“Wanneer ’n mens aan ’n Engelse kothuistuin dink, is rose sekerlik die eerste plant wat by jou opkom,” sê hy. “Tog is dit heeltemal moontlik om met inheemse plante ’n Suid-Afrikaanse kinkel aan dié styl te gee. Gebruik elemente soos informele vormsnoeistruike, paadjies van natuurlike materiaal soos klip of houtskywe, gemengde beddings met ’n informele groepering van plante, en potplante in ’n verskeidenheid potte daarmee saam. Deur inheemse plante te kies het jy ’n tuin in dié styl wat nommerpas is vir die meer geharde Suid-Afrikaanse klimaat.”

Dit was juis die Britse tuinontwerper Gertrude Jekyll wie se manier van tuinmaak tot die eenvoudiger kothuisstyl gelei het. “Sy het al hoe meer klem begin lê op individuele plante en hoe hul karaktereienskappe met dié van ander plante kontrasteer of saamwerk om ’n aantreklike bedding te skep. Haar beddings was plantryk en sy het ’n verskeidenheid plante in groepe – in kontrasterende of komplementerende kleure – saamgeplant. Dit is juis dié informele, gemengde beddings wat ’n tuin ’n natuurlike of kothuisgevoel gee.”

Plumbago auriculata
Carissa macrocarpa
Carissa macrocarpa
Coleonema album


Plantlys en -groepe

Volgens Pietman is daar baie inheemse plante wat in só ’n bedding sal pas. “Kies jou gunstelinge en plant ’n mengsel uit die groepe hieronder bymekaar,” is sy raad. “Dit maak nie saak op watter kombinasie jy besluit nie, solank daar plante uit elke groep in die bedding is. Daar is nog baie ander om van te kies. En vra raad by jou kwekery of naaste botaniese tuin.”

Vir informele vormsnoei en struktuur

• Blousyselbos (Plumbago auriculata)

• Groot-noemnoem (Carissa macrocarpa)

• Bruinsalie (Salvia aurea, voorheen S. africana-lutea)

• Witaasbossie (Coleonema album)

• Treursalie (Buddleja auriculata)

Gloriosa superba
Zantedeschia aethiopica
Veltheimia capensis

Bolplante

• Kandelaar-geldbeursie (Albuca nelsonii)

• Aronskelk (Zantedeschia aethiopica)

• Bos-montbretia (Crocosmia paniculata)

• Sandui (Veltheimia capensis)

• Vlamlelie (Gloriosa superba)  

Helichrysum petiolare
Helichrysum petiolare
Gazania rigens
Gazania rigens
Plectranthus
Plectranthus
Ceratotheca triloba
Agapanthus

Eenjariges

• Vingerhoedblom (Ceratotheca triloba)

• Namakwamadeliefie (Dimorphotheca sinuate en ander spesies)

• Bokbaaivygie (Dorotheanthus bellidiformis)

• Namakwagousblom (Arctotis hirsute)

Meerjariges en struike

• Rankkopieva (Bulbine frutescens)

• Tuinvuurpyl (Kniphofia praecox)

• Wildedagga (Leonotis leonurus)

• Malvas (Pelargonium-spp.)

• Katjiedrieblaar (Knowltonia vesicatoria)

• Salies (Salvia-spp.)

• Spoorsalies (Plectranthus-spp.)

• Hen-en-kuikens (Chlorophytum comosum en ander spesies) 

• Wildeknoffel (Tulbaghia violacea)

• Koringblom (Scabiosa africana)

• Aalwyne (Aloe-spp.)

• Agapante (Agapanthus-spp.)

• Plakkies (Cotyledon-spp.)

• Blousambreeltjie (Felicia amelloides)

• Kooigoed (Helichrysum petiolare)

• Treurbruidsbos (Pavetta lanceolata)

• Rivierverfbos (Indigofera frutescens sin. Indigofera jucunda)

• Soutpansbergsalie (Syncolostemon obermeyerae, voorheen Hemizygia obermeyerae)

• Kaapse kanferfloelie (Tecomaria capensis)

• Pienk-kiesieblaar (Anisodontea scabrosa)

• Watersalie (Tetradenia riparia)

• Botterblom (Gazania rigens)

[Wenke]

• Maak seker die plante wat jy kies aard in jou plaaslike klimaat. Kyk ook of die plant son of skaduwee verkies.

• Groepeer plante in groepe van drie of vyf eerder as om hulle een-een te plant.

• Neem die vorm van die plant en blare in ag wanneer jy besluit wat om waar te plant. Plant byvoorbeeld ’n tuinvuurpyl met lang, reguit blare langs ’n malva met sagter, ronder blare. Die kontras is pragtig.

• Die tekstuur en kleur van die blare is net so belangrik soos die blom.

• Plant kleure in skakerings van blou, pers en pienk saam of skep kontras met ’n helderkleurige aalwyn langs ’n blou agapant.

• Plant bolplante en eenjariges tussen groepe struike en meerjariges. Só bly die bedding interessant in die onderskeie seisoene.

Bron Waterwise Gardening in South Africa and Namibia deur Ernst van Jaarsveld

KONTAK Pietman Diener pieterdiener@gmail.com