Foto’s Francois Oberholster

WIE WOON HIER? Simon en Toni Rimell
WAAR High Riding Estate, Sir Lowry’s Pass
GROOTTE 1 hektaar
GRONDTIPE Hoofsaaklik kleigrond

Op ’n stuk grond vervuil van indringers soos Port Jacksons en bloekombome het Simon en Toni Rimell 15 jaar gelede begin tuinmaak. “High Riding Estate was ’n nuwe ontwikkeling. Ons moes huis bou en ’n tuin aanlê – alles van voor af. Die grond is met ’n stootskraper skoongemaak sodat ons die eerste deel van die huis kon bou. Dit was al wat ons destyds kon bekostig,” vertel Simon. “Daarna het ons begin tuinmaak, eers die deel naaste aan die huis en met verloop van tyd ook verder weg.”

Die Rimells het geen meesterplan vir hul tuin geteken nie, maar dit stuk-stuk aangepak. “Ons het besef die tuin sal meer hanteerbaar wees as ons groot gedeeltes aan ’n spesifieke tema toewys; toe maak ons ’n deel vir olywe, ’n deel vir vetplante, ’n deel vir gras, en ’n paar groentebokse.

“Ons het met ’n tuinslang paadjies begin uitlê en dit omlyn met klip of houtstompe wat op die eiendom was. Dit het ons help besluit waar ons beddings moes maak,” verduidelik hy. “Toe het ons ’n klomp van dieselfde soort plante in blokke geplant. Deur byvoorbeeld ’n massa agapante bymekaar te hê, het soveel meer impak. En dit het ons laat voel daardie bedding is nou vol!

“’n Paar fokuspunte het ook gehelp om die tuin verder in verskillende areas te verdeel. Met ou dwarslêers wat ons by die bure gekoop het, het ons ’n treffende muur staangemaak; die hoof-vetplanttuin is daaragter. In die middel van die tuin het ons ’n ou hekkie geplaas – dié het ons by ’n kwekery in Houtbaai opgemerk en Toni het die eienaar omgepraat om dit aan ons te verkoop. Hoewel dit geroes is en so te sê uitmekaarval, is dit pragtig. Dit nooi jou uit om daardeur te stap na ’n volgende deel. Al dié planne het die tuin van iets doodgewoons in iets besonders omskep.”

Vroeg in die ontwikkeling van die tuin het Simon gevoel as die paadjies duidelik gedefinieer is, gee dit vorm en struktuur aan die tuin en lyk dit of daar iets gebeur. Hulle het die paadjies omraam met klip en houtstompe wat op die eiendom was. Die gruisklippies is bloot om dit nog mooier te laat lyk. “Wanneer ’n mens op die balkon staan en oor die tuin uitkyk, is die paadjies die eerste ding wat jy opmerk. Dit lyk pragtig en gee ’n gevoel van orde,” vertel Simon.

1. Die Aeonium arboreum is een van die meer as 50 plante wat Simon van ’n steggie gemaak het wat hy jare terug gepluk het in die kerktuin waar sy swaer getrou het. 2. Toni en Simon het dié muur van dwarslêers gemaak nadat hulle vol inspirasie teruggekom het van ’n besoek aan Elgin se oop tuine. 3.Aeonium arborium

Vir Simon en Toni is dit belangrik dat hul dogters hul vriende huis toe bring. ’n Kuier rondom dié vuurput is altyd ’n wenner by die jongklomp! Aalwyne, varkoorplakkies, verskeie Aeonium-spesies en Agave verskaf vorm en tekstuur in dié beddings.

Min onderhoud

Omdat Simon en Toni nie veel vrye tyd en ekstra geld gehad het toe hulle hier ingetrek het nie, het hulle op ’n tuin met min onderhoud besluit. Plante wat hulle maklik kon vermeerder en min water vereis, was die oplossing. Aanvanklik het hulle meer gras gehad, maar dit het te veel aandag en water nodig gehad en is verminder.

