Foto’s Amora Erasmus

WIE WOON HIER?

Desmond (Benk) en Philda Benkenstein, Juno die bull mastiff en 10 Boschveld-hoenders

WAAR George

GROOTTE 3 750 m²

GRONDTIPE Leem

Met dié metaalstruktuur het die Benkensteins ’n skaduryke sitplek in die tuin geskep. Hieroor rank kiwivrugte en ’n ‘Sally Holmes’-roos.

Wat eers deel was van ’n appelplaas, is nou ’n droomtuin in die hartjie van George. “Ons het die plek in 1994 gekoop,” vertel Desmond (Benk) Benkenstein oor dié stuk grond waar hy en sy vrou, Philda, ook die gastehuis Fairview Homestead bedryf.

Toe die Benkensteins 25 jaar gelede hier begin het, was die huis verwaarloos. Daar was ook nie veel van ’n tuin nie. Hulle het ’n jaar lange restourasieprojek aangepak van die huis, wat uit 1861 dateer. “Dit het my oorgenoeg tyd gegee om die tuin tydsaam te beplan en die grond goed voor te berei voor ons ingetrek het.

“Ek het begin bome plant, waaronder amberbome, Japannese esdorings, ’n koperbeuk, ’n inheemse kannabas en ’n pragtige rivierverfbos.”

Benk het beddings aangelê, ’n groot groentetuin gemaak en met harde werk die werf in ’n pragtige tuin omskep. “Ek praktiseer nog voltyds as mediese dokter en die tuin maak my kop skoon. Tyd vir gimnasium toe gaan en gholf speel is daar nie. In die somer sit ek voor werk ’n uur se tuinwerk in en ná werk soms twee uur as die weer saamspeel. Steven Kanyada is my regterhand. Hy werk drie dae per week in die tuin, wat my baie help.”

Delphinium

Benk se liefde vir tuinmaak kom van sy kinderdae af. “Ek was een van ses broers. My pa was ’n bosbouer en het altyd ’n groentetuin gehad om in ons groot gesin se behoeftes te voorsien. My ma het met beperkte fondse oral waar ons gewoon het ’n spogtuin tot stand gebring. Vandag het my broers, nes ek, steeds ’n groot liefde vir tuinmaak en groente plant.”

Vanuit die Kaaps-Georgiaanse huis het jy ’n pragtige uitsig op verskillende dele van die tuin, soos die formele roostuin en sirkelvormige roostuin met die gemengde beddings in die agtergrond.

Die groentetuin

’n Kombuistuin met ’n groot verskeidenheid organiese groente en kruie is vir Benk ’n prioriteit. “Ek kweek groente en kruie wat ons eet. Hier groei onder meer blaarslaai, knoffel, uie, spinasie, murgpampoentjies, eiervrug, fynboontjies, tamaties, krulkool ... eintlik te veel om op te noem. Ons het krulkool begin plant nadat ons die Portugese Camino gestap het. Daar het elke huis ’n paar krulkoolplante in die voortuin. Ons gebruik die sagter blare en die hoenders kry die harder blare.

Drie jaar gelede het ons twintig aspersieplante present gekry en dit vaar besonder goed. Philda kan soggens wanneer sy kruie pluk sien of daar ’n aspersie of twee is om te oes. Dit sit sy graag saam met omelette aan ons gaste voor vir ontbyt. En sedert ons eerste pikantrissie vanself opgekom het, kweek ons dit met groot sukses.”

Benk se groentetuinraad

• Kies jou groentebedding se plek met sorg. Dit moet sowat ses uur son per dag kry.

• As jy wil groente eet, moet jy dit kos gee. Ek het drie komposhope en vul dit aan met hoender- en duiwemis. Met dié kompos, wurmkompos en -tee van ons wurmplaas en Atlantic Fertilisers se Bio Ganic All Purpose kry die groente als wat hulle nodig het.

