Foto’s Elza Cooper 

Wie woon hier? Ansi en Renette Buitendag
WAAR Waterfall Country Village
GROOTTE VAN GEDEELDE TUIN 1 080 m²

Dit het so half natuurlik gekom dat die identiese tweelingsusters Ansi en Renette Buitendag twee erwe langs mekaar in die Waterfall Country Village in Gauteng gekoop het. Hulle wou albei wegkom van die misdaad in die stad en dié ontwikkeling net buite Midrand het ’n heerlike plattelandse gevoel gehad.

“Die feit dat ons ’n tweeling is, het beslis iets daarmee te doen gehad,” vertel Ansi. “Dit is ’n pad wat ons saam wou stap, en die beplanning en realisering daarvan was iets wat ons albei geniet het.

“Uit die staanspoor wou ons die twee huise deur een tuin verbind – ons het dit vooraf so met die argitek bespreek.” Met die bouwerk voltooi het die susters die hulp van Neville en Minette Orsmond van Create a Landscape ingeroep om die tuin te ontwerp.

“Die voordeel daarvan om langs mekaar te bly en die tuin te deel, is dat ons ook die koste van die tuin kon deel – en nou ook al die tuingereedskap,” lag Ansi. 

Ansi se huis spog met ’n welige binnehof. Bloedrooi papawers is haar gunstelingblomme: “Die papawers het vir my ’n baie sterk emosionele betekenis omdat dit my elke jaar herinner aan die mense wat gedurende die Eerste Wêreldoorlog hul lewe verloor het. Ek sorg dat daar elke jaar papawers in my tuin groei,” vertel sy.

Die beddings met meerjariges soos Liriope muscari ‘Evergreen Giant’ en daglelies (Hemerocallis), struike soos Nandina domestica ‘Pygmaea’, en papawers vou as’t ware om elke hoek en versag die reguit lyne van die twee huise. ’n ‘Mission’-olyf gee hoogte sodat die tuin nie uit skaal met die huis vertoon nie. Die huise word verbind deur paadjies van plaveiklippe wat versag word deur mondogras (Ophiopogon japonicus ‘Kyoto Dwarf’) tussenin. Die stene het ook ’n estetiese doel en pas by die moderne afwerking van die argitektuur daarrondom.

Massa-aanplantings soos dié bedding ‘Azure Blue’-agapante is tipies van ’n moderne tuin, waar minder spesies maar meer plante van dieselfde spesie saam geplant word. Die plankpaadjie regs is teen Renette se huis.

Twee style

Ansi beskryf haar huis as ’n industriële pakhuis. “Die industriële gevoel in ’n woonhuis is vir my die mooiste ding denkbaar,” vertel sy.

Langsaan, by Renette se moderne huis met sy groot staalskerms, is die styl weer ’n kombinasie van modern en Frans-Provensaals. Maar een ding waaroor hulle saamstem, is ’n binne-buitegevoel – daarom was die ontwerp van die gedeelde tuin vir albei ’n prioriteit.

Renette verduidelik: “Elke huis in die ontwikkeling het net 540 m² vir ’n tuin, en daarmee kan ’n mens mos nie veel doen nie! Ons was in die gelukkige posisie dat ons ons tuine kon kombineer, wat dit dubbel so groot maak. Nou verwonder almal in die ontwikkeling hulle aan hoe die een tuin twee baie verskillende huise verbind.” 

Ansi se visdam spog met twaalf goudvisse, asook ’n lewende tuinmuur. Draad-eende skep ’n speelse voorkoms.

Water as tema

Van die begin af was water vir albei susters ’n belangrike tema in die ontwerp. Renette is gek oor koivisse en haar huis is om die koidam beplan. “Koivisse gee ’n rustigheid en gevoel van vrede wat vir my baie belangrik in my huis is,” vertel sy.

Op haar beurt het Ansi op ’n waterpoel eerder as ’n koidam besluit, maar dié het tog later in ’n visdam verander. “Aanvanklik sou daar geen visse in wees nie – dit sou net ’n eenvoudige swart marmerdam met water wees. Mettertyd het ek ’n paar goudvisse aangeskaf en gesien dit lyk baie mooi. Nou het dit ontwikkel in ’n visdam met twaalf groot goudvisse en baie waterplante!”

