Foto’s Sally Chance

WIE WOON HIER? Helen en Roy Cannon
WAAR Westville, KwaZulu-Natal
GROOTTE ± 5 000 m²
GRONDTIPE Ryk leemgrond

Al was daar op die erf net dorstige dennebome en ’n baie ou huis in ’n nabootsing van die Tudor-styl – geen inrit of tuin nie – het Helen en Roy Cannon 22 jaar gelede hul hart op dié eiendom verloor. “Ons was verlief op die hoë kranse waar ’n ongerepte oewer-woud die Palmietrivier wat deur die erf loop, omraam. Verder was dit maar ’n deurmekaarspul. Ons het van soveel van die dennebome as wat ons kon bekostig, ontslae geraak. Daarna het ons ’n stootskraper gehuur om ’n nuwe inrit te maak en die tuin se vlakke gelykgemaak,” vertel Helen.

“Aanvanklik was dit baie harde werk. Daar het niks onder die dennebome gegroei nie, dit was net kaal grond. Baie aande het ek tot laat in die tuin gewerk – dikwels met die inrit se sensor as enigste ligbron,” onthou sy.

Toe Helen hier in Westville begin tuinmaak het, het sy baie eksotiese plante gekweek. “Ses jaar later het die inheemse gogga my gebyt en het ’n nuwe wêreld vir my oopgegaan. Ons het die meeste van die dennebome wat nog op die erf was, geringeleer (’n strook bas om die stamme verwyder) om ook van hulle ontslae te raak.

“’n Paar het ons wel behou sodat die geelbekwoue, wolnekooievaars en kroonarende steeds daarin kon nesmaak. Hulle hou van hoë bome. Tussen die denne het ons inheemse bome geplant en op die woudvloer spoorsalies. Die onderbos van inheemse bome is ’n reusesukses en wemel van voëls. Ons het reeds 133 voëlspesies in die tuin getel – en dít in die hart van ’n voorstad.”

Hoewel sy deesdae hoofsaaklik inheems tuinmaak, sal sy nooit van haar groot versameling eksotiese plante afstand doen nie. “’n Vriend wat plante versamel het baie van hulle vir my gegee. Ek voel ek moet iets van alles in my tuin hê, maar het nie altyd genoeg plek vir al die plante wat my hart begeer nie.

“My jongste obsessie is skoenlapperplante. Ná ’n besoek van die tuinkenner Geoff Nichols was ek so geïnspireer dat ek ’n hele gedeelte net vir die skoenlappers aangeplant het.

“Vir my is tuinmaak soos ’n kunsvorm, ’n wonderlike palet van teksture en kleure om mee te werk. My ma het ’n pragtige plaastuin in Harare, Zimbabwe, gehad – dis waar my liefde vir tuinmaak vandaan kom. Dis vir my baie ontspannend en goeie oefening. Gelukkig verg my tuin deesdae heelwat minder werk as vroeër; alles is gevestig, die onkruid is minder en die inheemse woud sorg vir homself.”

Ons gebruik geen gifstowwe nie; ons maak staat op die tarentale om van die slakke ontslae te raak. – Helen

Inheems én eksoties

Helen kombineer plante van oraloor met groot sukses in haar tuin:

“Die eksotiese deel van die tuin is skaduryk en hier kweek ek onder meer bromelias, varings, inheemse broodbome, Anthuriums en begonias. Hulle is op hul mooiste in die somer. Net onder die swembad is ’n baie skuins helling waar dit weer baie warm en sonnig is. Die afgelope paar jaar het ons aalwyne, persbesem (Polygala virgata), krans-rooiwortel (Bulbine natalensis) en gemmerbos (Tetradenia riparia) daar geplant – laasgenoemde blom meestal in die winter. Met al die aalwyne is die suikerbekkies wat die tuin besoek soveel meer; hulle vier behoorlik fees in die winter! Die helderkleurige aalwyne lyk pragtig teen die wit gemmerbos wat weer uitstaan teen die donkerder kleure van die oewerwoud.

“In my woudtuin onder die dak van inheemse bome groei heelparty spoorsalies (Plectranthus), wit bosklokkies (Asystasia gangetica), pienk hibiskus (Hibiscus pedunculatus) en die klein, fyn wit blommetjie Rhinacanthus gracilis. Spoorsalies en wit bosklokkies is van die beste skoenlapper-plante wat jy kan hê. Dié inheemse bostuin verg geen onderhoud nie.”

1. ’n Indrukwekkende boomaalwyn (Aloidendron barberae) tussen ’n kransaalwyn (Aloe arborescens) en ’n wit gemmerbos (Tetradenia riparia); agter laasgenoemde steek ’n geel-en-oranje kraalmelkbos (Euphorbia tirucalli) uit. 2. ’n Malse bedding waar Dieffenbachia, Dracaena, reuse-nooienshaarvarings, bromelias en palms floreer.