• Met ’n groentetuin naby die kombuisdeur is dit gerieflik om groente te oes én maklik om ’n teesakkie en ’n bietjie koffiemoer by die grond in te werk. In die kombuis het ons verskeie houers vir eierdoppe, groenteskille, koffiemoer en teesakkies. Aan die einde van elke dag word dit op die komposhoop leeggemaak. Die eierdoppe druk ons fyn en dan strooi ons dit rondom saailinge om die slakke weg te hou.

• Ek spuit elke twee tot drie weke twee Disprin-tablette opgelos in 15 liter water op jong groenteplante (dit is veral goed vir tamaties). Dit bied beskerming teen siektes en swamme en moedig groei aan.

‘Johannesburg Sun’

Twee roostuine

In die voortuin is ’n formele roostuin wat in agt blokke verdeel is. “Daar is twee blokke met rooi rose, twee met geel en wit rose, twee met pienk rose en twee met appelkooskleurige rose. Die appelkooskleurige ‘Just Joey’ groei feitlik ’n hele blok vol; dit is Philda se gunsteling-plukroos,” verduidelik Benk. “Verder het ons meestal rose gekies wat sterk groeiers is en weerstandig is teen siektes. In een van die blokke groei byvoorbeeld ‘Queen Elizabeth’. Ons het jare in Walvisbaai in Namibië gebly en dié roos daar geplant. Dis een van die gehardste rose wat jy kan kry.” Ander staatmakers is ‘Pretoria Boys Centenary’, ‘Cora Marie’ en ‘Johannesburg Sun’.

Daar is ook ’n sirkelvormige roosbedding waar ’n verskeidenheid floribundas en hibriedteerose groei. Gunstelinge in dié bedding is die ‘Icebergs’, ‘My Granny’ en ‘Pearl of Bedfordview’.

Benk spuit in die groeiseisoen die rose elke tien dae met ’n mengsel van swamweerders en Trelmix as blaarvoeding. Buiten die Bio Ganic-produk as organiese grondvoeding word die rose elke drie maande gevoed met Ludwig’s Vigorosa, terwyl dit ook gereeld ’n deklaag van kompos kry, net soos die res van die tuin. Benk vul sy eie kompos aan met ’n bakkievrag sampioenkompos.

Omdat George dwarsdeur die jaar reën kry, gee Benk die rose net in droogtetye water (sien Benk se waterwenke).

Waterwenke

Fairview se tuin word met kombuis- en tenkwater natgelei. “Jy sal verstom wees hoeveel skoon afspoelwater jy kan opvang in ’n plastiekbak in die kombuiswasbak. Dit gaan na die groente- en kruietuin naby die kombuis. Ek het ook vier watertenks met ’n totale inhoudsmaat van 15 000 liter op verskillende plekke in die tuin. By net twee is ’n pompie nodig om water mee te spuit; uit die ander twee kan ons met behulp van gravitasie water lei. Ons het visnet om die tenk naby ons agterstoep gespan waarteen ’n Mexikaanse trompetblom-ranker groei om dit minder opsigtelik te maak.”

Strukture en tuinkamers

Nadat Benk en Philda se kinders uit die huis is, is die grasperk heelwat kleiner gemaak en het hulle met metaalafskortings twee baie definitiewe tuinkamers geskep. Die tuinkamer aan die voorkant van die huis is meer formeel om by die argitektuur van die Kaaps-Georgiaanse huis te pas. Dit is hier waar Benk die formele roostuin aangelê het. Die ander tuinkamer is meer informeel met ’n gemengde bedding wat die formaliteit versag. Die sirkel-roosbedding is ook hier.

Teen die metaalafskorting groei onder meer rose soos ‘Albertine’, ‘Cécile Brünner’, ‘New Dawn’, ‘Dorothy Perkins’ en ook klimplante soos bloureën en grenadellas. Die grenadellas groei besonder goed en oor die prieel op die voorstoep groei katôba-druiwe. Van albei maak Philda die heerlikste sap wat sy in die gastehuis bedien.

Gemengde bedding

In die meer informele tuinkamer is Benk se gemengde bedding. Hier groei ’n groot verskeidenheid blomme wat deur die jaar kleur gee.

