Foto’s Elza Cooper

WIE WOON HIER? Johan en Henriëtte de Beer en hul kinders, Ruve, Divan en Anjolize
WAAR Bankenveld-gholflandgoed, eMalahleni (voorheen Witbank)
GROOTTE 1 100 m²

Toe Henriëtte en Johan de Beer in 2016 na ’n huis op die bekoorlike Bankenveld-gholflandgoed in eMalahleni gaan kyk, was hulle dadelik dol oor die plek.

“Ons het uit die staanspoor van die huis met sy kontemporêre styl gehou,” vertel Henriëtte. “Maar die tuin het ons nie beïndruk nie. Dit was sonder karakter; daar was ook geen fokuspunte of sithoekies nie. ’n Tuin is vir my baie belangrik, want dit is waar jy rustig kan word en net weer kan besef hoe wonderlik die natuur en die skoonheid daarvan is.”

Die De Beers het by Yvonne Joao van Jardinier Landscape Design & Décor gaan aanklop nadat sy hul vorige huis se tuinontwerp behartig het. Die opdrag aan haar was om ’n meer klassieke tuin met struktuur te skep. Tog moes die voorkoms onopgesmuk wees, met nie te veel verskillende plantsoorte en kleure nie.

Plectranthus ‘Mona Lavender’ verskaf kleur onder die Dicksonia antarctica-boomvaring

Yvonne het die groot taak saam met haar kontrakteur en regterhand, Stephan Eyssel, aangepak. “Ons visie was om ’n informele tuin te skep, maar met baie strukture: staalbalke en -panele as fokuspunte, tuinpaadjies wat jou na interessante hoekies lei, mooi heininkies wat beddings afrond, detail en verrassingselemente wat jou aandag trek en jou vir ’n wyle laat stil staan en dit bewonder,” verduidelik Yvonne.

“’n Spesiale hoekie vir elke deel van die dag en fokuspunte vanuit elke vertrek van die huis was ’n prioriteit. Dit moes ook ’n tuin met geur en atmosfeer wees – ’n tuiste op sigself.” 

Ek hou van die kontras tussen die klip, hout en blomme in hierdie hoekie. – Henriëtte

Gras en massas plante

Die huis met sy sterk argitektoniese lyne het reeds ’n mooi dek gehad wat as verlengstuk van die leefareas dien. Groot stapeldeure vou oop en bied ’n uitsig op die landgoed se groen areas en dam. Om dié uitsig ten beste te benut is die grasperk vergroot sodat dit jou oog oor die hele tuin lei en jou nooi om daardeur te wandel na die verskillende tuinkamers.

Vir die blombeddings is op eenvoudige, skoon lyne besluit met massa-aanplantings van dieselfde soort, soos wildeknoffel en groot wilde-irisse. Die loof in die tuin is hoofsaaklik groen en grys, wat ’n gevoel van kalmte skep, terwyl klein kolle kleur in die vorm van eenjarige saailinge soos begonias, impatiëns, petunias en verbenas vir helderheid sorg.

“Hoewel die tuin formeel gestruktureer is, is die klem op ornamentele en bruikbare plante wat jou sintuie stimuleer,” vertel Yvonne. Wildeknoffel help byvoorbeeld om plantluise en slange weg te hou!

Die doelwit was deurgaans om die tuin by die omgewing te laat inskakel sodat die algehele voorkoms so natuurlik moontlik bly. Inheemse bome soos doppruime help hiermee, so ook skanskorwe gevul met plaaslike klip.

“Op die ou end skep die enkele grasperk kontras met die blombeddings en versag dit ook die harde landskapelemente,” sê Yvonne.

Blokke grootnoem-noem (Carissa macrocarpa) word omraam deur heininkies van Viburnum sinensis en Abelia ‘Francis Mason’, met ’n vormgesnoeide Ligustrum ovalifolium ‘Aureum’ in die middel. In die agtergrond troon ’n doppruim (Pappea capensis) uit bo ’n blok wildeknoffel (Tulbaghia violacea).

1. ’n Enkele Aloe marlothii pronk tussen die wildeknoffel. Agter sluit hoë Trachycarpus fortunei-palms aan by die vertikale staalstrukture voor ’n muur waarteen sterjasmyn (Trachelospermum jasminoides) rank, en tussenin groei ‘Iceberg’-rose omraam deur Freylinia tropica en Abelia ‘Francis Mason’. 2. Lobelias en begonias verskaf somerkleur tussen die dekriet (Elegia tectorum).

Tuinpaadjies en tuinkamers wat werk

Tuinkamers is met die hulp van kortgeknipte heinings geskep sodat elke kamer skaars merkbaar in ’n ander een oorloop. Interessante paadjies verbind al dié areas in die tuin – so lei ’n paadjie jou byvoorbeeld deur jasmyn-boë van een punt na ’n volgende, met verskeie verrassingselemente onderweg.

“Dis nie nodig dat al die paadjies eenders lyk nie, maar hulle moet wel by mekaar pas,” verduidelik Yvonne. “Plek-plek is tekstuur bygevoeg met grondbedekkers om die eentonigheid van die plaveiblokke te breek en te versag.”

