Foto’s Elza Cooper

WIE WOON HIER?

Rocco de Villiers en Clive van den Berg en hul honde Kleintjie (Ierse korthaar-terriër), Lochner en Bossie (Skotse terriërs)

WAAR Parktown Ridge, Johannesburg

GROOTTE VAN ERF 2 000 m²

GRONDSOORT Klip

Die liggroen blare van ’n beesklou (Bauhinia natalensis) kontrasteer pragtig met die kruipvy (Ficus pumila) teen die ou klipmure. Clivias en seeroogblommetjies (Hypoestes aristata) floreer langs die paadjie.

Hoewel die tuin meestal ’n informele voorkoms het, soos dié beddings langs ’n klippaadjie, hou Rocco ook van meer formele tuinelemente, soos vormgesnoeide struike. In dié tuin is blousyselbos (Plumbago), Kaapse kanferfoelie (Tecomaria capensis) en beesklou (Bauhinia natalensis) voorbeelde daarvan. Hy’s ook baie opgewonde oor die eerste appelkoos- boom wat hy geëspalieer het volgens die tradisionele metode om ’n houtagtige plant in ’n tweedimensionele formele patroon op te lei.

Ek neem heeltyd plantjies af vir my Instagram. Mense is mal daaroor. Dan stuur hulle weer foto’s van húlle plante. – Rocco

Plectranthus ‘Mona Lavender’ sorg vir ’n lieflike uitsig vanuit Rocco se musiek- kamer, waar hy dikwels saam met sy orkes oefen. “Die vensterbank is laag genoeg dat die honde kan ontsnap wanneer die musiek vir hulle te veel raak,” skerts Rocco.

Salvia leucantha blom op sy mooiste in die laatsomer en herfs.

Die pianis en vermaaklikheidskunstenaar Rocco de Villiers en die beeldhouer Clive van den Berg se erfenishuis in Parktown, Johannesburg, spog met ’n fabelagtige tuin met trappies, muurtjies en sjarmante geheime hoekies. Maar om so ’n tuin aan die gang te hou as jou huis op ’n rots gebou is, verg kennis, liefde en voortdurende beplanning. Die gerespekteerde Britse argitek Robert Howden het die woning, Huis Howden, ontwerp en in 1913 voltooi. Rocco-hulle het die eiendom in 2001 gekoop.

Hulle vertel die tuin was destyds ’n rampgebied. “Dit was verskriklik. Daar was lelike teëls en plantjies wat desperaat was vir water. Ander het weer te veel water gekry. Die vorige eienaars het als maar gedienstig en gedwee natgegooi, of dit nou doodgaan of nie. Dit was bloot ’n ritueel.”

Maar onder die ooglopende verwaarlosing was spreekwoordelike goud versteek wat ’n ywerige tuinier se oë soos die Randlords van ouds s’n sou laat blink: Al die oorspronklike klippaadjies en -tuinmuurtjies rondom die geskiedkundige huis het behoue gebly.

“Daar was ’n baie goeie basis, wat fantasties was,” sê Rocco. “As jy kyk na die klipwerk en hoe dit gedoen is, is dit baie dieselfde as die huis s’n. Dit was immers Howden se persoonlike woning. Met ou huise soos hierdie kom jy baie gou agter hoe ongelooflik die vakmanskap van die ou klipmesselaars was. Die kwaliteit is onverbeterlik.”

Die tuin is opgeruim en toe beplant met inheemse grasse van reg oor die land. “Clive weet van tuine,” vertel Rocco. “Hy het ’n passie vir plante en hy weet wat hy doen.”

Maar sowat agt jaar later was dit tyd vir verandering. “Ek het vir Clive gesê hy moet vir ons ’n tuin met die gevoel van ’n Engelse kothuistuin maak, maar ek wil deel van die proses wees, want ek wil ook leer van plante.”

Clive het die uitdaging aanvaar, en deesdae is Huis Howden se tuin ’n lieflike mengelmoes soos iets uit die Engelse platteland, maar met meestal inheemse plante. “Dis beplan om deurmekaar te lyk,” sê Rocco. “Soos die bed hair-haarstyle van die 1990’s. Dit lyk natuurlik, maar dit het ure geneem om dit so te kry.”

