenbome geplant.

• Kaapse vergeet-my-nie’s (Plumbago ‘Royal Cape’), ’n inheemse plantsoort, versag die duifgrys mure.

• Digte aanplantings kombuiskruie groei dolgelukkig saam met suurlemoenbome in potte.

• Die duifgrys mure is met Kaapse vergeet-my-nie’s versag.

05tdaktuine2