Helen se gunstelinge
  • Al my verskillende Anthuriums, veral die konings-anthurium (Anthurium veitchii). Dis asemrowend! Hulle vra so min aandag.
  • ’n Verskeidenheid orgideë wat ek oral in die tuin aan bome vasmaak. Dit blom met baie min moeite vir maande aaneen.
  • Reuse-nooienshaarvaring (Adiantum trapeziforme)
  • Bromelias (Bromeliads) met hul ongelooflike kleure. Ek hou veral van die nuwe Vriesea-hibriede. Mense dink bromelias lok muskiete aangesien water in die middel van die plant versamel, maar ek spoel die ou water uit en voorkom so dat die muskiete daarin broei. Bromelias is baie gehard – selfs die molle hou verby!
  • Aalwyne. Ek het meer as twintig soorte geplant, maar sommige hou nie van die klam toestande in Durban nie. Met leer en probeer het ek uitgevind wat hier werk.
  • Ligpers en wit gemmerbos (Tetradenia riparia) wat ’n oorvloed bye en insekte lok. Dit aard goed in rypvrye gebiede.
  • Broodbome (Encephalartos-spesies) vir hul treffende vorm.
  • Spoorsalies (Plectranthus) wat ná die eerste reën weer nuwe lewe kry en vir kleur in die skaduwee sorg..
  • Die Notsung (Halleria lucida) verstom my elke keer. Dié inheemse boom is een van die beste bronne van nektar en vrugte. Wanneer dit blom, is dit oortrek van voëls en insekte.
Tuinwenke
  • As jy ’n nuwe tuin begin, ry deur jou woonbuurt en kyk wat werk in ander tuine. Kies plante wat in jou omgewing aard. Ek het al baie geld gemors deur plante te koop wat van kouer dele ingebring is.
  • As jou geld en tyd min is, fokus daarop om jou sypaadjie en ingang mooi te maak, veral die deel rondom jou voordeur.
  • Deel plante met vriende en moenie skaam wees om ’n steggie te vra as jy iets moois sien nie. Ek sou nooit dié verskeidenheid plante gehad het as dit nie vir die vrygewigheid van ander tuiniers was nie.
  • Die meeste plante is maklik om te vermeerder. Koop een plant en maak soveel steggies as wat jy kan daarvan (gebruik hormoonpoeier).
  • Inheemse plante hou ook van liefde en aandag; net omdat ’n plant inheems is, beteken dit nie jy kan hom maar verwaarloos nie.
  • Plant bome wat voëls lok – dit gee lewe aan jou tuin.
  • Onewe getalle gee my tuin ’n meer informele voorkoms en jy sien die plante as groep dadelik raak. In ’n formele tuin sal ek gelyke getalle bymekaar plant vir simmetrie.

Die Palmietrivier, wat deur die onderste deel van die tuin vloei, het al ’n hele paar keer sy walle oorstroom. Nadat Helen baie clivias so verloor het, maak sy nie meer tot teen die rivier tuin nie, maar sorg Moeder Natuur vir ’n tuin van wilde-herfsboslelies (Clivia gardenii), Streptocarpus, bos-balseminie (Impatiens hochstetteri), ’n verskeidenheid varings en bome. Verskeie plante wat van die son hou verskaf kontras en tekstuur teen dié helling. Die wit gemmerbos (Tetradenia riparia) met sy delikate blommetjies gee kleur in die winter saam met die bitteraalwyn (Aloe ferox), grysaalwyn (Aloe chabaudii) en krans-rooiwortel (Bulbine natalensis).

Bome vir voëls en vlermuise

Helen sê die meeste bome in haar tuin is deur dié gevleueldes gesaai! Hier is haar gunstelinge:

  • Wildepopulier (Macaranga capensis) – ’n vinnige groeier en gunsteling onder voëls en boompaddas.
  • Besem-trosvy (Ficus sur) – die vye lok vrugtevretende voëls, ape en vlermuise.
  • Wildepruim (Harpephyllum caffrum) groei taamlik vinnig; ape en voëls is lief daarvoor.
  • Natalse wildepiesang (Strelitzia nicolai) lok voëls, ape en boompaddas.
  • Grootblaardrakeboom (Dracaena aletriformis) – die geurigste boom in die woud en gasheer vir springertjie-skoenlappers. “Ek het ook al gesien dat die Nataljanfrederik in hom nesmaak.”
  • Bospaddaboom (Tabernaemontana ventricosa) – ape en voëls vreet graag sy vrugte.
  • Die notsung (Halleria lucida) verstom my elke keer. Dié inheemse boom is een van die beste bronne van nektar en vrugte. Wanneer dit blom, is dit oortrek van voëls en insekte. 
Voëls en skoenlappers wat ons nooit voorheen gesien het nie, is nou permanente inwoners, danksy al die plante wat vrugte en nektar verskaf. – Helen
Plante vir skoenlappers

Verskillende gasheerplante lok verskillende skoenlappers:

  • Witysterhout (Vepris lanceolata): groen swaelstert, na-aper-swaelstert en lemoenvlinder
  • Duinevalstaaibos (Allophylus natalensis): pêrel-dubbelstert
  • Lintbos (Hypoestes aristata): blou-, geel- en Natal-gesiggie
  • Afrikaanse hondsroos (Xylotheca kraussiana): rooibokkierooitjie en bloed-rooitjie
  • Aarblom-spoorsalie (Plectranthus spicatus): rooi-en-bloublaarvlerk
  • Wit-bosklokkies (Asystasia gangetica): perlemoenskoenlapper en blouglans