Vlak grond

Hoewel die tuin se wilde voorkoms beplan is, speel die ligging van die erf ’n groot rol. “Wat jy moet besef van hierdie tuin is dat ons op ’n klipkop bly. Die hoeveelheid bruikbare grond waarin ons kan plant, is minimaal en ons moes oor 20 jaar heelwat grond bywerk,” vertel Rocco. “Van die beddings is net holtes wat tussen die rotse gegrawe is. Ons het van die begin af besef jy kan nie sommer enige ding hier insit nie, die grond is te vlak.”

Die bestaande terrasse en klipmure teen die skuinste in die agtertuin is reggeruk, sodat dit in Rocco se woorde ’n look het en nie net soos ’n verwaarloosde park lyk nie. “Maar in die hoogsomer, wanneer dit baie groen is, lyk die agtertuin so ’n bietjie soos ’n woud wat ons teen ’n helling aangelê het. “En hoewel dit deeglik beplan is, was dit deels ook ’n gelukskoot,” sê hy. “Dis maar hoe jy dit hier moet doen...” 

[Klip as tuintreffer]

John de Jager, die eienaar van Stone Age op Klapmuts, deel sy wenke as jy natuurlike klip om jou huis wil gebruik:

• Klipkeuse hang af van persoonlike smaak, sê hy. “Ons meng dikwels verskillende soorte klip om verskillende teksture en kleure te verkry. Verskillende kleure sement kan vir die voeë tussen die klip gebruik word en soms sal ons die klip selfs verf.”

• Sandsteen is ’n baie goeie keuse vir loopvlakke aangesien dit nie glad is wanneer dit nat word nie. Dit bak ook nie so erg warm in die son nie.

• Donker klip op vloere buite kan baie warm raak in die somerson. Kies daarom oordeelkundig en hou in gedagte hoeveel direkte son die bepaalde deel sal kry.

• Wees versigtig om leiklip naby of in water te gebruik, want dit disintegreer op die lang duur.

KONTAK 021 875 5604, stonemasons.co.za

Planne met water

Omdat die tuin op ’n kliprif aangelê is, droog dit gou uit. Die grond is vlak, daarom word water nie diep gestoor nie en kan jy ook nie hier vir water boor nie.

Rocco erken dat hul waterrekening nogal hoog is, maar hulle doen hul bes om water so doeltreffend moontlik aan te wend. “Ons het baie, baie goed geleer hoe om elke druppel te gebruik – tot die gesmelte ys vir my whisky. Ons gaan keer altyd die ysbak uit op ’n plantjie wat dit nodig het.” Oor die erf boonop skuins is, het hulle baie moeite gedoen om te keer dat die water wat hulle wel gooi, nie bloot bult-af verdwyn nie.

“Ons het allerhande truuks, soos om klippe binne die beddings te pak sodat als nie wegspoel wanneer dit reën nie – nes jy ’n buffer aan die binnekant van ’n damwal sou maak.” Hulle maak dié walletjies meer waterdig deur dit met stukke verrotte hout uit die tuin en selfs saagsels te bedek. “Dis ’n lekker manier om natuurlike materiaal te herwin,” verduidelik Rocco.

Die twee het ook besluit om die huis se geute af te haal sodat reënwater langs die huis kan afloop na voortjies wat dit dan na die beddings lei. “Daar is ander maniere, soos om tenks te hê, maar ons water loop van nature na die tuin. “Dis nogal ’n storie, maar ek dink ons het dit nou onder die knie. Sodra jy die hang daarvan kry, dan werk dit. Ons ken die kontoere en waar die water heen gaan loop.”

Persoonlike waarde

Rocco glo dat tuinmaak sáám met die natuur, eerder as daarteen, moet gebeur. Reeds op universiteit het hy die boeke van die Britse tuinboupionier Gertrude Jekyll (1843–1932) gelees. In plaas van stywe, Victoriaanse ontwerpe het sy die tuinbouwêreld op sy kop gekeer met haar “plantprente” – wat sy “pretty incidents” genoem het – deur die natuurlike tekstuur, vorm en kleur van plante en blomme te gebruik.

