Die nuwe huis is in 1994 in die Kaaps-Hollandse styl gebou om by die oorspronklike opstal te pas.
Justine Siebrits

Vir Justine Siebrits moet dit mooi wees as sy by ’n venster uitkyk of by ’n deur uitloop. So is dit dan ook op haar en haar man, Andries, se plaas, Keerweder. Die twee plaashuise is omring met mooi tuine en het ’n uitsig op ’n pragtige pruimboord, so te sê reg langs die tuin.

Dié familieplaas is een van die oudstes in die Franschhoek-vallei. Die plaas lê in die boonste hoek van die vallei, vandaar die naam Keerweder, wat “omdraai” beteken. Andries en Justine woon sedert 1993 hier; Andries boer en Justine maak tuin. Hul kinders, Francois, Carina van der Linde en Justus, is al groot en uit die huis.

“Ek is baie lief vir ’n mooi tuin. Van die plante in die ouer deel groei al hier van voor my skoonouers se tyd,” vertel sy. “Hier is ou kamelias, magnolias, ’n lieflike prag-van-Indië (Lagerstroemia indica) en ons is geseën met reuse-akkerbome van oor die 200 jaar oud. Ons praat sommer van die ou tuin – die een om die oorspronklike plaashuis wat uit 1830 dateer – en die nuwe tuin – die deel rondom ons huis wat in 1994 gebou is. Albei huise is in die Kaaps-Hollandse boustyl.”

In die ou tuin is die uitleg formeel, met wit muurtjies, baksteenpaadjies en ’n roostuin. In die nuwer deel rondom Justine en Andries se huis is die tuin meer informeel, met natuurlike beplanting, gemengde blombeddings en interessante visdamme.

“Ek het destyds hulp gekry met die aanvanklike beplanning van die nuwe deel. Van daar het ons weggespring en die tuin ontwikkel tot wat dit vandag is. Soos seker met alle tuine, is daar gedurig verandering. Ons het dit al heelwat vergroot en baie nuwe bome geplant,” verduidelik sy. “Die grasperke was eers heelwat groter, met beddings rondom; maar namate die bome gegroei het, het die gras daaronder begin doodgaan as gevolg van te min son. Die gras is uitgehaal en nou is daar skadutuine met onder meer krismisrose, boslelies, boomvarings en geraamteplante.”

Ek kyk by kwekerye uit vir potjies met ’n paar plantjies in. By die huis verdeel ons dit en so kry ek baie waarde vir my geld! – Justine
/
‘Iceberg’-rose en agapante blom oorvloedig in die lente en somer in die tuin met sy fontein reg voor die nuwe plaashuis.
Vroeglente is die pruimboord oortrek met bloeisels. Dit vorm ’n prentjie­mooi agtergrond vir Justine se tuin.
’n Houtbruggie vorm deel van ’n paadjie wat deur die skadutuin kronkel.

Moerastuin

Wanneer Justine ’n bedding beplan, het sy ’n goeie idee van wat sy wil doen, maar sy maak nie akkurate sketse van die beoogde resultaat of lysies van presies hoeveel plante sy nodig het nie. By die kwekery koop sy wat sy dink sy gaan gebruik. Tuis word dit uitgepak en dan skuif Justine haar aankope rond tot sy tevrede is met die uitleg. Sy stap ook gereeld saam met haar kinders deur die tuin en hulle gee baie gou vir haar raad oor hoe sy ’n bedding moet verander en wat sy waar moet plant.

Hoewel dele van die tuin wonderlike leemgrond het, is daar ook gedeeltes met potklei wat sopnat bly. Maar Justine het ’n plan bedink. Sy het ’n “moerastuin” met ’n visdam gemaak – hier groei onder meer waterliewende Louisiana-irisse, geraamteplante (Monstera deliciosa) en Cordylines. Met verloop van tyd het sy ook tot teen die plaasdam se wal, wat aan die tuin grens, begin tuinmaak. Sy hou die struike hier laag en rond gesnoei sodat ’n mens die pragtige uitsig op die tuin en die pruimboord, wat vroeg in die lente oortrek is met bloeisels, van die damwal af kan geniet.

Vir Justine is haar tuin terapeuties. “Albei kante van die familie is lief vir plante en blomme. My man het self ’n wonderlike hand met ’n plant; hy kweek ’n groot verskeidenheid Cymbidium-orgideë, amarillisse, aalwyne en boslelies. Hy het ook al massas aronskelke geplant, maar ongelukkig smul die ystervarke daaraan. Ek is regtig ’n gelukkige vrou. Wat meer wil jy hê met so ’n tuin en ’n man wat gereeld arms vol blomme huis toe bring?”

Die formele roostuin

Langs die swembad is die formele roostuin met sowat 200 roosbome. Dié tuin is met baksteen-paadjies verdeel in vier beddings – elk in sy eie kleur: rooi, geel en oranje, wit en pienk (sien skets onder). Teen en oor die prieel in die middelste deel van die roostuin groei rank-‘Icebergs’ en pienk en wit bougainvilleas, terwyl ’n ‘Crépuscule’-roos die bankie aan die een kant omraam.

Justine vertel die rose het in die somer erg gebrand. Hulle het besef die weerkaatsing van die hoë, witgeverfde muur tussen die swembad en die roostuin is die probleem. Deur eenvoudig die muur in ’n ander kleur te verf, is die probleem opgelos.

“Ek is baie lief vir rose, maar hulle vra baie aandag. Ons volg ’n spuitprogram en sny gereeld dooie knoppe uit. Blaarvoeding word as deel van die spuitprogram toegedien. Die rose kry ook op ’n gereelde basis 8:1:5-bemesting en een keer per jaar kompos,” vertel sy.

Buiten die formele roostuin het sy ook heelwat ‘Icebergs’ elders in die tuin.

Rooslys
  1. Rooi ‘Double Delight’ ‘Francois Krige’ ‘Ingrid Bergman’ ‘Cora Marie’ ‘Papa Meilland’ ‘Red Devil’
  2. Geel en oranje ‘Flamingo’ ‘Germiston Gold’ ‘Out of Africa’ ‘Harmonie'
  3. Wit ‘Virgo’ ‘Green Cream’ ‘Pascali’ ‘Porcelain’ ‘Bride’s Dream’
  4. Pienk ‘Duet’ ‘Burning Sky’ ‘Esther Geldenhuys’ ‘Nightingale’
  5. ‘South Africa’
  6. ‘My Granny’ en ‘Pink Sunsation’
  7. en 8. ‘My Granny’, ‘Pink Sunsation’ en ‘Mister Lincoln’
Die
Justine maak graag tuin onder die ou akkerbome. Hier groei skaduliewende plante soos asaleas, geraamteplante en Cordylines.
‘Iceberg’ en ‘South Africa’ is van my gunsteling-floribundarose. Hulle blom aanhoudend en word nie eintlik siek nie. Plant hulle in massas, dis altyd pragtig! – Justine

Gunstelinge op Keerweder

  • Rose, veral ‘Double Delight’, ‘Icebergs’ en ‘South Africa’
  • Daglelies (Hemerocallis-hibriede)
  • Agapante (Agapanthus)
  • Boomvarings (Cyathea dregei en C. australis)
  • Aronskelke (Zantedeschia aethiopica)
  • Asaleas (Rhododendron-spesies)
  • Krismisrose (Hydrangea-spesies)
  • Bosveronica (Hebe)
  • Ligularia (’n ouwêreldse plant waarna Justine baie lank gesoek het!)