Die paadjie na die boma is van omgewingsvriendelike MoistureShield-planke met voetliggies wat dit snags verlig. “Die vuurput is die gewildste element in die nuwe tuin,” vertel Yvonne, wat ook dié deel ontwerp het. “Dis mooi om na te kyk, funksioneel en bied ’n kuierplek buite.” Die interessante vloerbeddeking bestaan uit natuurlike kwartsietklip met tapytmadeliefie (Dymondia margaretae), ’n aantreklike inheemse silwergrys grondbedekker met geel blommetjies in die somer, tussenin geplant. “Dit werk regtig fantasties tussen klippe,” sê sy.

Yvonne moes noodgedwonge rondom die 10 000-liter-watertenk werk wat die huiswater asook besproeiingswater huisves. “Al wat ek aan die tenk verander het, was om die golfstaal donkergrys te verf om aan te sluit by die staalbalke teen die huis en in die tuin. Sodoende lyk dit of dit deel vorm van die tuinontwerp en skep dit selfs ’n fokuspunt.”

Vormgesnoeide Buxus ‘Faulkner’

Syzygium paniculatum met Liriope muscari ‘Evergreen Giant’, begonias en petunias by hul voete.

1. Petunias verskaf somerkleur tussen die skoonma-se-tong (Sansevieria). 2. Tapytmadeliefie (Dymondia margaretae) versag die klip-plaveisel.

Voetliggies in die MoistureShield-dekplanke verlig saans die roete na die vuurput.

Japanse ahorn (Acer palmatum)

Staalwerk en water

Moderne staalbalke is dalk nie almal se idee van fokuspunte in ’n tuin nie, maar hier word dit slim ingespan om die huis met die tuin te verbind, aangesien dit reeds deel van die huis se ontwerp is. By die boma sal sterjasmyn mettertyd daarteen oprank om dit te versag.

Benewens die staalbalke het Yvonne ook verskeie staalskerms ontwerp wat as fokuspunte teen die huis se buitemure en by die reuse-waterfokuspunt in die tuin aangebring is.

“Die groot waterfokuspunt trek dadelik die aandag en die water sorg vir klank en beweging,” vertel Yvonne. “Hier was skaal baie belangrik omdat dit so ’n groot ruimte is en ook sodat die klank van die water nie wegraak nie. Groter was dus beter.”

Ook by die voordeur is staalskerms met strookligte agter ’n kleiner waterfokuspunt aangebring. “Die idee is dat die patrone saans soos skilderye teen die mure uitstaan,” verduidelik Yvonne.

Uiteindelik het die projek ses maande geduur om te voltooi – in Oktober sal die tuin maar 18 maande oud wees.

Die De Beers is duidelik in hulle skik met die resultaat. “Ek geniet dit so om ná ’n rowwe dag huis toe te kom en ’n skemerkelkie op my stoep te geniet terwyl ek oor die asemrowende tuin staar,” vertel Henriëtte. “Die stilte en klank van die water maak ’n mens net só rustig. Ek geniet natuurlik ook die verskillende soorte voëls wat nou volop hier is.” “Dié fokuspunte kry saans lewe omdat daar LUD-strookligte aan die binnekante is wat die patrone verlig in die donker,” sê Yvonne.

Yvonne se wenke

  • Neem die skaal en styl van die huis in ag wanneer jy die tuin ontwerp en uitlê.
  • Hou beddings eenvoudig en moenie te veel verskillende soorte plante probeer inpas nie. Gebruik eerder kontrasterende kleure hier en daar as verrassingselement.
  • Neem die ligging van deure en vensters in ag wanneer jy fokuspunte, paadjies en beddings skep sodat jy uit elke vertrek ’n mooi uitsig op die tuin het.
  • Kies waterwys plante wat maklik verplant of van steggies kan groei, en groepeer plante met soortgelyke waterbehoeftes saam. • Goeie grondvoorbereiding is noodsaaklik; werk ook minstens twee keer per jaar kompos in.
  • Kies staatmaker-plante wat ’n impak maak en heeljaar sal sorg vir kleur – al is dit net blaarkleur.

Top-5 plante

  • Sterjasmyn (Trachelospermum jasminoides)
  • Wit ‘Iceberg’-rose
  • Wildeknoffel (Tulbaghia violacea)
  • Groot wilde-irisse (Dietes grandiflora)
  • Woestynrosies (Echeveria elegans)

Bome in die tuin

  • Doppruim (Pappea capensis)
  • Japanse ahorn (Acer palmatum)
  • Populier (Populus simonii ‘Fastigiata’)
  • Trots van Indië (Lagerstroemia indica)

Top-5 heiningplante

  • Viburnum sinensis
  • Blouheuningklokkiesbos (Freylinia tropica)
  • Abelia x grandiflora ‘Francis Mason’
  • Buxus microphylla ‘Faulkner’
  • Saliehout (Buddleja salviifolia)
KONTAK EN VERSKAFFERS
  • Jardinier Landscape Design & Décor 083 400 8661
  • MoistureShield 084 901 7772, moistureshield.co.za
  • Tru Outdoor Luxury 031 579 1467