“Die tuin is eenvoudig te groot om nié ’n lae-onderhoudtuin te wees nie. Ons maak baie van vetplante gebruik; hulle is gehard en vra min water. Gedurende die warm somermaande kry hulle soms swaar, maar sodra die eerste reën val, herstel dié plante baie vinnig,” verduidelik Simon. “En al het ons in September 2016 ’n boorgat laat insit, gee ek net water as dit regtig nodig is. My filosofie is die afgelope 15 jaar om plante net in hul eerste jaar nat te lei; daarna moet hulle op hul eie kan oorleef. Natuurlik het nie almal bly leef nie, maar die meeste van die sowat 200 bome wat ons geplant het, is inheems en vaar goed met min water.”

Omdat die tuin aan ’n natuurreservaat grens, kom ’n verskeidenheid fynbos oraloor op. Die meeste daarvan word gelos om te groei waar en hoe hulle wil. “Wanneer plante ’n bedding begin oorneem, skuif ons eenvoudig die paadjie om hulle meer leefruimte te gee.”

Simon kweek baie van sy plante van steggies. “Met so ’n groot tuin is dit onmoontlik om kwekery toe te gaan vir ’n plant of twee – ons moet twintig of dertig op ’n slag koop! En dít sou te duur wees, daarom vermeerder ek wat ek kan. Die meeste van die tyd breek ek eenvoudig ’n stukkie van ’n plant af terwyl ek deur die tuin stap en druk dit in die grond. Dis maklik en dit werk goed,” vertel hy.

Vir Simon is sy tuin sy paradys. “Ek loop graag deur die tuin met ’n koppie koffie in die hand. Wanneer ek smiddae ná werk huis toe ry, vergeet ek van my werksdruk; dan is my tuin my ontvlugting. Vreemd genoeg is die lekkerste vir my om onkruid uit te trek, veral in die winter wanneer die grond sagter is. Ek vind dit baie ontspannend.

“Vroeër het ek altyd deur tuintydskrifte geblaai en gedink om so ’n tuin te hê moet jy baie van plante af weet. Maar deur die afgelope 15 jaar in my tuin te werk sonder om enige van die plantname te onthou, het ek besef dit gaan nie oor hoeveel jy van elke plant weet nie, maar eerder oor inspring en eksperimenteer met verskillende idees – sommige werk en lyk mooi, ander nie. Doen wat vir jou plesier gee. Daar is nie ’n reg of verkeerd nie. ’n Tuin verander voortdurend en daar is altyd iets wat ek graag wil doen. Ek geniet dit om daarin te woel en te werskaf.”

Hier is Simon besig om plante vir ’n nuwe deel van die tuin, wat nog skoongemaak word, te vermeerder. “Heelwat van ons plante was steggies van vriende of het sommer vanself opgekom,” verduidelik hy. “Ons het hulle nie gekies nie, maar ons is bly dat hulle floreer.”Een van die areas waarin die tuin verdeel is, is die formele groentetuin met ’n suurlemoenboom in die middel. In die agtergrond kronkel Sir Lowryspas oor die Hottentots-Hollandberg.

Vir my is die plante in my tuin herinneringe aan mense en plekke in my lewe. – Simon

Boomaalwyn (Aloidendron barberae)

GOEIE HERINNERINGE

Simon se lys gunstelinge het nie veel te make met die soort plant nie, maar meer met waar dit vandaan kom en die herinneringe wat hy daaraan het.

“Toni kan jou vertel van hoe sy vir ’n drie uur lange rit terug van ’n vakansie af saam met die kinders én die bagasie op die agtersitplek moes sit omdat ek vier boomaalwyne gekoop het. Die voorste sitplek was al plek in die kar waar hulle kon inpas!”

Vra jy hom watter vetplant sy gunsteling is, sê hy hy’s ’n draadsitter. “Daar is aan elkeen iets spesiaals. Vir my is die gemak waarmee vetplante vermeerder kan word hul beste eienskap. Jy hoef nie ’n plantkenner te wees om hulle te kweek nie. Ek hou ook baie van die verskeidenheid kleure en teksture wat vetplante bied. Wanneer ons ’n kwekery besoek, soek ons altyd vetplante wat ons nog nie het nie, maar dit gebeur nie gereeld dat ons iets nuuts sien nie. Indien wel, word dit vinnig deel van ons tuin. Dis altyd so mooi en die kanse is boonop goed dat dit sal oorleef!”

Al die muurtjies en trappe – selfs die visdam – is gebou van klip wat op die eiendom opgetel is