Vandag geniet Ansi die groen wat deel uitmaak van hul lewe, hetsy buite of binne. En Renette? Sy geniet die vrede die meeste van alles!

Ek geniet dit om op die gras te lê en na die wolke te kyk … en die gevoel van genoegdoening om uit elke hoek van die huis ’n stuk groen te kan sien. – Ansi

Dié afdak op spore by Renette se huis is deur Nadia Lloyd Lister van Studious-argitekte ontwerp en deur Silverton Wrought Iron Projects gebou. Renette wou hê die patroon se skaduwees moes oor die water speel.Danksy ’n motor skuif die afdak met die druk van ’n knoppie na waar Renette skadu verlang.

1. Heelparty mure is versag met vertikale tuine, veral aan Renette se kant. 2. Die binnehof by haar voordeur (onder), met ’n hele muur van plante, herhaal die water-tema. 3. Die bekleding aan Renette se mure is in pas met die styl van haar huis.

Nandina domestica versag die liggrys muur; voor dit groei Acorus gramineus ‘Gold’, met Ophiopogon japonicus om die rand.

Tuinontwerp deur Neville Orsmond

Ontwerp en plante

Volgens Neville was dit ’n uitdaging om ’n tuin te ontwerp wat elke suster se unieke stylvereistes in ag neem, maar terselfdertyd vloei tussen die huise skep. Ansi wou ’n baie welige groen tuin met seisoenale kleur hê, terwyl Renette meer van ’n tropiese gevoel hou.

Neville het om die bestaande visdamme gewerk en plante so gekies dat dit natuurlik inskakel by die res van die tuin. Die ontwerp is eenvoudig gehou en plante wat dwarsdeur die jaar mooi lyk, is gekies.

“As dit by bome kom, is skaal baie belangrik; dit was dus noodsaaklik om bome te kies wat nie in die toekoms ’n probleem sou raak nie,” vertel Neville. “Hoewel die meeste bome klein is, moes ons wel die dubbelverdiepinggeboue in ag neem, daarom is een olienhoutboom (Olea europaea subsp. africana) geplant wat mettertyd baie groot sal word en die nodige balans sal skep.” Onder die bome is die grond opgehoop om ’n klein heuweltjie te vorm – iets wat volgens hom lekker dimensie gee in kleiner tuine soos hierdie.

Tussen die lang grasse is interessante blomplante ingesit, byvoorbeeld pers papierblomme (Limonium perezii) tussen die watergrasse (Anthericum saundersiae) en daglelies (Hemerocallis-spp.) tussen die ornamentele Miscanthus sinensis ‘Gracillimus’-grasse vir interessante seisoenale variasie en kleurvolle blomme – een van Ansi se vereistes.

As harde elemente is paadjies van plaveistene ingespan vir skakeling tussen die twee huise, want dit was vir die susters belangrik om oor en weer te kan stap deur die tuin.

1. Papawer 2. Daglelies 3. Miscanthus sinensis

Plantlys
  1. Heteropyxis natalensis
  2. Anthericum saundersiae
  3. Limonium perezii
  4. Hemerocallis
  5. Cryptocarya transvaalensis
  6. Agapanthus ‘Azure Blue’
  7. Kombinasie van volskadu-/huisplante: Dicksonia antarctica, Chlorophytum, Asparagus setaceus, Peperomia caperata ‘Luna Red’, Hypoestes, Aechmea fasciata
  8. Olyf ‘Mission’
  9. Cycas revoluta
  10. Asparagus densiflorus ‘Meyersii’
  11. Acorus gramineus ‘Gold’
  12. Chondropetalum tectorum
  13. Liriope muscari ‘Evergreen Giant’
  14. Acer palmatum
  15. Miscanthus sinensis ‘Gracillimus’
Die draaddiere gee ’n kamma-plaasgevoel asook ’n speelsheid aan die tuin, terwyl dit ook duidelik sê ons bly in Afrika. En natuurlik hou hulle die gras lekker kort! – Renette

Teen die grensmuur groei inheemse bome soos die kleinblaar-tulpboom (Thespesia acutiloba) tussen Miscanthus sinensis ‘Gracillimus’-gras, met daglelies vir spatsels kleur.

KONTAKTE
  • Create a Landscape 084 294 0025, createalandscape.co.za
  • Silverton Wrought Iron Projects 083 576 0751
  • Studious Architects 012 663 3371, studious.co.za