Struktuur, trappies, muurtjies én baie blomme – dit is die tuin-elemente waaroor Beatrice Moore-Nöthnagel, jare lank ’n Tuis-redaksielid en nou ’n gereelde medewerker, gedroom het.

Maar hul erf was skuins en die grond pure klei. Sy en haar man, Christo, het gou besef self gaan hulle nie die tuin van hul drome regkry nie en het Wouter Kruidenier van De Kruidenier Eksklusiewe Tuine se hulp ingeroep.

“Ons het koppe bymekaargesit en ons wense met hom gedeel,” vertel Beatrice. “Alles wat verder hier gebeur het, is te danke aan Wouter en sy span. Hy het die plan geteken, plante gekies waarvan ons baie hou en die hele projek bestuur. Ek sê altyd vir mense ons het besluit om nie by ons huis aan te bou nie, maar om vir ons ’n tuin te ‘bou’. Die tuin verskaf vir ons ongelooflik baie plesier. Dit was elke sent werd!”

WIE WOON HIER?

Beatrice en Christo Nöthnagel en hul drie kinders, Emma (9) en die tweeling Philip en Nielen (3)

WAAR Durbanville

GROOTTE VAN TUIN 418 m²

GRONDTIPE Kleigrond met ’n bolaag van leemgrond

Die roostonnel wat die swembadtuin met die voortuin verbind, gee struktuur aan die tuin. Rooi bakstene en sementoppervlakke is deurlopend gebruik om ’n geheelbeeld te skep.

Die projek het in April 2015 afgeskop en sowat nege weke geduur (die swembad is vooraf ingesit). Só is dit aangepak:

Eers moes hulle gelykmaak

Die erf se helling het tuinmaak bemoeilik. Benewens die grond wat vir die swembad uitgegrawe is, is nog sowat 85 kubieke meter goeie leemgrond ingery om die oppervlak gelyk te kry. Met dié goeie tuingrond as bolaag was die swak kleigrond ook nie meer ’n probleem nie. In die laer dele van die tuin is sypelslote ingesit om met dreinering te help. ’n Stewige lae stutmuur is ook tussen die swembad en die grensmuur gebou om die gewig van die ekstra grond te dra en te keer dat die grensmuur omval.

Voor

Eers die swembad

Strukture kry vorm

Oral in die tuin is gesnoeide heinings. Dit gee ook struktuur aan die kamers en word gebruik om grensmure toe te groei, privaatheid te gee en groen mure te vorm.

Toe kon hulle strukture begin bou

Met die grond gelykgemaak, kon muurtjies en trappies gebou word; dit het verskillende vlakke en tuinkamers geskep. Sementpaadjies met ’n rooi baksteenrand wat by die rooi sierstene van die huis aansluit, verbind die verskillende dele van die tuin. Danksy dié randafwerking vorm die tuin en huis ’n eenheid.

Die Nöthnagels hou baie van die voorkoms van klein klompiestene en wou dit graag in die tuin gebruik. Maar dié stene is duur en om genoeg vir al die paadjies en muurtjies te koop, sou te veel kos. Wouter het toe klas 2- rooi De Hoop-bakstene van Corobrik gekies en op hul kante gedraai; só het hy min of meer dieselfde voorkoms met veel goedkoper stene geskep. 

TUINKAMERS

Illustrasie Jade Cupido

Kleur gee lewe

Die sementoppervlak wat vir die paadjies en bankies gebruik is, skep ’n aardse en tydlose gevoel. Van die sementmure, asook die pizzaoond, is met ’n rooi ysteroksiedpoeier geverf om dit ’n roesbruin voorkoms te gee. Die poeier is by ysterwarewinkels te koop; dit word met water gemeng en aangeverf en hoef net een keer gedoen te word om permanent dié voorkoms te skep. Klipbekleding is as tekstuurryke afwerking rondom die pilare by die roostonnel en die kuierarea gebruik. Dit is met die hand gekap en soos ’n legkaart inmekaargepas.

Die sementbankies en pizzaoond is perfek vir heerlike buitekuiers, so ook die vuurput waarin woestynrosies pryk wanneer dit nie gebruik word nie.

Merantibalke van Rare Woods SA; klipwerk deur Van Staden Retaining Systems

Tjienkerientjees

PLANTLYS

’n Verskeidenheid heiningplante skep struktuur, kontras en privaatheid:

• Australiese jamboes (Syzygium paniculatum)                

• Chinese baniaan of Indiese lourier (Ficus microcarpa)

Ficus ‘Hawaii’ en F. ‘Gold King’            

• Witpeer (Apodytes dimidiata)

• Teerhout (Loxostylis alata)              

Viburnum sinensis en V. tinus ‘Compactum’

• Tjienkerientjees

Kruipvy versag die huis se baksteenmure; herhaling van dié element skep eenvormigheid. 

