Foto’s Kosie Jansen van Rensburg l Stilering Melissa Rautenbach
Conrad Conradie en Louise Steenkamp hou daarvan om dinge te laat groei. Selfs in ’n kelderwoonstel in die hart van Londen het dié twee plantliefhebbers tuin gemaak.
“Ons het vir ’n hele paar jaar deur Europa en Afrika gereis en in ons vroeë dertigs teruggekom na Wellington, Conrad se grootworddorp. Hier het ons teen die hange van die Groenberg grond gehuur en organiese groente begin kweek,” vertel Louise. “Met die produkte het ons groentebokse aan huishoudings en restaurante in die Boland verskaf. Een jaar was daar nie veel aanvraag vir artisjokke nie en dié wat in die grond agtergebly het, het ontpop in die mooiste blomme. Ek onthou nog ek was effens teleurgesteld. Om te dink dié lekker kos wat verlore gaan, want self kon ons dit nie vinnig genoeg opeet nie.