“Ek volg die beginsel van laer plante voorlangs en hoogte agtertoe met ’n aksentblom, soos die appelkooskleurige dahlia, om die oog te vang,” gesels hy. “Voor plant ek graag wildeakeleie en laaggroeiende Geraniums. Vir hoogte plant ek pronkridderspore, stokrose en vingerhoedjies. Ander staatmakers in die bedding is Scabiosas, Echinacea, Inkalelies, Penstemons, Rudbeckia, agapante, shastamadeliefies en Lychnis coronaria.

“Ek is lief vir pienk, blou, wit en sagte pastelkleure soos liggeel en ’n ligte perskekleur. Deur kleurvolle blomplante met meer loofryke plante soos Euphorbias, ornamentele grasse en salies te omraam, word die blomme in die bedding geaksentueer. Dié plante gee heeljaar vorm en struktuur aan die bedding.”

Benk hou van plante wat hoogte gee, soos pronkridderspore, vingerhoedjies, tabakblomme, stokrose, Verbascum, Rudbeckia en Agastache. Hier is pronkridderspore vol in die blom. Hooggroeiende plante soos dié word met riete of metaalstawe gestut om te keer dat hulle omwaai.

Onkruidmat

Benk het sowat twee jaar gelede alles in dié gemengde bedding uitgehaal. Hy was moeg vir heeltyd onkruid uittrek en het besluit om sy werk te verminder met ’n onkruidmat. Dit hou onkruid uit, maar laat water deur. Eers is ’n massa kompos in die bedding ingewerk en toe is die mat daarop neergesit. Daarna is gate in die onkruidmat gesny waarin die een- en meerjariges geplant is; ’n deklaag van houtskaafsels steek die mat weg. Hoewel daar steeds onkruid in die gesnyde gate opkom, is dit nie naastenby so baie soos vroeër nie. Die enigste probleem is dat selfsaaiers soos papawers nie in ’n bedding met onkruidmat kan opkom nie. Die een- en meerjariges in die bedding is 30–40 cm uit mekaar geplant. Hoewel dit aanvanklik effens kaal vertoon, groei dit gou toe. Plant jy dit te naby aan mekaar, het die volwasse plante nie genoeg groeiplek nie.

Dié metaalstruktuur in die gemengde bedding dien ’n dubbele doel. Dit is ’n fokuspunt én stut die appelkooskleurige dahlia wat Benk as ’n aksentplant gebruik.

 

Benk se gunstelinge

“Ek is ’n plantliefhebber en hoe meer, hoe beter. Dit is vir my moeilik om my te beperk tot tien gunstelinge,” vertel Benk. “Waarskynlik sal ek môre aan nog drie dink wat tot elke prys op my lys moet wees! Ek maak graag steggies en kweek plante van saad, en hou van selfsaaiers soos papawers.”

Onder sy groot liefdes is:

• Wildeakelei (Aquilegia vulgaris), wat sagtheid aan ’n bedding gee.

• Die hibriedteeroos ‘Just Joey’ vir sy heerlike geur; dit is ook ’n sterk groeier.

• ‘Albertine’-rankroos is ’n welige groeier met ’n geurige pienk roosknop.

• Bosviooltjie (Barleria repens) is ’n goeie heiningplant; dit is inheems en droogtebestand.

• Pronkridderspore (Delphinium x elatum) is my eerste keuse vir hoogte en as aksentplant. Maar stokrose (Alcea rosea) het ’n sterk tweede plek!

• Krismisrose (Hydrangea-spesies) blom heelsomer en is ’n goeie plukblom.

• Vir ’n rankplant kies ek Cobaea scandens. Dié besonderse blom is eers groen en verkleur tot ’n diep pers.

• Salies – ek het ’n groot versameling van die salie-familie in my tuin.

• My gunsteling- inheemse boom is die wildekastaiing (Calodendrum capense); as uitheemse boom verkies ek die Japannese esdoring (Acer palmatum).

KONTAK

Fairview Homestead 044 874 7781