Verskillende vertrekke

Die tuin is in ses tuinkamers verdeel, elk met ’n eie karakter en kleurskema:

1 Hooftuin met waterfokuspunt

’n Hoë heining van Australiese jamboes vorm ’n digte groen muur aan die sykant van die erf en verbloem die inrit. Stap jy van die inrit deur die ingang in dié heining, is die waterfokuspunt in ’n sirkelontwerp die eerste ding wat jy sien. Dié elemente gee struktuur aan die voortuin, wat verder beklemtoon word met netjies gesnoeide lae soutbosheinings. Blou, pers en wit is die kleurskema in dié deel van die tuin. In die fontein spuit die boorgatwater tot die kinders en honde se plesier! Dit lok baie voëls en die klank van die water kan tot in die huis gehoor word.

’n Oorvloed reusepapierblomme groei in die beddings wat deur die soutbosheining omraam word. Bolle soos tjienkerientjees en Hollandse irisse gee seisoenale kleur.

Plantlys

Blou, wit en pers blomme verskaf kleur in die voortuin:

Buxus microphylla ‘Faulkner’ rondom die fontein

• Reusepapierblom (Limonium perezii)

• Bolplante soos tjienkerientjees (Ornithogalum thyrsoides-hibriede) en Hollandse irisse

• Soutbosheining (Einadia hastata) vir kontras

Ons geniet die tuin vanuit elke vertrek van die huis. Daar is reg deur die jaar iets wat blom en vir ons plesier gee.
– Beatrice

2 Onthaalarea

Wat voorheen net ’n ongelyk, dooie hoek was, is nou die heerlikste kuierplek! Die bestaande grensheining van Australiese jamboes het hoog genoeg gegroei dat dit die bure se dubbelverdiepinghuis wegsteek en daarom is dié deel heerlik privaat. Die onthaalarea is ’n trappie hoër as die swembadtuin om die gevoel van ’n aparte tuinkamer te skep. Die vloer is ’n kombinasie van sement en rooi bakstene. Pilare is gebou en ’n merantiprieel opgesit omdat dié kol baie warm kan raak. Hieroor groei sierdruiwe en ’n verskeidenheid jasmyn wat op verskillende tye blom en heerlik ruik.

Praktiese jarrahoutmeubels wat permanent buite kan staan, is perfek vir die onthaalarea. Dis ongeseël en word net twee tot vier keer per jaar met ’n spesiale plantseep gewas. ’n Groot lantern sorg vir atmosfeer saans.

Tafel en stoele van Hope Garden Furniture; pizzaoond van Italoven; lantern van Ambiente Luce

Plantlys

Klim- en sierplante verfraai die onthaalarea:

Azalea-hibriede

• Sterretjiesjasmyn (Jasminum multipartitum)

• Sterjasmyn (Trachelospermum jasminoides)

• Vergeet-my-nie-boom (Duranta erecta ‘Sheena’s Gold’)

• Verbleikblom (Brunfelsia pauciflora ‘Eximia’)

• Vingerhoedjie (Digitalis purpurea)

• Kraanvoëlblom (Strelitzia reginae)

• Japanse kalmoes (Acorus gramineus ‘Golden Edge’)

• Spieëlplant (Coprosma repens ‘Marble Chips’)

Viburnum tinus ‘Compactum’

Pienk is ons gunsteling-kleur!
– Beatrice

3 Onderste vlak

Hier groei ’n groot verskeidenheid pienk blomme wat veral in die lente kleur gee. ’n Geroeste staalpot met ’n Franse voorkoms van Plaisir du Jardin is die fokuspunt in dié tuinkamer. Dit is simmetries geplaas en vorm ook die middelpunt as jy van die swembadtuin deur die roostonnel na die pienk tuin kyk.

Plantlys

Dié plante sorg dat daar vir lang tye pienk blomme is:

• Inkalelies (Alstroemeria aurea)

• Suurberggrasklokkie (Dierama pendulum)

• Hibiskusse (Hibiscus rosa-sinensis)

• Verskeie malvas (Pelargoniums)

• Egiptiese sterrebondel (Pentas lanceolata)

• Persblaarkersiepruim (Prunus cerasifera ‘Nigra’)

• Indiese meidoring (Rhaphiolepis x delacourii Kruschenia’)   

Watsonia-spesies

• Olifantsoor (Alocasia macrorrhiza) vir struktuur en rondgesnoeide spikkelblaarkasuur (Pittosporum tenuifolium ‘Garnettii’) vir hoogte   

 

 4 Voordeurtuin

Hier is hoofsaaklik skakerings van herfskleure met spatsels pienk. Twee amberbome se blare verkleur pragtig in die herfs en beklemtoon die kleurskema. Leiklipteëls by die voordeur is opgekap en vervang met ’n sementoppervlak met ’n rooi baksteenrand wat by die paadjie na die waterfokuspunt aansluit. Die houtvoordeur is blougrys geverf (Tjhoko Paint se Godfrey’s Glimpse) en ’n hangmandjie met rooi malvas skep kontras.

