WIE WOON HIER?

Aleit Swanepoel en sy dogter, Kateline

WAAR Somerset-Wes

GROOTTE VAN TUIN 800 m²

GRONDTIPE Klei

Dié vetplantfontein het Aleit uitgeboul! Pleks van ’n fontein met water, het die landskapontwerper Eti Buys die bakke gevul met grond en ’n verskeidenheid vet- en lugplante daarin geplant. Sommige tuimel oor die rande om die idee van watervalletjies te gee. Omdat dié plante net elke twee tot drie weke water kry, maak dit nie saak dat daar nie dreineringsgate in die bakke is nie. Die dammetjie onder die fontein is later bygevoeg omdat Aleit die geluid van water wou hoor.

PLANTLYS BY DIE FONTEIN

Crassula ovata ‘Hobbit’

Crassula pellucida

Sedum spectabile

Senecio mandraliscae

Echeveria elegans

Aptenia cordifolia

• Lugplante soos Tillandsia ionantha

Eti het vir my gesê ons moet die tuin laat glimlag, en dit doen sy met kleur. – Aleit

Staan jy in Aleit Swanepoel se tuin, voel dit asof jy in ’n woud is, ver van die res van die wêreld. “Ek is gek oor my tuin,” vertel Aleit, voorsitter en stigter van die Aleit-groep wat spesialiseer in funksiebeplanning, en aanbieder van die kykNET-reeks Tyd met Aleit.

“Dit is omring met hoë bome en grens aan ’n groen strook. Toe ek die eiendom in Junie 2018 koop, was dit baie verwaarloos. Ek hou van ’n mooi tuin, maar het nie groen vingers nie. Ek sou moes hulp kry. Dit is toe dat ek vir Eti Buys van Kimko Gardens gevra het om my te kom help.”

“Eti weet hoe my vorige tuin gelyk het en waarvan ek hou. Sy het vir my baie foto’s gewys van idees wat sy vir die nuwe tuin gehad het. Ek het haar laat begaan,” verduidelik hy. “Dit was vir my ’n wonderlike verrassing om die tuin te sien, want tot die dag dat ek hier ingetrek het, het ek nie geweet wat sy doen nie!” Eti het in Julie 2018 met die projek begin, twee maande voor Aleit ingetrek het.

Die struktuur van die tuin was gevestig, al die groot bome in die tuin en die pragtige pers bougainvillea was hier, maar verder was dit oorgroei soos ’n oerwoud.

Dié vetplantfontein het Aleit uitgeboul! Pleks van ’n fontein met water, het die landskapontwerper Eti Buys die bakke gevul met grond en ’n verskeidenheid vet- en lugplante daarin geplant. Sommige tuimel oor die rande om die idee van watervalletjies te gee. Omdat dié plante net elke twee tot drie weke water kry, maak dit nie saak dat daar nie dreineringsgate in die bakke is nie. Die dammetjie onder die fontein is later bygevoeg omdat Aleit die geluid van water wou hoor.

‘Meer is meer’

“Die idee was om die tuin natuurlik te hou en soveel moontlik te behou van wat hier was, maar om lewe en kleur terug te bring,” vertel Eti. “Ek het toe ’n ontwerp geteken en die projek in verskillende stadiums aangepak. Eerste het my span die tuin skoongemaak en indringers uitgeroei. Ons moes ook ontslae raak van die kleigrond wat vir die swembad uitgegrawe is. Daarna is die vlakke gelyk gemaak en kon ons begin tuinmaak.”

Om die massas kompos wat nodig was in die tuin te kry moes dit deur die groen strook ingebring word. “Dit was die enigste toegang tot die tuin behalwe die trap langs die huis. Al die ander tuinbenodigdhede, soos die fontein, potte en plante, is met die trap langs aangedra. Die fontein se onderste bak is so swaar dat 15 mans dit met die hulp van komberse versigtig by die trap moes laat afgly!”

Eti het baie nuwe plante in die bedding tussen die boonste en onderste vlak van die tuin geplant. Agapante, irisse en Bulbine natalensis, asook vingerhoedjies, krismisrose, spoorsalies en aronskelke is geplant vir seisoenale kleur. Sy het baie van die varings hergebruik en bome soos die olienhout, witstinkhout en Chinese esdoring, wat reeds in die tuin was, netjies gesnoei en nuwe lewe gegee.

