Foto’s Francois Oberholster

WIE WOON HIER?

Jaco en Sophia van Heerden en hul kinders, Sebastian (9) en Jeanette (7)

WAAR Murraysburg

GROOTTE 3 800 m² (rose) en 3 780 m² (rose en snyblomme)

GRONDSOORT Leem

Sophia van Heerden van Murraysburg in die Karoo skrik nie vir moue oprol nie. Dis dié dat sy in minder as drie jaar meer as 10 000 roosbome en rye vol eenjarige blomplante op voorheen kaal erwe in hierdie warm Karoo-dorp aan die groei kon kry.

“Dit was harde werk,” vertel sy. “Aan die begin het ek alles self gedoen. Die roosbome geplant, dit bemes, gespuit, rose gepluk en dit in bosse opgemaak. Menige keer het ek tot watter tyd in die nag nog gewerk; daar was net te min ure in die dag om alles gedoen te kry. Namate my besigheid uitgebrei het, het ek mense gekry om my te help.”

Sophia en Jaco woon sedert 2009 in die Murraysburg-distrik – aanvanklik op ’n plaas buite die dorp. Dit is waar sy haar eerste roos, ’n ‘Just Joey’, buite haar kamervenster geplant het. “Jaco wou ’n boom plant, maar die grond was so hard hy moes ’n hamerboor gebruik om ’n gat te maak. En toe hy die gat vol water maak, het dit twee dae geneem voor al die water weggesyfer het,” onthou Sophia.

“Hy moes goeie grond inry en die grond behoorlik bewerk voor ek my rose kon plant, maar my plaastuin het later 500 roosbome gehad. “Ek was dolverlief op die plaaslewe en was aanvanklik in sak en as toe ons in Maart 2017 dorp toe trek. Ons het ’n bouvallige huis op ’n groot erf vol bourommel, dooie bome en onkruid gekoop. Dit was in daardie stadium al wat in die dorp beskikbaar was. Ek het geweet ek sal iets moet kry om my in die dorp besig te hou, en om rose te plant was my eerste gedagte. Dis hier waar my blombesigheid posgevat het.” 

Murraysburg het gelukkig baie water en ek gebruik grootliks leiwater om my rose en blomme mee nat te maak. – Sophia

Grondwerk

Sophia het uitgewerk dat sy sowat 5 000 roosbome nodig sou hê om die erf vol te plant. Jaco het haar gehelp om die eerste 1 000 rose te koop, op voorwaarde dat dié blomme hulself moet betaal.

“Ek het besef ek kan nie net plant wat vir my mooi is nie en het begin navorsing doen oor rose met ’n goeie vaaslewe en lang stele wat ideaal is om te pluk. Voor ek kon plant, moes ons die erf met behulp van ’n trekker en masjiengraaf deeglik skoonmaak om van al die rommel en dooie bome en struike ontslae te raak. Daar het tot stukke sinkplaat, glas en ou geute onder die grond uitgekom. Die onkruid is doodgespuit en die grond goed voorberei met perdemis, kompos en baie beenmeel voor ek kon begin plant. In Februarie 2018 het ek my eerste bos rose verkoop.”

Aanvanklik het Sophia net aan plaaslike kliënte blomme verskaf. Met verloop van tyd het mense van omringende dorpe soos Graaff-Reinet, Beaufort-Wes en De Aar begin bel en blomme bestel. Sy het op ’n tweede erf in die dorp en op ’n plaas wat Jaco huur nog sowat 8 000 rose geplant, en ook begin snyblomme kweek – jakobregoppe, kosmos, dahlias, pronkertjies, sonneblomme en leeubekkies. Vandag verskaf Sophia blomme aan bloemiste en bruide landwyd en aan winkels en gastehuise in die omgewing.  

[Maak self so]

Dis maklik genoeg om ’n bedding vir snyblomme aan te lê. Volg net Sophia se raad:

Saai- en planttyd Saai van Oktober tot Januarie somerblomme soos jakobregoppe, kosmos, koringblomme en sonneblomme. Van Maart tot Mei kom papawers, ridderspore, pronkertjies, vingerhoedjies en leeubekkies aan die beurt; Sophia plant in dié tyd ook haar lentebolle.

Grondvoorbereiding Maak die bedding goed en diep los met ’n tuinvurk en werk baie kompos en beenmeel in. Die grond moet ook goed kan dreineer. Maak dit een of twee keer deeglik nat voor jy saai. As die water te lank staan voor dit intrek, is jou dreinering te swak. Indien kleigrond die oorsaak is, verwyder soveel moontlik daarvan en werk baie kompos by die bedding in.