Plantlys

Dié plante se herfskleurige blare en blomme groet jou met die intrapslag:

• Amberbome (Liquidambar styraciflua)

• Josefskleed (Alternanthera ‘Purple Knight’)

• Inkalelies (Alstroemeria ‘Indian Summer’)

• Kanna (Canna ‘Tropicanna’)

Crassula multicava ‘Maroon’

Carex-grasse

Dodonaea viscosa ‘Purpurea’

• Teeboom (Leptospermum scoparium ‘Big Red’)

• Heilige bamboes (Nandina domestica)

• Kruipvy (Ficus pumila) versag die mure

5 Swembadtuin

Dié tuin is op ’n hoër vlak as die voortuin; trappies van rooi bakstene verbind die twee dele. Dis aan die westekant van die huis en raak daarom baie warm in die somer. Langs die swembad groei blou blomme, en ’n heining van Duranta erecta ‘Sapphire Showers’ versteek die grensmuur. Hier plant Beatrice eenjariges soos petunias in die somer en gesiggies in die winter vir kleur. Die swembad het ook ’n rooi baksteenrand om by die res van die tuin te pas. Vanaf die swembad is daar deur die roostonnel ’n uitsig op die pienk voortuin met die geroeste ysterpot as fokuspunt.

Dié druiwe bo die stoep is heerlik! Dit word elke week vandat die korrels verskyn, met Margaret Roberts Organic Fungicide gespuit en die trosse word met bruinpapiersakkies toegemaak sodat voëls dit nie eet nie.

Ligte in die tuin omskep die plante saans in fokuspunte en verlig die tuinpaadjies.

Plantlys

Blou blomme laat dié warm tuinkamer koeler voel:

Duranta erecta ‘Sapphire Showers’ 

• Koringblommetjie (Scabiosa africana)

• Reusepapierblom (Limonium perezii)

• ’n Verskeidenheid salies (Salvia)

• Petunias

• Roosmaryn (Salvia rosmarinus ‘McConnell’s Blue’)

Vitex trifolia ‘Purpurea’

• Wingerd vir koelte en besemgras (Aristida junciformis) vir beweging


Staalwerk deur Durbanville Engineering; skrynwerk deur Llewellyn Williams

6 Roostonnel

Al die blomme in die beddings hier is wit, en gee dus ook saans trefkrag. Wit banksiarose en vier ligpienk ‘Nahéma’-rose, wat heerlik ruik, groei oor die roostonnel. Die rose het aanvanklik baie swaar gekry en heelparty het doodgegaan weens die hoë soutinhoud van die boorgatwater. Nou gee Beatrice dit met ’n gieter water, of Christo en die seuns lei reënwater vanuit die tenk met ’n tuinslang en pompie tot daar. Beatrice verwyder ook enige uitloopsels onderlangs op die stamme ten einde meer blare en sytakke bo teen die boog aan te moedig sodat dit dig kan toegroei. Twee hangmandjies met wit malvas rond die prentjie af.

Plantlys

Rondom die roostonnel groei plante met wit blomme:

• Wit agapante (Agapanthus ‘Alba’)

• Bolplante soos wit freesias, Hollandse irisse, watsonias en tjienkerientjees

• Valsheide (Cuphea hyssopifolia ‘Alba’)

Dianella tasmanica ‘Variegata’ 

Lychnis coronaria ‘Alba’

• Kaapse mei (Spiraea cantoniensis)

• Sterjasmyn (Trachelospermum jasminoides)

• Aronskelk (Zantedeschia aethiopica)

Plumbago auriculata ‘Alba’

• Seweweeksvaring (Rumohra adiantiformis) vir groenigheid


VERSKAFFERS & KONTAKTE

Ambiente Luce 021 853 2555, ambienteluce.com

De Kruidenier Eksklusiewe Tuine dekruidenier.co.za

Durbanville Engineering 021 976 8267, durbanvilleengineering.co.za

Hope Garden Furniture 021 448 7485, hopegf.com

Italoven 021 981 1372, italoven.co.za

Llewellyn Williams (skrynwerk) 073 478 9011

Plaisir du Jardin plaisirdujardin.co.za

Rare Woods SA 021 535 2004, rarewoods.co.za

Van Staden Retaining Systems 071 360 9122, vsrs.co.za