“Oral in die tuin is daar detail in die vorm van beelde, potte en selfs ’n ou raam wat in ’n boom hang. Aleit het vir my ’n klomp ornamente gegee waarvoor ek plek in die tuin moes vind, want hy glo ‘more is more’. Daar is nog baie in die motor- huis – maar iewers moes ek ’n streep trek!”

Al die dekor en ander tuin-benodigdhede is met die trap langs ondertoe gedra, gerol of gesleep.

Aleit se gunstelinge

“Ek wou nog altyd ’n bougainvillea in my tuin hê en nou het ek dié pragtige perse wat dwarsdeur die somer blom. Dit is my grootste gunsteling. Ek hou ook van die kruipvy wat stadig maar seker die sementstene begin toegroei. Die vingerhoedjies in die bedding wat aan die perskepitte grens, is vir my pragtig en ek kan nie wag dat die krismisrose groter raak nie. Ek is ook gek oor die varings in die skadutuin en wil hê dit moet daar oorneem.”

Eti het die staal vir die boog in dié vorm laat buig. Dit weeg 350 kg en moes ook met die trap langs afgerol word om dit in die tuin te kry, waar dit halfpad begrawe is vir stewigheid. Dit gee die gevoel van ’n geheime ingang na ’n volgende deel van die tuin; Chinese jasmyn groei daarteen op.

Staal van Crawford Steel Services

Eti het vir Aleit ’n foto van ’n soortgelyke skaakbord gewys en hy het geweet hy moet een in sy tuin hê! Hier speel hy en sy dogter, Kateline, graag saam.

Weens te min son wou gras nie rondom die fontein en langs die swembadgroei nie. “Die perskepitte is uit nood gebore,” vertel Aleit. “Top Billing sou kom afneem en ek het besef ons moet vinnig iets aan die gras doen. Ek en Eti het ’n hele paar opsies oorweeg en op perskepitte besluit. Die donkerbruin van die pitte pas by die huis se kleur en dit hou langer as byvoorbeeld bas. Boonop gee dit interessante tekstuur aan die oppervlak.”

Vingerhoedjies blom in die lente en somer.

Aleit is gek oor tuinornamente soos dié sementbeeld wat hy vir dekor by ’n troue gebruik het.

STAATMAKERS IN DIE TUIN

• Olienhout (Olea europaea subsp. africana)

• Chinese esdoring (Acer buergerianum)

• Witstinkhout (Celtis africana)

• Heilige bamboes (Nandina domestica)

• Krismisrose (Hydrangea-spesies)

• Vingerhoedjies (Digitalis purpurea)

• Kattekruid (Nepeta x faassenii)

• Australiese viooltjie (Viola hederacea)

• Vlaslelie (Dianella tasmanica ‘Variegata’)

• Roosmalva (Pelargonium graveolens)

• Irisse (Iris-spesies)

• Verskillende soorte laventel (Lavandula-spesies)

• Spoorsalies (Plectranthus-spesies)

• Aronskelke (Zantedeschia aethiopica)

• Ment (Mentha) as grondbedekker

• Kruipvy (Ficus pumila)

• Verskeidenheid kruie in houers


Ronde trapblokke is spesiaal gemaak vir ’n deel van die tuinpaadjie. Die sementvorm is net daar waar die plaveiblok moes wees, neergesit en met sement gevul. Só is die paadjie sirkel vir sirkel gemaak. Ter afwisseling is ook leiklip vir dele van die paadjies gebruik. 

Gibson Banda, Aleit se regterhand, en sy buurvrou Antoinette Stockley, help met die onderhoud van die tuin. “Ek het tot onlangs nie eens geweet Antoinette het ’n afstandbeheerder van die hek nie; sy kom en gaan soos sy wil. Sy en Gibson gee die plante kos, sit hand by waar nodig en hou die kruiebokse in stand. Ek het die houtkratte by ’n kerkbasaar gekoop. Ek is gek oor ’n kerkbasaar. Antoinette het die bokse vol geplant en weet wat om te doen om dit so goed te laat groei. Om te keer dat die hout vrot is die bokse met swart plastiek uitgevoer voor die grond ingesit is. Eti kom help wanneer en soos nodig met onderhoud, veral voor ’n groot geleentheid,” sê Aleit. Dan voeg hy laggend by: “En wat doen ek? Ek loop net deur die tuin en geniet dit!”

VERSKAFFERS EN KONTAK

Crawford Steel Services aspectgroup.co.za

Kimko Gardens kimko.garden

Plante van Cape Garden capegardencentre.co.za en Shadowlands Wholesale Nursery shadowlands.co.za