Foto’s Francois Oberholster

WIE WOON HIER?

Una Nieuwoudt

WAAR Yzerfontein, Weskus

GROOTTE 720m²

TIPE GROND Arm en alkalies

Net drie jaar gelede nog was Una Nieuwoudt se tuin – in haar eie woorde – “skandalig”. Iets moes sy doen.

Maar daar was baie faktore teen haar: Sy het in haar lewe nog nooit tuingemaak nie en sy woon langs die see waar die Weskuswinde en die soutsproei selfs mense met ’n hand vir ’n plant hul vingers laat verbrand.

Dié fiksheidsinstrukteur en vryskut-joernalis van Yzerfontein sê die bome en gras by haar vorige huis in Kaapstad het na hulself gekyk. “Ek het skaars ’n potplant in die huis gehad.” Dit kan ’n mens vandag nie glo as jy by haar voorhekkie instap nie, want binne lyk dit soos ’n woud van plante wat blink en gesond in hul potte staan en pronk.

Dis juis by potte waar Una se laat ontwaking in die tuinwêreld begin het.

“Ek het klein potjies met vetplante voor die huis begin neersit. Toe nog ’n pot en nog ’n pot bygesit totdat dit later soos ’n pandjieswinkel begin lyk het.

“Op ’n dag het ek besef enigiemand kan tuinmaak met vetplante, want selfs as jy die steggie per ongeluk verkeerdom in die grond druk, groei hy steeds. Dit het my selfvertroue gegee. Kort voor lank het dit ’n kompulsiewe ding geword. En toe die bosse in my voortuin eers groei, het ek besluit agter moet ook iets gedoen word, want daar was die éintlike skandaal,” vertel sy. “Gelukkig kon mense nie my agterplaas sien nie.”

Una sê sy is in haar hart nog ’n kind en hou van feetjie-elemente. Buiten porseleinfigure wat sy vir ’n appel en ’n ei by markte of in tweedehandswinkels koop, en sonkragliggies, is daar oral versierings soos stompe en potplante tussen die struike en bome.

Una Nieuwoudt

Aenonium arboreum, met hul uitbundige geel trosse, groei geil in die winter, maar in die somer, wanneer hulle dehidreer, krimp die plante om te oorleef tot die volgende reënseisoen.

Sy plant vetplante in enigiets van ’n rubberstewel wat sy in die pad opgetel het tot gekraakte bakke.

’n Driestam-jukka naby die voordeur se trappe aksentueer die kliptuintjie.

Die duinebessiebos (Muraltia scoparia) is sekerlik een van die voordeligste struike vir ’n digte heining wat wind afkeer.

Patrone en sirkels

Die saadjie is geplant deur Dylan Samuels, die “outjie” wat af en toe kom gras sny het, vertel Una.

“Ek kom toe agter hy het ’n kunstige streep en sal eerder ’n bedding maak as gras sny. Hy sou ’n ou stuk hout vat, dit êrens vaskap en ’n potjie daarteen monteer. So het hy ’n ou geut teen die heining vasgesit en toe plant ek plantjies daarin. Volgende het hy begin patrone maak in die agterplaas en klippe in sirkels gepak.”

En dit was die sneller vir Una se eie skeppendheid. “Ek het nie baie geld gehad nie en besluit om net die grond toe te maak. Ons het vetterige grond en fyn sand wat die wind oral inwaai.”

Sy het in haar motor geklim en die wit kalkklippe wat die oop erwe op die dorp vol lê, begin oplaai. “Of mense nooi jou op die dorp se webwerf om te kom klippe oplaai waar hulle bou.

“Ek het kattebakke vol aangery. Dit was harde werk. Dit was somer.”

Hierna het Una dit kruiwavraggie vir kruiwavraggie agterplaas toe gestoot en paadjies gepak as ruggraat vir die tuin wat sou kom. Sy het ook plaveistene gepak en klein wit kalkklippies, afgewissel met verskillende kleure gruis, tussenin gegooi.

“Ek het beddings, eilandjies en sirkels gemaak en dit stelselmatig ingevul met plante. “Omdat ek baie impulsief is, wou ek nie alles in die grond plant nie. Môre wil ek dalk ’n pot skuif na ’n ander kol, so potte het ek ook baie hier buite.”

Min onderhoud

Yzerfontein se mense deel graag, daarom het sowat 80 persent van wat in Una se tuin staan, haar niks gekos nie. “Mense dra steggies aan en wanneer dit by jou gevat het, gee jy weer steggies weg.

