Foto’s Sharmine Livingstone en Chrissi van Dyk

WIE WOON HIER? Willem en Laurette Esterhuyse
WAAR Langstrand (tussen Swakopmund en Walvisbaai), Namibië
GROOTTE VAN KUNSGRAS-DEEL 40 m²

’n Huis in die woestyn en net ’n klipgooi van die strand klink dalk eksoties – en dit ís ook. Maar as jy ’n grasperk wil hê, is dit ’n heel ander storie.

“Daar was heeltyd sand in ons huis,” vertel Laurette, “veral met ons twee Staffie-kinders, Josef en Sofia, wat graag in die sand rol. Dit het soms vir my gevoel ek vee Duin 7 – die hoogste duin in Namibië, hier tussen Swakopmund en Walvisbaai – by die huis uit!

Aanvanklik het Laurette en Willem gras geplant, maar dit het ’n fortuin aan water en oplossings gekos om aan die lewe te hou. “Dit wou nou maar eenmaal nie floreer nie,” onthou Laurette. “Boonop het die voete voordeur toe ’n paadjie deur die grasperk gelaat, en op die ou end was daar meer sand as gras.”

Omdat water skaars en duur is in hul geweste, het die twee verskeie waterwys opsies oorweeg. “Teëls, ’n houtdek of ’n sementblad was op ons lysie, maar ons hou nou maar eenmaal van groenigheid en wou nie van die idee van gras afsien nie. Willem het by vriende in die Kaap gaan kuier en daar die plan van plaveiblokke met kunsgras tussenin gekry.

“Toe vra ons raad by Werner Kotze van Perfect Settings in Kaapstad wat dit vir ons vriende gedoen het en pak die projek op eie houtjie aan.” Sy vertel hoe hulle die projek aangepak en binne vyf dae kafgedraf het ...

Laurette en haar regterhand, Freddi Nakapipi.

Die projek

Toe ... en nou

1. Eers is die oorblywende regte gras verwyder. Die sand is met ’n kompakteerder gelykgemaak en elke klippie is opgetel. Toe is die skoongemaakte oppervlak goed natgemaak en weer gekompakteer, aangesien die blokke stewig gelê moet word sodat dit nie later skuif nie. As ekstra versterking is ’n rand met ou plaveistene gebou om te verseker dat als netjies op hul plek bly.

2. Volgende moes ons besluit wat die spasie tussen die plaveiblokke gaan wees. Dit is belangrik dat dit deurgaans presies ewe groot is – ons het sommer ’n pleisterplank as maatstaf gebruik. Die sementblokke van 45 x 45 x 4,5 cm is baie sorgvuldig gelê en met ’n rubberhamer vasgestamp. Dié deel van die projek het heelwat tyd geneem. Nadat die blokke gelê is, is dagha (1 deel sement tot 3 dele bousand) tussen die blokke gegiet. Ons wou nie hê die kunsgras moet te hoog bo die sementblokke uitsteek nie en het die sement tot net onder die sementblokke se bokant gegiet. Maar dis ’n persoonlike keuse – elkeen kan besluit hoe hoog hul gras moet “groei”! Ek het met ’n dun plastiekpypie dreineringsgaatjies gemaak deur eenvoudig die pypie deur die nat sement tot in die sand te druk. Dit verseker dat die kunsgras goed dreineer.

3. Toe die sement droog genoeg was, het ek en Freddi ingespring om die gras netjies te sny en te lê. Al die stroke se halms moet in dieselfde rigting lê om natuurlik te lyk.

Ons het die gras op die sement geplak met Alcolin Contact Adhesive, wat bestand is teen hitte en nattigheid. Jy smeer die gom aan die sement en dan moet jy die gras posisioneer en plak voor die gom verhard. Verwyder dadelik enige gom wat op die sementblokke beland. Dis moeilik om later af te kry – ons moes maar verdunner en skuurwol inspan!

Laurette het die orige kunsgras en plaveisel by die swembad gebruik – en sommer ook ’n muur verfraai! “Ek het dié boompie-plakkers en blaartjies wat so waai by ons plaaslike Chinese winkel gekoop. Die wind waai baie hier by ons, so dis gepas! Die wit en pers lobelias in potte lyk asof dit onder die bome groei. Dit het die swembadarea dramaties opgevrolik, met baie min geld!”

Kies die regte plante

Plante in potte verleen kleur en tekstuur aan die stoep.

1. Suurvy 2. Aalwyne 3. Magrietjies 4. Varkoorplakkie 5. Suurvy

Malvas en skoonma-se-tong aard fantasties hier. En verbasend genoeg het ons almal die mooiste varkore! – Laurette

Woestyntuin-wenke

Laurette sê as jy tussen ’n woestyn en die see wil tuinmaak, moet jy jou grond verryk, slim werk met water en die regte plante kies:

1. In nuwe beddings grawe ons die seesand diep uit om die sout daarin te vermy, vervang dit met skoon riviersand en voeg beenmeel, kompos en mis by.

2. Ek sny die bodems van 2-liter-plastiek-bottels af en sit dit onderstebo in die grond langs van die palmbome. Dan maak ek die bottels vol water, en die tregter-vormige nekke laat dit stadig uitloop tot by die wortels.

3. Waterwys plante wat van baie son hou, is die antwoord:

  • Aalwyne is ’n staatmaker in ’n bedding, saam met skoonma-se-tong (Sansevieria trifasciata) en Agave attenuate.
  • Varkoorplakkie (Cotelydon orbiculata) hou van goed gedreineerde grond in droë dele, dus perfek vir ’n woestyntuin.
  • Suurvy (Carpobrotus edulis) is ’n goeie dekplant wat met baie min water in arm grond – soos hier by die see – kan oorleef.
  • Potte vol magrietjies (Argyranthemum-hibriede) sorg feitlik die hele jaar vir kleur by die voordeur. Hulle het net meer water as die vetplante nodig.

Kunsgraswenke

  • Maak doodseker die oppervlak is gelyk voor jy die plaveiblokke begin lê. En sorg dat die blokke presies ewe ver van mekaar is, anders gaan die eindresultaat nie mooi lyk nie.
  • Gebruik kunsgras van goeie gehalte en nie goedkoop gras wat binne ’n paar jaar verbleik nie. Betroubare verskaffers van kunsgras gee gewoonlik jare lange waarborge.
  • Gebruik ’n goeie matmes (om my duur Victorinox-mes uit my kombuislaai in te span, was nie juis ’n goeie idee nie). Die sny van die gras was vir my die veeleisendste deel van die projek.
  • Indien jou omgewing baie reën kry en die gras-oppervlakte groot genoeg is, sou ek aanbeveel dat die blokke en gras met ’n effense helling gelê word sodat die water kan wegloop. Maar aangesien ons in die woestyn bly en dit min reën, is die dreineringsgate wat ons gemaak het, voldoende.
KONTAK
Perfect Settings Landscaping 082 562 5410, perfectsettings.co.za