Foto’s Elza Cooper

Wie woon hier? Elvira en Rainer Holz WAAR Blairgowrie, Randburg GROOTTE VAN TUIN 1 196 m²

“Wanneer ek so al met die tuinpaadjies langs deur my tuin stap, voel dit kompleet of ek in ’n oerwoud is,” sê Elvira Holz oor dié lushof in Randburg, waar die paadjies omring is met groen blaarplante van verskillende vorms en teksture. En vir spatsels kleur is daar blomplante vir elke seisoen. Sy en haar man, Rainer, het die huis 27 jaar gelede gekoop. Toe was daar nie sprake van ’n tuin nie, wat nog te sê van ’n “oerwoud”! Op die werf was net die groot wildeolyf, ’n lourierboom, ’n paar kleiner bome en struike en ’n verwaarloosde grasperk. Maar Elvira het aan die werk gespring en die tuin omskep in die lowerryke paradys wat dit vandag is.

’n Verskeidenheid blaarplante omraam die paadjies in Elvira se tuin. Hoewel die tuin oorwegend groen is, sorg die verskillende blaarvorms vir kontras en ’n interessante voorkoms. Laaggroeiende blaarplante soos mondogras en Plectranthusse groei onderlangs en word in toom gehou dat dit nie die stapplek toegroei nie.

“Die erf is lank en smal, met ’n kurwe in die een hoek. Die eerste ding wat ek gedoen het, was om in daardie hoek ’n groentetuin aan te lê. Volgende aan die beurt was ’n waterfokuspunt en ’n visdam; toe het ek om die visdam en onder die wildeolyf begin plant. En van daar het die ander dele van die tuin ontwikkel,” verduidelik sy.

Omdat ’n groot grasperk nie by die vorm van die erf sou pas nie en te veel ruimte in beslag sou neem, het Elvira besluit om tuinpaadjies te maak wat die verskillende dele en tuinkamers van die tuin by mekaar laat aansluit. Sodoende het sy nie net loopplek in die tuin geskep nie, maar ook meer plantplek gekry.

“Ek het in die meeste gevalle eers die tuinpaadjie gemaak en dan die tuin rondom dit ontwikkel; plek-plek het dit wel op een slag gebeur. Maar ek het nooit ’n plan vir die hele tuin geteken nie. Die beddings en paadjies het spontaan ontwikkel en ek het my natuurlike instink van wat sal werk en wat nie, gevolg,” onthou sy. “Ek hou van die resultaat en hoewel ek foute gemaak het, kan ek daarmee saamleef!”

1. Trappies lei van die stoep by die slaapkamer af na die tuin. Die paadjie is versag deur mondogras, Crassula ernesti en Plectranthus madagascariensis.Die meeste van die paadjies is van dwarslêers, maar Elvira het betonprodukte pleks van die ware Jakob gekies. “Ek het wel hout-dwarslêers op van die trappies gebruik, maar nie vir die paadjies nie. Die hout kan met verloop van tyd vrot en meestal kom jy dit te laat agter en moet jy alles weer oordoen. Die betonweergawe is duursaam en lyk ook baie mooi.”

2. ’n Groot spekboom (Portulacaria afra) vorm ’n groen muur regs van die paadjie.

Die tuin is oorwegend groen en Elvira het ’n mengsel van verskillende tipes blaarplante gebruik om interessantheid daaraan te verleen. Laaggroeiende blaarplante omraam die paadjies en word netjies gehou sodat dit nie die stapplek toegroei nie. Daar is ook in elke seisoen iets wat blom – agapante, boslelies, kraanvoël-blomme, spoorsalies, asaleas en twee rose.

“Die rustigheid, stilte en privaatheid wat die tuin ons bied is net wonderlik. Om deur die tuin te stap prikkel al my sintuie. Ek geniet die klank van die water, die gekwetter van die voëls en gekwaak van die paddas, die heerlike geure en om al met die paadjies langs deur die verskillende mikroklimate wat ons hier geskep het, te stap. Of ek nou in die tuin is vir werk of plesier, ek vergeet van tyd wanneer ek daar is!”

Elvira gebruik spoelklippe tussen die trapblokke en dwarslêers. Sy het ’n basis van sand gelê en die klippe gelyk met die plaveiblokke daarin gedruk. Soms kom die klippe los, sê sy, maar oor die algemeen bly dit vir lank mooi. Te veel verkeer en reën kan dit laat skuif en dan moet sy die klippe optel en oordoen. Dié paadjie van ronde houtskywe sorg vir afwisseling en verbind die twee dwarslêerpaadjies.

1. Die Natallelie (Crinum moorei) dra sy blomme op lang stele. 2. Dié paadjie lok jou uit om die agterste deel van die tuin rondom die dammetjie te gaan verken.