“My grootste belegging was ’n wildevyeboom (Ficus macrophylla) wat ek taamlik groot gekoop het, want ek wou graag ’n hangmat opsit. ’n Mens moet dit net nie te na aan jou huis plant nie, want hy het sterk wortels.”

Sy het by die kwekery en ander mense met mooi tuine raad gevra. “Nie enige ding vat nie en iets wat 20km dieper binneland toe geil groei, sal staan-staan vrek hier. Maar dis die lekker van die platteland – mense kommunikeer oor dinge en ruil graag wenke uit.”

Nou is dit drie jaar later en alles is groter en verstrengel. “Dis waarvan ek hou. Ek hou nie van te simmetries nie. “Dis die maklikste tuin om te onderhou. Ek snoei af en toe en trek onkruid uit.”

Die verskeidenheid vetplante en hul vorms en teksture fassineer haar. “Ek het gegaan van iemand wat neutraal was tot iemand met ’n passie vir vetplante, ook omdat hulle sulke dankbare plante is,” sê Una.

“In Namakwaland, waar ek gebore is, ervaar die mense so baie droogtes. Hulle sukkel om ’n bestaan te maak, veral die boere. Maar steeds byt hulle vas. Vetplante is ook so. Ek het geleer as vetplante op hulle meeste sukkel, is hulle op hul mooiste.”

[’N KENNER OOR KUSTUINE]

Una se tuin is ’n tipiese Weskustuin, en wat sy gedoen het, gaan nie werk langs die see by sê maar St. Francisbaai in die Oos-Kaap, of Ballito in KwaZulu-Natal nie. Die klimaat verskil só dat ’n mens heel verskillende struike en bome sal moet kies, sê die kenner Allan Haschick van Port Elizabeth en skrywer van Coastal Gardening in South Africa.

• “Ons kuslyn strek van subtropiese St. Lucia in die noorde van KwaZulu-Natal tot die grens met Namibië, waar dit droog en amper woestynagtig is. Tussen hierdie twee uiterstes is daar fynbos, kusstruikgebied en graslande.” Sekere van die klimaatsfaktore stem wel ooreen: blootstelling aan wind, sout en humiditeit of, soos aan die Weskus, baie mis.

• Allan stel voor jy ry in jou buurt rond en kyk wat groei goed in ander mense se tuine. “Neem foto’s daarvan en sit af na die naaste kwekery, of klop aan deure en hoor by die inwoners wat sekere plante se name is. So bou jy ook ’n netwerk van mense met wie jy raad kan uitruil.

• “Supermarkte en stedelike tuinsentrums is dikwels vol plante wat jou verlei, maar moenie dink jy kan dit terugvat na jou seehuis en sommer sukses daarmee behaal nie,” waarsku hy.

• Dis maklik om ook jou eie navorsing te doen. “Google, boeke en tydskrifte is vol idees en oplossings. Of sluit aan by ’n tuinklub. En as jy regtig nie ’n tuinmaker is nie, span ’n tuinontwerper in.”

Die tuin is ’n tuiste vir enigiets van ou, geroeste stoele tot gebreekte bakstene en potte. Die jukkas groei lekker hoog en breek die reëlmaat van die vetplante wat nie baie groot word nie.

As jy hoofsaaklik plante en struike gebruikwat endemies aan jou omgewing is, geniet jy ook die bonus van voëls en insektewatjou tuin kom besoek. – Allan

Die wildevy (Ficus macrophylla) vorm die middelpunt van Una se tuin.

[KUSTUINIERS SE GROOTSTE PROBLEME]

• Wind is nommer een. Dit droog die plante en die grond uit. Dit kan struike misvorm en bruin en slordig laat lyk. Soutwinde brand plante se blare. Sout verhoog ook die pH van die grond.

• Kusgrond is dikwels arm – sanderig of suiwer sand – met min voedingstowwe.

• Ongereelde groeiseisoene beïnvloed plantgroei. Langs die see is daar dikwels warm tye in die winter met temperature tot 30°C, en in die somer kan die wind ’n verkoelende uitwerking hê. Dit beïnvloed hoe die plante groei en blom. Oplossings vir kustuinprobleme

• Dis baie belangrik om ’n kustuin te beskut. Plant windskerms of bou skerms. Dit sal veral aan die begin help sodat nuwe struike vinniger kan vestig.

• Plantkeuse is net so belangrik: Hou by windgeharde plante wat in jou streek aard. Dis ’n vermorsing van geld en moeite om te plant waarvan jy hou, maar wat nie daar sal gedy nie. Meer sensitiewe plante kan later bygevoeg word wanneer hulle deur gevestigde, geharde plante beskut kan word.

