Foto's Photography by Amora

WIE WOON HIER? Liesl Loubser, haar man, Cobus Wessels, en hul twee Jack Russells, Laya (16) en Lira (2)
WAAR Prins Albert, Klein-Karoo
GROOTTE 600 m²
GRONDTIPE Klipperig

Ná ’n uitstappie in die Gamkaskloof, ook bekend as Die Hel, het Liesl Loubser en haar man, Cobus Wessels, op Prins Albert beland vir middagete.

“Ek was dadelik verlief op dié pragtige Karoo-dorp. Op pad uit het ek vir Cobus oortuig om by die museum te stop. En daar hang toe sowaar ’n foto van my oupa Petrus van der Merwe Erasmus as tiener in Prins Albert se rugbyspan. Dié familieverbintenis het ons oortuig om hier te begin eiendom soek. En dis waar alles begin het,” vertel Liesl.

So koop hulle toe in 2015 ’n huis wat in 1904 gebou is, saam met die erf daaragter. “Vir twee jaar het ons onder die wakende oog van ons plaaslike argitek, Kurt Buss, en natuurlik die Wes-Kaapse en Prins Albert-erfeniskomitee, die huis simpatiek gerestoureer. Ek het dit ongelooflik baie geniet om navorsing vir die projek te doen en om antieke en vintage-meubels en bykomstighede vir die huis en tuin uit te soek.”

Vir inspirasie het Liesl na ’n tuin op die dorp gaan kyk waarvoor Shaun van der Walt, onderhoof van die Hoërskool Zwartberg, verantwoordelik was.

Sy het baie van sy werk gehou en saam het hulle begin beplan hoe hulle haar oorgroeide tuin gaan omskep in wat dit vandag is. In die proses is soveel moontlik van die karakter van die ou tuin met sy lemoen-, suurlemoen-, appelkoos-, perske-, nartjie- en groot olyfbome behou. En al dra sommige weens jare se verwaarlosing nie meer vrugte nie, dra dit steeds by tot die ouwêreldse gevoel van die tuin.

Beddings met klipmure

Met klip van die omgewing is muurtjies gebou om verhewe beddings te skep. Dié beddings gee verskillende vlakke aan die tuin en laat dit groter lyk. Staan jy op die stoep, voel dit asof jy opkyk na die tuin omdat die klipmuurtjies hoogte gee.

Behalwe dat die mure mooi lyk, gee dit ook ’n ouwêreldse gevoel aan die tuin wat herinner aan die ou klipkrale van die Karoo. Boonop is dit prakties: Die vlak klipbank op die erf laat nie baie ruimte vir die plante en bome se wortels toe nie en die hoë beddings vol vrugbare en goed voorbereide grond verskaf dan soveel meer groeiplek. Johan Myburgh en sy seun Kenneth van Rock of Ages op die dorp het die muurtjies gebou met klip uit die omgewing wat hulle met die hand uitgesoek het. Hulle het klippe gekies op grond van hul plat sye en die kleur en tekstuur.

Ons het ’n paar banke onder die bome gesit en eendag, wanneer ek rustig raak, gaan ek daar sit en droom. – Liesl

Die proses

Shaun van der Walt, bedags ’n onnie, is ’n ywerige tuinier in sy vrye tyd. Hy vertel meer oor die projek:

“Voor ek vir Liesl en Cobus ’n tuinplan kon teken, moes ek hulle eers leer ken. Liesl is iemand wat kreatief en anders na die gewone kyk en sy het ’n voorliefde vir die stories van antieke goed. Cobus het weer ’n oog vir detail en reguit lyne. Met dit in gedagte het ek ’n eenvoudige plan met ’n oorwegend inheemse plantlys vir hulle bymekaargesit,” vertel hy.

Shaun het die tuin in verskillende tuinkamers verdeel met allerlei fokuspunte en interessante hoekies en draaitjies. Die groot gevestigde bome en waar die somer- en winterson val, het alles ’n rol gespeel in die uitleg en posisie van beddings en keuse van plante.

“Ons het eers van ongewenste struike en bome ontslae geraak ten einde meer lig en groeiplek in die tuin te kry. Daarna is die beddings sowat 1 m diep uitgegrawe – selfs dieper waar ons bome geplant het. Die pragtige klipmure is gebou; dit tree op as raamwerk vir die tuin.