Saai en plant Sophia sê die meeste saad kan direk in die bedding gesaai word; dis nie nodig om dit eers in saadkassies te saai en later oor te plant nie. Baie mense maak die fout om saad en bolle te diep of te vlak te saai en te plant. ’n Goeie riglyn is om te kyk na die grootte van die saad; plant dit dan twee keer so diep soos die saadjie se grootte. Saai fyn sade soos dié van papawers en vingerhoedjies net so bo-op die losgemaakte grond en hark dit liggies met ’n tuinhark toe. Week pronkertjiesaad die aand voor jy dit wil saai in water; dit maak die saaddoppie sagter. Saai blomme wat hoër groei, soos jakobregoppe, agtertoe in die bedding en dié wat korter is, soos koringblomme, in die middel of voorlangs. Die hoogte van die volgroeide plant word agterop die saadpakkie aangegee. Vir bolle, lees op die pakkie hoe diep jy dit moet plant.

Kos en water Hou die bedding klam. Sodra die saailinge goed gevestig is kan jy minder water begin gee. Sophia gee haar plante een keer per maand ’n blaarvoeding soos Seagro of Nitrosol. “Ek gebruik ook produkte van Neutrog en Atlantic Fertilizer in die beddings en wissel die twee gereeld af. As jou plante gespuit moet word, gebruik verkieslik ’n organiese spuitstof.”

Aanvanklik het Sophia al haar saad gekoop. Deesdae oes sy soveel moontlik self. “Ek het die afgelope seisoen genoeg saad van my blomme geoes dat ek binnekort my eie saadreeks wil bekendstel,” vertel sy. “Ek stoor die saad wat ek oes in voersakke wat baie lug deurlaat en dan hang ek dit aan die balke in die stoorkamer sodat die muise dit nie vreet nie! Ek skryf op elke sak presies wat daarin is – watter soort blom, sowel as die kleur.” Sy sê die saad moet heeltemal droog wees voor dit gebêre word, anders muf dit en kan dit nie gebruik word nie. “Oes jou saad aan die einde van die blomseisoen. Die meeste eenjariges se saad is maklik om te oes – sny die blomkoppe af sodra dit dood is en bêre dit in ’n houer soos ’n papiersak op ’n droë plek om volgende seisoen weer te saai.”

‘Hyde Park’-rose

Dahlia

Kosmos

Sophia se staatmakers in die besigheid is Willem Steyn, Simba Mutizira en Hezron Thembo (nie op die foto nie); Shaun Delport (heel regs) help met die aflewerings.

[Rose in die Karoo]

Al is dit droog, aard rose goed in die Karoo. As jy dit goed versorg, kan jy van Oktober tot Mei rose hê om te pluk. Dis hoe Sophia maak:

• Plant rose in die herfs (Maart–April) of lente (September–Oktober). “Ek vind rose wat in die herfs geplant word, groei baie goed. Dit is nog warm genoeg om ’n goeie wortelstelsel te vestig, maar koel genoeg om nie te brand nie.” Plant dit in ’n gat van 50 x 50 cm gevul met komposryke grond, beenmeel en superfosfaat. Maak die roos dadelik diep nat. Bedek die grond om die roos met ’n deklaag van sowat 10cm om dit koel en langer klam te hou. “Ek gebruik kaf hiervoor,” vertel Sophia.

• Die water in die Karoo is ryk aan kalk en harde minerale wat die blare kan brand en ’n ondeurdringbare lagie daarop vorm. Moet dus nooit die rose van bo af natmaak nie. Drupbesproeiing op grondvlak werk goed. Gee in die somer twee tot drie keer per week goed water, en een keer per week in die winter. Dit kan wissel afhangende van jou grondtipe.

• Omdat die Karoo so laat nog ryp kry, is snoeityd nie voor 25 Julie nie en nie later as die laaste week in Augustus nie. Spuit die rose direk ná dit gesnoei is met kalkswael, en herhaal ’n week later. Moet dit nie hiermee spuit as daar reeds blare aan die plant is nie.

• Wees op die uitkyk vir peste en plae. “Ek spuit in die groeiseisoen een keer per week ’n swamdoder en gebruik net insekdoders as ek sien daar is ’n plaag.” Sy raai mense ook aan om sover moontlik organiese insekdoders wat by-vriendelik is, te kies.

• Rose spog sowat elke 38 dae met ’n opwelling van nuwe blomme. Sny die roosknoppies af om nuwe knoppies te vorm as jy wil hê jou rose moet in ’n later stadium vir ’n bepaalde geleentheid mooi wees.

Emmers vol rose – rooi ‘Belle Rouge’, ‘Savlu’, ‘Cora Marie’ en ‘Avon’; ‘White O’Hara’, en liggeel ‘St Dunstan’s Centenary’ – en bosse papierblomme staan gereed vir aflewering.

KONTAK Sophia’s Roses