As ’n vetplant op Morné en Christine Faulhammer van Blouberg se stoep staanplek wil kry, moet hy gehard en waterwys wees en boonop min onderhoud verg.

“Ja, ons moet al die regmerkies kan maak voor ons iets plant,” gesels Morné, eienaar van Super Plants Tuinsentrum in Tokai, oor hul pottetuin met sy asemrowende uitsig op Tafelberg. “Ons het van die begin af besluit om net met vetplante in potte en plantbokse tuin te maak. Ons is min tuis, water is skaars en ons woon al lank genoeg in Blouberg om te weet hoe moeilik dit is om plante hier aan die lewe te hou.”

Waar die stoep en pottetuin nou is, was eers ’n oprit. Hulle het dit opgevul, ’n stoep gebou en die ou motorhuis in ’n leefvertrek omskep. Die stoep is ook met ’n effense helling na die straat se kant toe gebou; dit keer dat poele water op die stoep bly staan, iets waarvan vetplante glad nie hou nie.

0916gdnpottuin-003

Die plantbokse is met spesifieke plante in gedagte op die stoep gebou. Voor die venster groei skoonma-se-tong (Sansevieria trifasciata) wat net tot ’n sekere hoogte groei. So word die uitsig uit die huis nie bederf nie en is dit nooit nodig om te snoei nie. Biesiekraanvoël (Strelitzia juncea) groei in die plantboks langs die trappies. Dié plant aard goed by die kus en kan met sy lang, smal blare die sterk wind trotseer.

“Die enigste plant wat na regte nie hier behoort te wees nie, is die Ficus-bonsai. Al die boeke sê hy sal nie oorleef in die wind nie, maar hy floreer! Hy het wel ’n skeefgewaaide suidoostervoorkoms gekry!”

Morné gee raad vir ’n vetplanttuin in potte

 • Vetplante hou nie van baie water of nat voete nie. Moet dus nie te veel natgooi of bakkies onder die potte sit nie.

• Gebruik terracottapotte. Hulle is poreus en van die water verdamp deur die wand van die pot. Kies liewer geglasuurde potte vir plante wat meer water nodig het.

• Die meeste vetplante verkies arm grond en dis nie nodig om iets soos beenmeel by te voeg wanneer jy plant nie.

• Gooi die grond laag vir laag in die pot en kompakteer elke laag. Grond wat nie gekompakteer is nie, het te veel lug, dan loop die water reg deur die pot.

• Voed dwarsdeur die jaar elke twee maande met ’n organiese bemesting met ’n hoë stikstofinhoud.

• Maak seker jy weet waar jou vetplante vandaan kom. As dit natuurlik in ’n somerreënstreek voorkom en jy plant dit in die Wes-Kaap met sy nat winters, is goeie dreinering noodsaaklik.

• Pak ’n swaar laag dreineringsklippe onderin die pot as die plant hoog groei. Dit sal voorkom dat dit topswaar raak en omval. Die klippies help boonop met dreinering. En as jy in ’n plek met baie wind bly, kies laer groeiende plante.

• Indien ’n plant nie gelukkig is nie, skuif dit tot jy sien hy’s tevrede.

0916gdnpottuin-001

0916gdnpottuin-008

0916gdnpottuin-011

0916gdnpottuin-024

0916gdnpottuin-013