Foto’s Francois Oberholster 

WIE WOON HIER? Joan Falkenberg en haar twee honde, Kerry en Nugget

WAAR Greyton

GROND TIPE Sanderig

Grootte van die tuin 213 m²

’n Kleurvolle Bougainvillea ‘Natalia’ heet jou vrolik welkom by Acacia Cottage, Joan se gesellige huis op Greyton.

Gazania rigens

Joan Falkenberg en haar man, Randall, het in 1997 van Johannesburg na die Wes-Kaapse dorpie Greyton getrek. “Ons het ’n huis gekoop met ’n groot, ongevestigde tuin, en kort voor lank het tuinmaak een van my gunsteling-tydverdrywe geword. My tuin was my vreugde en my trots,” vertel sy.

“Randall is in 2011 oorlede en aanvanklik was dit baie terapeuties om die uitgestrekte tuin te versorg. Maar drie jaar gelede het ek ’n rugoperasie ondergaan; daarom was dit nodig om af te skaal na ’n kleiner tuin.”

Die Falkenbergs het in 2004 ’n kothuis in Greyton Country Village gekoop en dit verhuur met die plan om eendag daar af te tree.

“Al wat ek gedoen het toe ons die plek koop, was om twee groot akasiabome in die voortuin te plant sodat dit goed gevestig kon wees wanneer ons die dag daar intrek,” sê Joan. “Dis papierbasdorings (Vachellia sieberiana) en die voëls is gaande daaroor. Ek het selfs my huis ‘Acacia Cottage’ gedoop.

Argyranthemum frutescens

My gunstelingplant in die tuin is die bougainvillea by die ingang. Dit skep ‘n lieflike eerste indruk. – Joan

’n Nuwe begin

Joan het einde Julie 2017 by haar aftree-kothuis ingetrek en ’n maand of wat later begin om haar klein tuin aan te lê.

“Omdat dit so lank verhuur is, was daar buiten die gevestigde bome nie juis ’n tuin om van te praat nie,” sê sy.

“Ek het twee tuiniers betaal om alles uit te grawe, skoon te maak en genoeg kompos in te werk omdat die grond so sanderig is. Ek het besluit ek wil ’n meditasie- en voëltuin hê en het gaan oplees oor wat ek moet plant om voëls te lok; ek het ook geleer hoe ’n mens stil hoekies skep met pragtige uitsigte of fokuspunte.”

Joan erken sy het nie ’n spesiale plan vir haar tuin se uitleg gehad nie. “Ek het net waterwys, voëlvriendelike plante gekies,” sê sy. Nou kry haar tuin gereeld geveerde besoekers. Plante soos Leonotis leonurus, Tecomaria capensis, Dais cotinifolia, aalwyne en salies is groot gunstelinge, asook Grewia occidentalis, ’n vinnig groeiende struik wat ’n aanwins in enige veldtuin is, Ochna serrulata met sy vrugte wat lyk soos klein Micky Muis-gesiggies en Halleria lucida, een van die beste bome om voëls mee te lok.

“Ek het ook voëlvoerders en waterbottels in drie verskillende hoeke opgesit. Ek sien die streepmuise kom vreet ook daar!” sê sy opgewek. “En ek het klein ‘dammetjies’ onder die buitekrane gesit vir die paar bedreigde paddas wat ek al opgemerk het.”

Joan sê haar gunstelingplek is die agterstoep, wat uitkyk op die tuin en die Riviersonderend-bergreeks.

“Dis ’n wonderlike plek om te ontspan en te mediteer. My tuin voed my siel. Dis ’n kreatiewe uitlaatklep; ’n plek van vrede. Dit het ’n lieflike suurlemoenboom, daar groei kruie wat ek in my kos gebruik en blomme wat ek kan pluk en in die huis sit.

“My tuin is nie perfek nie. Ek maak foute en pas maar aan wanneer ek agterkom iets werk nie, maar dit verskaf my soveel vreugde. Ek werskaf net vir kort tydjies in die tuin, en selfs dit maak my gelukkig en entoesiasties!” sê sy.