• Bestee tyd en geld aan goeie grondvoorbereiding. Vragte kompos, asook leemgrond, sal jou plante help om vinniger te vestig en gesond te groei.

• Spuit blare met die tuinslang om die sout af te was, veral as die wind lank gewaai het.

Die lae houtheining het Dylan van oorskietplanke gemaak om te keer dat die honde die plante in die voortuin vertrap wanneer hul langs die heining af hardloop om vir verbygangers te blaf.

[KUSTUINIERS SE GROOTSTE FOUTE]

• Ongeduld. Jy kry nie ’n kustuin wat dadelik mooi is nie. Moenie uit haastigheid wegspring met ’n te groot tuin en te groot struike en bome koop nie.

• Te min navorsing. Jy moet kyk watter grondsoort jy het, die rigting en sterkte van die wind wat daar waai, watter dele in volson is en watter in die skaduwee.

• Die najaag van onmoontlike drome. Rose, orgideë, groente, die tipiese Engelse blombedding... Los maar, dit sal nie in ’n kustuin aard nie. En jy gaan boonop soos ’n vrot tuinier voel.

• Die aankoop van groot, gevestigde struike of bome by ’n kwekery buite jou omgewing. Hulle kan vrek of deur die kuswind gebrand word, want hulle is nie geakklimatiseer vir die kusklimaat nie.

Dit plant Allan graag in ’n kustuin:

Bome

• kusvaalbos (Brachylaena discolor)

• wildekanferbos (Tarchonanthus camphoratus)

• witolien (Buddleja saligna)

Struike (vinnige groeiers wat gou kleur en ’n mate van beskutting sal gee)

• septemberbossie (Polygala myrtifolia)

• wolharpuisbos (Euryops pectinatus)

• kusroosmaryn (Westringia fruticosa)

• Indiese meidoring (Rhaphiolepis indica)

• spieëlplant (Coprosma repens)

• hibiskus

• Natalse baakhout (Greyia sutherlandii)

• boegoe (Agathosma crenulata)

• konfettibos (Coleonema)

• strandsalie (Salvia aurea)

• laventelsoorte

• soutbos (Rhagodia hastata sin. Einadia hastata)

[’N TUINONTWERPER SE WENKE]

Sy sal by geleentheid uitheems plant as dit van haar verwag word, sê die tuinontwerper Ties-Mari Mostert van Hermanus, maar sy fokus hoofsaaklik op inheemse, waterwys plante.

Hier is haar wenke:

Plant in die nat seisoen. “Ek vind dat tuine wat in die reënseisoen van die streek uitgelê word, beter vestig en groei op die lang duur.”

• Vir die minste onderhoud, kies plante wat min snoeiwerk vereis en gebruik geharde grondbedekkers soos die rotstuinsalie (Coleus neochilus) en vygies.

Gebruik deklae. “Ek bedek die grond met ’n dik laag bas wat stadig kompos word. Gruisklippies oor onkruidmat werk ook goed; dit keer dat die grondvog vinnig verdamp.”

Verryk jou grond met baie kompos. “Fynbos hou niks van kunsmis nie, daarom gebruik ek graag fyn of organiese kompos. Ek voeg ook beenmeel by wanneer ek plant.”

• Moenie plante met verskillende waterbehoeftes deurmekaar plant nie.

Klip en ander natuurlike elemente uit die onmiddellike omgewing kan dekoratief én funksioneel aangewend word – klip vir paadjies, byvoorbeeld, of uitgespoelde stompe.

Plant die volgende as windskerms:

• Melkhoutbome (Sideroxylon inerme)

• Kusvaalbos (Brachylaena discolor)

• Noemnoem (Carissa macrocarpa)

• Strandsalie (Salvia aurea)

• Bloublomsalie (Salvia chamelaeagnea)

• Bitou (Osteospermum moniliferum)

• Restio’s soos dekriet (Elegia tectorum)

• Nieu-Seelandse vlas (Phormium tenax)

Ronde houers met kleiner kalkklippe is gemaak van draad; dan maak Una dit vol klippe en sit ’n potplant binne-in. Sy het ’n houtpalet teen die heining vasgeskroef en versier met plante in klein potjies wat netjies in die gleuwe pas.

Una het wit kalkklippe van oral aangery en in die tuin as vloer gebruik om die vetterige sand in toom te hou.

KONTAKTE

Allan Haschick, Flourish Garden Plants,

Ties-Mari Mostert, TMG Gardens