“Nadat ons soveel moontlik van die klippe verwyder het, is die beddings laag vir laag volgemaak, amper soos koekstruif: Onderin is ’n dik komberslaag boombas geplaas, toe perdemis, kompos en beenmeel en daarna die gesifte grond. Dié lae is telkens herhaal tot die bedding vol was. Die grond is daarna natgemaak en omgekeer. Op die ou end het dit soos klam bruinsuiker gelyk – dik en sag,” vertel hy.

Volgende is die bome geplant, waarna ’n besproeiingstelsel geïnstalleer is. Die tuin is in kleur- en plantblokke verdeel om seker te maak plante met dieselfde waterbehoeftes groei bymekaar. So maak die kleur ook ’n groter impak. “Moenie aanvanklik te veel plant nie. Gee die plante genoeg ruimte om te groei,” sê hy.

Heel laaste het Shaun en sy helpers die gras geplant en finale aanpassings gemaak.

As deel van die proses het Shaun ook ’n plaaslike tuinier opgelei wat na die tuin omsien sedert die projek afgehandel is. Dit is ’n wonderlike werkskeppingsgeleentheid en perfekte oplossing vir Liesl en Cobus. Wanneer hulle nie in Prins Albert is nie, versorg Mano van Rooyen die tuin.

Omdat koelte so belangrik is in die Karoo, het hulle ’n paar groot bome soos ’n witstinkhout (Celtis africana) en ’n apiesdoring (Senegalia galpinii) aangekoop. Dié bome moes met behulp van hyskrane op hul plekke neergesit word en is aan die begin van die tuinprojek geplant.

Plantlys

1. Gemengde blombedding en vrugteboord (volson):

Coleonema pulchellum, C. ‘Sunset Gold’, Pelargonium crispum, P. scabrum, P. sidoides ‘Cherry Pudding’ en ‘Plum Pudding’, Scabiosa columbaria ‘Pink Mist’, Selago glomerata, wildeknoffel (Tulbaghia violacea) en veldknoffel (T. simmleri), Watsonia borbonica, donkerrooi ‘Iceberg’-hoogstamrose, granaat-, appelkoos-, perske- en kweperbome, groot essenhoutboom (Ekebergia capensis)

2. Droog en halfdroog (oggendson):

Koorsboom (Vachellia xanthophloea), aalwyne (Aloe ferox), artisjokke, lourierheining

3 Droog en halfdroog (min son):

Verskeie vetplante

4. Vertoonbedding (volson tot halfskadu):

Agapanthus africanus ‘Nana’, A. ‘Snowball’, boegoe (Agathosma betulina en A. ciliaris), Albuca nelsonii, Chaetacanthus setiger, aasbossie (Coleonema album), kapokbos (Eriocephalus africanus), Felicia ‘Out of the Blue’, Felicia ‘Puntjie Blue’, Helichrysum crispum, Justicia capensis, Pelargonium fragrans ‘Nutmeg’, Seriphium plumosum, Sutera cordata ‘Blizzard’

5. Nieuwestraat-sypaadjie (volson):

Bougainvillea, Plumbago auriculata ‘Royal Cape’, Salvia dolomitica, S. lanceolata, Tecomaria capensis ‘Pink Blush’ en T. c. ‘Salmon’, Leonotis leonurus ‘White Lion’, Buddleja salviifolia

6. Grasse, biesies en restio’s (halfskadu):

Juncus effusus, Ficinia nigrescens, Elegia cuspidata, Dietes grandiflora (son) en Dietes iridioides (halfskadu), Chlorophytum saundersiae

7. Bolle en ander (skadu tot halfskadu):

Agapanthus africanus ‘Nana’, A. praecox, A. ‘Midnight Blue’, Ifafalelie (Cyrtanthus sanguineus), Plectranthus ecklonii ‘Medley Wood Blue’

8. Kruietuin (volson):

Verskeidenheid aromatiese en kookkruie, gerieflik naby die kuierstoep en die kombuis.

Die leiwaterstelsel op die dorp is so oud soos Prins Albert self. ’n Leivoor loop deur die erf, maar ongelukkig kry Liesl-hulle se eiendom nie leibeurte nie. Hulle het besluit om die leivoor deel van die ontwerp van die tuin te maak.

Die eiendom se bestaande draadomheinings was vervalle en is vervang met ’n kombinasie van gepleisterde mure (in die styl van die huis se era), latheinings en klipmure – alles tipies van die Prins Albert-omgewing.

Volgens Shaun vaar vetplante in die warm Karoo goed in droë koeltekolle.

Liesl het vrye teuels gehad met tuindekor en kon op dié manier haar liefde vir beelde en interessante dekoritems uitleef – iets wat ’n mens duidelik in haar tuin kan sien!