Tuinmaak is soos om ’n troeteldier te hê. Dit gee jou baie plesier, maar is ook ’n verantwoordelikheid! – Elvira

Elvira se gunstelinge
  • Broodbome. Elvira het 43 van verskillende groottes. Dié fossielplante maak ’n groot impak, sê sy.
  • Kraanvoëlblom (Strelitzia reginae), wat in die winter blom.
  • Boslelies (Clivia miniata). Sy het honderde wat in die lente, haar gunsteling-tyd van die jaar, vol in die blom is!
  • Blouklokkiesbos (Mackaya bella) is perfek vir ’n heining in die skaduwee. Dit is gehard en immergroen.
  • Hibiscus-spesies, waarvan sy graag die blomme vir tafelversierings pluk.
  • Witkatjiepiering (Gardenia thunbergia) met sy geurige blomme in die somer.
  • Poniestert (Beaucarnea recurvata)
  • Geelhoutbome (Podocarpus latifolius)
  • Mondogras (Ophiopogon japonicus) lyk mooi langs en tussen die paadjies en verg min onderhoud.
  • Orgidee-kaktusse (Epiphyllum) is maklike plante vir ’n oorvloed blomme in die lente.

Elvira se watertuin bied ’n rustige hoekie vir sit en ontspan. Betondwarslêers vorm ’n paadjie na die bank en dammetjie, wat ook deur dwarslêers omraam is. Sy het party van die dwarslêers op die sy gedraai (soos die een voor die bank) om die grond terug te hou, aangesien die tuin teen ’n helling geleë is. Klippies en groen loofplante voltooi die prentjie.

Paadjies met ’n plan

Hoewel Elvira haar tuin nie volgens ’n plan ontwikkel het nie, het sy altyd ’n visie oor die tuinpaadjies gehad. Sy het al die paadjies beplan en self gelê saam met ’n paar handlangers. Dit is net die ingangspaadjie wat hulle drie jaar gelede professioneel laat oordoen het.

“Dis regtig nie moeilik om dit self te doen nie,” sê sy. “En ’n mens kan baie geld so spaar.” Dit is haar raad:

  • ’n Tuinslang werk goed om die vorm van ’n paadjie te bepaal. Jy kan dit vir ’n paar dae so laat lê, daaroor dink en die kurwes aanpas voor jy met die paadjie self begin.
  • Vir my is ’n paadjie met ’n kurwe interessanter as ’n reguit of hoekige paadjie. Jy kan nie om die draai sien nie, so jy weet nie watter verrassing vir jou daar wag nie!
  • Gebruik ’n waterpas om die vlakke en die helling van die paadjie reg te kry. Ná jare het ek geleer dis beter om twee dwarslêers langs mekaar neer te sit en dan ’n gaping te los as om hulle een-een te plaas. Dit vergemaklik stap op die paadjies. Wanneer dwarslêers of plaveiblokke op hul regte plekke is en die paadjie geen verdere strukturele veranderinge nodig het nie, is jou werk vir ’n lang tyd klaar! Een van ons paadjies is 22 jaar gelede gemaak en dit het nog nooit weer werk nodig gehad nie.
  • Ek plaas spoelklippe tussen die dwarslêers om onderhoud te vergemaklik. Dit onderdruk die onkruid en lyk netjies.
  • Dwergmondogras werk ook goed tussen plaveiblokke in skaduryke dele.
  • Laaggroeiende plante lyk mooi langs die paadjie. Afhangende of die paadjie in die son of skaduwee is, kies ek onder meer miniatuur-agapante, lae spoorsalies, mondogras en Crassulas hiervoor.

’n Versameling vetplante en kaktusse by die voet van ’n kokerboom in ’n pot.

MEER OOR ELVIRA

Elvira het grootgeword in Jestetten, ’n klein dorpie in die suide van Duitsland, omring deur berge, woude en weivelde. In die lente en somer het sy gereeld in die veld en woude gestap, blomme gepluk en altyd geweet wat groei waar in watter seisoen. Haar ma was ’n ywerige tuinier wat blomme en groente gekweek het. Maar ondanks die wonderlike tuin en omgewing waarin sy grootgeword het, voel Elvira dat tuinmaak in die Suid Afrikaanse klimaat ’n lonender ervaring is as in Duitsland.

Sy het in 1975 op die Union Castle van Southampton af in Kaapstad aangekom en kort daarna na Johannesburg verhuis. “Die blote verskeidenheid plante wat ’n mens hier kan kweek maak dit baie interessant en opwindend. En so anders as in Duitsland, waar jy in die winter ’n ruskans kry van tuinwerk, hou dit hier heeljaar aan!"