“Op skool was dit altyd vir my ’n vreemde ding dat tuine so pynlik netjies was. Dit het nog altyd gevoel of jy die plante straf. “As die blare tussen die plantjies lê, wil jy mos hê dit moet teruggaan in die grond in sodat dit kompos kan word. Dit maak die grond gesond sodat die plante in die volgende seisoen kan floreer, pleks dat als opgehark en weggegooi word.”

Rocco sê hy hou van found objects in ’n tuin. “Daar moet ’n persoonlike rede wees hoekom jy goed in jou tuin uitstal. Amper soos die foto’s wat jy op jou klavier of lessenaar sou sit. Dis iets wat vir jou belangrik is, betekenis het.

“As ek iets raakloop waarvan ek hou, sit ek dit graag in die tuin. Mettertyd groei dit ’n bietjie toe; dit kry ’n lagie mos. En dan word dit ’n besonderse objek waaroor mense jou gaan uitvra. En dan kan jy die storie vertel. As hulle aanvoel dat dit persoonlik is, kan dit nie kitsch of kômmin wees nie, want dan het dit betekenis,” verduidelik hy. “Hoe ouer ek word, hoe belangriker is dit vir my dat goed persoonlike waarde het.”  

Rocco en Clive het kort nadat hulle die eiendom gekoop het die swembad met swart Marblite donkerder gemaak. “Ons het gevoel dit pas beter by die huis,” verduidelik Rocco. “En as hy so ’n bietjie vuil is, sien jy dit nie.” Hulle oorweeg deesdae ander opsies vir die swembad aangesien dit nie behoorlik benut word nie. “As ons dit wel gebruik, moet ons chloor ingooi. Ek hou nie daarvan nie; dit voel of ek bydra tot die gat in die osoonlaag. Ek het navorsing begin doen en oorweeg dit sterk om die bad in ’n inheemse visdam te omskep.”

Die Afrika-kleipot is een van twee wat Rocco heel onder in die tuin ontdek het. “Ek weet nie hoe dit daar gekom het nie, maar dis vir my kosbaar.”

Clive se assistent, Hans Forster, kweek bonsais. Hy stal ’n deel van sy versameling met heelparty inheemse boomsoorte uit op ’n stellasie wat hy pasgemaak het vir die trappe.

Rocco is mal oor sy klein potjies met vetplante, blombolle (soos freesias) en vrolike kappertjies. “Dit voel vir my homely. Ek kies die potjies mooi. Ek het my cue gevat van eenvoudige terracotta-potte. Ek glo dat al die potjies min of meer eenders moet lyk. Dis soos wanneer ek my show doen. As ek die band aantrek sê ek nie kom soos jy wil nie. Ek laat almal byvoorbeeld swart aantrek; dan lyk dit soos ’n idee en nie soos ’n fout nie. Daar is ’n draad wat daardeur loop.”

Barbertonse madeliefies

Kleintjie, die Ierse korthaar-terriër.

Eintlik is dit Clive wat al die krediet vir die tuin moet kry. Wat ek geleer het en my liefde vir tuinmaak kom van hom. – Rocco

Kraanvoëlblom

Plantlys

• Persbesem (Polygala virgata)

• Swartoognooi (Thunbergia alata)

• Bontblaar (Plectranthus oertendahlii)

• Kraanvoëlblom (Strelitzia reginae)

• Aalwyn (Aloe arborescens sin. Aloe mutabilis)

• Salie (Salvia-spesies)

• Kappertjie (Tropaeolum majus)

• Kammetjie (Freesia-hibriede)

• Seepbos (Noltea africana)

• Wildepietersielie (Heteromorpha arborescens)

• Blousyselbos (Plumbago auriculata)

• Kaapse kanferfoelie (Tecomaria capensis)

• Beesklou (Bauhinia natalensis)

• Varkoor (Zantedeschia aethiopica)

• Barbertonse madeliefie (Gerbera jamesonii)

• Kooigoed (Helichrysum petiolare)

• Roosbome

• Appelkoosboom (vir espalieer)

• Vetplante

• Groentes soos spinasie en uie