Hier snuffel Liesl vir tuindekor

Liesl vertel sy het gedurende die twee jaar lange projek oraloor gesoek na geskikte meubels, beelde en ander tuindekor:

  • Dee Malkinson van Gently Worn buite Stellenbosch (081 022 3460) het my soveel idees gegee om meubels en ander goed op ’n kreatiewe manier in te span – soos die antieke kopstuk en ou lere teen die mure; dis ook waar ek die meeste van die potte, tafels en stoele vir die tuin gekry het.
  • Mariana Botha van BM Interiors op Prins Albert (082 450 0513) het al die kussings gemaak.
  • Karlo and Guy Antiques op Somerset-Wes (071 128 1848) vir die pragtige kruise.
  • Gister op Somerset-Wes (021 852 4827) vir stoepmeubels en houtlere.
  • Delos in Woodstock (021 447 5739, delos.co.za) vir beelde en die kandelabers in die bome.
  • The Crown Collection in Bryanston, Gauteng (011 463 6060, thecrowncollection.co.za) vir stoepstoele.
  • Thistle Cottage Collectables in Claremont (021 683 0060) vir ysterhekkies en tuinmeubels.
  • Strand Trading Post Antiques (021 853 6619) en Art@39 Long op Groot-Brakrivier (044 620 4036) vir beelde.
  • Piér Rabe van Die Strand Huis (021 886 6281).

KONTAKTE

  • Rock of Ages 083 458 5467
  • Photography by Amora amora.co.za

Liesl se tuinwenke

Hoewel Liesl nog ’n groentjie is as dit by tuinmaak op Prins Albert kom, het sy gou geleer wat hier werk!

  • As jy “’n inkommer” is, win plaaslike kennis in. Sonder Shaun sou die tuin nie moontlik gewees het nie.
  • Plant oorwegend inheems, veral in die Karoo. Plante moet hier in die klimaat aard.
  • Gesonde en vrugbare grond is die grondslag van enige suksesvolle tuin. Ons het baie kompos, beenmeel en perdemis ingery.
  • Raak vertroud met die watersituasie van jou omgewing en maak daarvolgens tuin. Ons het nie waterregte soos baie van die huise op Prins Albert nie, dié dat ons ’n boorgat gesink het. Eers op 148 m het ons water gekry, soms ongelukkig brak, maar ons kan dit in die tuin gebruik. Sonder dié water sou ons beslis nie kon tuinmaak nie.
  • Maak jou tuin deel van jou huis; so vergroot jy jou kuier- en leefruimte.
  • Jou tuin moet jou persoonlikheid weerspieël. Ek hou van verrassings in ’n tuin en plaas graag interessante voorwerpe of plante as fokuspunte op onverwagse plekke.
  • Die tuin moet by jou leefstyl pas. As jy min tyd het vir tuinwerk, is ’n tuin met min onderhoud perfek.

Inheemse staatmakers

Shaun het die plantlys saamgestel met inagneming van die klimaat, beskikbare water én Liesl se tuindekor en beelde. “Haar liefde vir ou Frans Provensaalse beelde het ons laat besluit op ’n kleurskema van hoofsaaklik wit, blou en grys. Ons het ook plante gekies wat gereeld blom en min moeite verg. Hoewel die plantlys grootliks uit inheemse staatmakers bestaan, het ons hier en daar plante van elders gaan leen, soos die Engelse laventel, bougainvillea en krismisrose,” verduidelik Shaun.

  • Rooisalie (Salvia lanceolata) is baie gehard en gee kleur.
  • Kaapse kanferfoelie (Tecomaria capensis) lok voëls en is baie kleurvol in die herfs.
  • Dekriet (Thamnochortus insignis) vir ’n speelse gevoel in die wind.
  • Suurkanol (Watsonia borbonica) sorg vir ’n wonderlike winterverrassing wanneer dit weer sy verskyning maak.
  • Aasbossie (Coleonema album) het ’n sagte voorkoms en baie blomme.
  • Wilderoosmaryn (Eriocephalus africanus) se kleur en geur is wonderlik.
  • Felicia amelloides ‘Out of the Blue’ kikker enige tuin op met sy oorvloed blou blommetjies.
  • Helichrysum crispum vir tekstuur en ’n grys kleur.
  • Blousyselbos (Plumbago auriculata) is baie gehard en blom oorvloedig, veral in die somer.
  • Groot wilde-iris (Dietes grandiflora) aard goed in die klimaat en blom sonder moeite