Joan se gunstelingplante

  • Ek het ’n roos genaamd ‘Mutabilis’, ’n outydse China-roos. Die blomme lyk soos vlinders in skakerings van room, geel en donkerpienk. Dis waterwys, en hoef net af en toe gesnoei te word.
  • Hier is ’n pragtige ‘Eureka’-suurlemoenboom wat die wonderlikste vrugte dra.
  • Salie is ’n geharde plant wat vir maande aaneen ’n wonderlike vertoning sal lewer.
  • Felicias het ’n spesiale plek in my tuin; hulle bring altyd vreugde en plesier.
  • Geelkatstert is gehard en het waardevolle medisinale eienskappe. Jy kan die blare se helder jel gebruik vir muskietbyte, snye, krapmerke, brand- en ander wonde, uitslae, pitsere, ekseem en gebarste lippe.
  • Daar is so baie mooi laventel-variëteite.
  • Osteospermum en Dimorphotheca lewer ook ’n lieflike vertoning.
  • Ek geniet dit ook om vetplante in houers te kweek. Ek het aanvanklik nie besef dat daar soorte is wat nie van volson hou nie, so ek het nog baie om te leer.
  • Plectranthusse van alle kleure hou van ligte skadu en helder ’n tuin op. Dis gehard en maklik om te vermeerder.

Joan het onderhoud tot ’n minimum beperk deur nie ’n grasperk aan te plant nie. “Al wat ek hoef te doen, is om af en toe plante terug te sny en jaarliks kompos in te werk,” sê sy.

Top-tuinmaakwenke  

  • My tuin is te klein vir ’n komposhoop én ’n watertenk, toe kies ek die tenk. Ek gebruik wel die snysels van wanneer ek terugsnoei en dele skoonmaak as deklae. Ek kap dit op en strooi dit rondom die plante se basis.
  • Klippe help om vogtigheid in die grond te behou, en jy kan ook mooi fokuspunte daarmee maak.
  • Vind uit watter plante aard in jou omgewing en kies dit vir jou tuin. Ek het baie geld gemors omdat ek mooi plante gekoop het wat glad nie hier wou groei nie.
  • Tuine is soos ons: Hulle gedy op goeie kos, aandag en tonne liefde.
Wil jy ook ’n veldtipe tuin aanlê?

Joan beveel die volgende aan: Freylinia*, Euryops*, Felicia*, Tecomaria capensis*, Salvia (alle variëteite), Scabiosa africana*, pelargonium*, Arctotis*, Dimorphotheca*, agapante*, clivia*, gousblomme*

* inheems

1 Verbena canadensis

2 Osteospermum ecklonis

Maak tyd vir jou tuin. Dis soos sielskos – dit verlaag jou stresvlakke en bring jou in ’n kreatiewe stemming, wat ’n terapeutiese en helende uitwerking het. En dit sit ’n groot glimlag op jou gesig! – Joan

“My honde slaap graag op my plante om koel te bly. Maar hulle is my familie en ek moet dit seker maar verduur!” vertel Joan laggend.

Lampranthus ‘Hot Flash’

MOLLE EN ANDER UITDAGINGS

Daar is volop voëls, paddas en ander besoekers in Joan se tuin. Dis regtig ’n lewende ruimte – maar dit het sy uitdagings.

Buiten die hittegolwe wat die Wes-Kaap ervaar, en water-beperkings weens die droogte, moet sy ook slakke en molle trotseer.

“Ek het agtergekom ’n bietjie uriene in ’n molsgat werk soos ’n bom om hulle af te skrik,” sê sy laggend. “Ek hou altyd ’n fles byderhand juis vir daardie doel!”

Slakke is nog ’n las. “Ek strooi gewoonlik fyn eierdoppe, maar wanneer dit regtig lol, gebruik ek ekovriendelike slakaas,” sê sy.

Om die hitte en die waterbeperkings die hoof te bied, het Joan waterwys plante gekies en gebruik sy soveel gryswater moontlik. “Ek strooi ook dik deklae en gebruik mooi klippies oor die plante se wortelarea.”