Foto’s Francois Oberholster en verskaf

In dié bedding is hoofsaaklik gespikkelde muishondblaar (Plectranthus ciliatus) en varkore. Plectranthus ‘Mona Lavender’ vorm ’n pers strook voor die Australiese waterbessie-heining wat later die bure heeltemal gaan wegsteek.

WAAR

Durbanville

GRONDTIPE Leem

Ou stene is hergebruik vir die patio. Die rande is gepak met die stene se reguit kante na buite en die gebreekte sye na binne, en stene waarvan al vier sye stukkend was, is as vulling gebruik. ’n Tafelblad van ou palethout is op ’n gietyster- poot van Plaisir du Jardin geplaas. 

Daar is een groot nadeel en een groot voordeel daaraan om ’n nuwe tuin vir ’n huis wat verhuur word, te ontwerp. Die nadeel is dat jy nie weet vir wie jy die tuin moet inrig nie. Sal daar byvoorbeeld kinders wees, want dan moet daar speelplek wees? Sal die huurders genoeg belangstel in tuinmaak om die tuin in stand te hou en te versorg?

Die voordeel – en dit blyk baie groter as die nadeel te wees – is dat ’n goed ontwerpte tuin ’n huurhuis se waarde soveel kan opstoot dat dit in ’n hoër prysklas verhuur kan word. Wouter Kruidenier, ’n tuin- ontwerper van Durbanville buite Kaapstad, moes ’n ruk gelede dié uitdaging te bowe kom.

“Die tuin van dié huis in die noordelike voorstede was ’n deurmekaarspul. Daar was geen struktuur nie en geen skakel met die huis nie.”

Dit beteken daar was geen natuurlike vloei wat ’n mens met uitsigte en uitgange buitentoe lok nie.

“Die kliënt wou die eiendom verbeter sodat dit opnuut vir huurders aangebied kan word in ’n hoër prysklas as tevore. Ek moes hom oorreed om meer te bestee as wat hy wou, sodat ons die huis kon gee wat daarby hoort: ’n gehalte-tuin met struktuur en een wat min onderhoud vra,” sê Wouter. “Ons het in ag geneem dat daar moontlik mense met klein kindertjies kan intrek of mense met ’n toesluit-en-ry-leefstyl, daarom was die kunsgras noodsaaklik. Groot grasperke is in ieder geval nie ideaal in ons wêreld met sy watertekort nie.”

Verskillende vlakke maak die tuin interessanter. Hier verskaf Tradescantia zebrina se donkerpers blare nog ’n laag kleur in ’n verhewe bedding.

Formeel én informeel

Waar voorheen ’n taamlik slordige tuin was met hobbelrige plaveisel, struike wat lyk of hulle sukkel en geen behoorlike kuierplek nie, stap ’n mens nou in op ’n lushof. Dis ’n prentjie van groen met hoë bome wat netjies oopgesnoei is, ’n agtergrond van mure wat besig is om toegerank te word en oral fokuspunte wat die oog nooi om te kyk: potte met blomplante, ’n voëlbad, ’n giet- ysterhekkie by ’n houtprieel waaroor ’n pienk rankroos begin tuimel...

Wouter verduidelik die styl waarop hy besluit het: “Dit moes ’n kombinasie van formeel en informeel wees aangesien ons baie plaveiblokke en gebreekte stene wou hergebruik. “Die plaveisel is opnuut gelê, maar dié keer in ’n formele patroon. Dit was nie ’n straf om die ou goed weer te gebruik nie, want die gebreekte stene met wit sement tussenin is baie mooi, solank die rande van die oppervlakke net mooi reguit is.”

Wouter sê as ’n mens growwe bruin sand saam met wit sement gebruik, kry jy ’n mooi sandsteenvoorkoms. “As jy gewone wit sand gebruik, lyk dit te klinies – tensy dit natuurlik presies is waarna jy soek.”

Die beperkte begroting waarmee hy moes werk, was ’n kopseer.

“Die tuin kom mos áltyd laaste aan die beurt. Soos my Hollandse oupa altyd gesê het, dit suig aan die laaste speen wanneer die koei eintlik al leeg is.

“Dit het oortuiging gekos om meer te bestee en die tuin ordentlik te doen pleks van ’n vinnige oplossing te kies wat nie lank sou hou nie.

“Ons het by hierdie tuin in Durbanville heelwat gespaar deur hergebruik. Ook plante is hergebruik. Daar was ’n paar verskillende bolsoorte in die tuin wat ons tydens die grondwerk versamel het en agterna weer in groepe teruggeplant het. Verder is baie steggies gemaak en struike is verplant uit ander tuine waar dit uitgehaal moes word.”

Die storie het ’n gelukkige einde. “Al die oorreding was die moeite werd, want die kliënt was baie in sy skik met die tuin en nie spyt dat hy meer moes uithaal as waarvoor hy aanvanklik begroot het nie!” 

’n Kunstige kombinasie van gebruikte stene, mondogras en dolomietgruis.

Roosmaryn, origanum en tiemie groei geil in die kruiebedding.

Wat rank en ruik dan nou lekkerder as sterjasmyn (Trachelospermum jasminoides)?

Probleme en oplossings

Dié projek het ingeboude probleme gehad, soos die grondsoort (leem), baie skaduwee en ’n helling.

Hoewel daar soveel skaduwee is, is daar in sekere dele vir ’n paar uur per dag direkte son. Plante moet dus albei toestande kan hanteer. Die gebrek aan water weens die droogte en ’n beperkte begroting was ook problematies.

Wouter se raad vir mense met soortgelyke probleme is om vooraf jou huiswerk baie goed te doen en plante reg te kies – plante wat nie geskik is vir die tuin se omstandighede nie moet dikwels vervang word, wat ’n mors van geld is.

Stel ’n lys saam van plante wat wel in dié spesifieke toestande sal aard en maak dan jou keuse daaruit volgens hoogte, kleur en die digtheid wat die plante sal verskaf.

Pandorea jasminoides

Alles wat hier staan, was in die tuin. Wouter het net nog meer Tradescantia zebrina (onder op die voorgrond) en verbleikblomstruike ingebring. Kappertjies klim teen die draadheining op.

Foute wat op die voor-foto’s  te sien is:

1 Geen fokus in die kuierarea nie.

 

2 & 3 Te veel verskillende soorte afwerking: bakstene, rivierklippe en sement-plaveiblokke. 

4 Kaal kolle onder die bome weens arm grond of kompetisie met wortels.

5 Rande wat nie netjies onderskeid tref tussen die bedding en die res van die tuin nie.

6 Groot struike wat in klein beddinkies geprop is. Ruigtespoorsalie (Plectranthus madagascariensis ‘Variegata’)

KONTAK EN VERSKAFFER

De Kruidenier Eksklusiewe Tuine info@dekruidenier.co.za

Plaisir du Jardin 021 794 4449