Foto’s Francois Oberholster

WIE WOON HIER?

Twee geslagte Retiefs, drie honde en ’n haan

WAAR Robertson

GROOTTE 1 ha

GRONDTIPE Vrugbare landbougrond

Jean Retief in die kleurvolle tuin wat sy in 1939 op Van Loveren begin maak het.

Dis ’n oumenstuin met’n sterk gevoel van ’n ‘English garden’. – Shan

Op Van Loveren woon Nico en Shan Retief en hul seun Bussell en sy vrou, Anne-Marie, langs mekaar met twee tuine wat so goed is as een.

“Skoonma Jean het in 1939, toe sy en pa Hennie getroud is, hier begin tuinmaak. Sowat vyf jaar voor haar dood in Desember 2002 het ek en Penny, my skoonsuster, die tuin oorgeneem. Ná my skoonma se dood het ons in die hoofhuis ingetrek en vir haar en Hennie ’n Kaapse kastaiing geplant, want hier plant ons bome om mense en groot geleenthede te gedenk,” verduidelik sy.

Hoewel die tuin van geslag tot geslag aangegee word om dit verder te ontwikkel en mooi te maak, behou dit sy identiteit. “Elke nuwe geslag poog om dit te verbeter, maar niemand wil dit verander nie,” gesels Shan. “Dit het nou al ’n bietjie van ’n nuwer voorkoms, maar ons wil hê die tuin moet lyk soos dit in die beginjare gelyk het, soos ma Jean dit gemaak het.”

Met die talle groot bome in die tuin is daar heelwat skaduwee en in Desember is die krismisrose onder die bome prentjiemooi. Daar is ook fuchsias, boomvarings, boslelies, kamelias en die rooiblaar-beetplant. Van Oktober af steel die sontuin met rose die aandag. ‘Just Joey’, ‘Double Delight’ en ‘South Africa’ is van hul gunstelinge.

In die sonnige beddings groei die rose saam met hibiskusse, daglelies, varklelies, agapante en vingerhoedjies, en gesiggies al met die beddingrand langs. Omdat die tuin so groot is en daar altyd plante is wat vervang moet word, kweek hulle nuwe plante van steggies en saad of vermeerder dit deur verdeling.

Fuchsias is staatmakers in die Retiefs se skadutuin.

Shan het jare gelede ’n Digiplexis geplant en vandag groei dit oral in die tuin.

Kanna

Met al die bome in die tuin is daar talle skadubeddings. Die krismisrose is ’n skouspel van kleur in die somer.

Nico se hibiskusse

Shan sê tuinmaak is in die Retiefs se bloed. “Ons is plaaskinders in murg en been. Die hele familie is baie lief vir tuinmaak.”

Sedert Nico nie meer voltyds boer nie, help hy ook in die tuin en het hy ’n groot liefde en passie vir hibiskusse ontwikkel. “Die baie blomme wat die een struik voor ons huis gedra het, het hom so gefassineer dat hy orals hibiskusse begin koop het,” onthou sy. “Daar is struike met blomme in ongeveer dertig verskillende kleure in die tuin. Hy het selfs hibiskusse met blomme in verskillende kleure op een boom begin ent en dis vir hom baie lekker wanneer mense nie kan verstaan hoe daar blomme in drie kleure aan een struik kan wees nie.”

Nico se groentetuin is ook ’n treffer en hy deel graag aan die skoondogters en hul gesinne uit. Maar hulle het wel hulp vir die groot plaastuin. “Sakkie Fortuin sit hand by. Hy is ’n staatmaker wat baie lief is vir plante, en het self die mooiste tuin. Maryna Booysen en Wilma Tromp hou die tuin netjies en so twee keer per jaar kry ek ekstra hulp in die besigste tye,” vertel Shan.

Hoewel Van Loveren se tuine privaat is, deel die Retiefs dit graag met die publiek. “Besoekers aan die wynproelokaal en restaurant dwaal gedurig deur die tuin. Dit is vir ons heerlik om die tuinstories en ons liefde vir die bome en die tuin met hulle te deel.”

Nico en Shan Retief

Een van Nico se hibiskusse in die blom.

[SHAN SE TUINWENKE]

Ken jou grond. “Ons het alluviale slikgrond wat tydens verskeie vloede oor baie jare (dié wat ons kan onthou was in 1981 en 2003) van Montagu hierheen gespoel het. Dit is baie vrugbare landbougrond.”

Voed jou plante gereeld. “Ons gooi een maal per jaar druiwedoppe en een maal per jaar hoendermis in die tuin.” ’n Deklaag van houtsnysels kom rondom die wortels en tussen die plante. Nico bemes die tuine twee maal per jaar met 3:1:5. Tot verlede jaar het hy albei tuine versorg, maar toe AnneMarie haar rose na ’n sonniger deel van die tuin geskuif het, het sy besluit om hier haar eie voedingsprogram te begin volg. Sy verduidelik: “My roostuin kry nou een keer per jaar ná snoeityd (middel Julie) van Ludwig’s se Vigolonger en dan van September tot Junie maandeliks Vigorosa. Elke maand spuit ek met Ludwig se aanbevole mengsel van Ludwig’s Insect Spray, Chronos en Picanta.” Die roosbedding kry ook jaarliks ’n laag druiwedoppe en hoendermis. “Ek en pa Nico het besluit vanjaar gaan ons kyk wie se rose is die mooiste!” vertel sy met ’n glimlag.

• As jy ’n lowergroen tuin wil hê, het jy water nodig. “Ons is gelukkig om water te kry uit die kanale wat uit die Breërivier en die Brandvleidam vloei,” vertel Shan.

• Plant ’n verskeidenheid vir kleur reg deur die jaar. “In Oktober is die rose oortrek met blomme; die kleure en geure is oorweldigend. Die boslelies (Clivia miniata) is kort ná die winter pragtig met hul oranje blomme en in die somer sorg die kannas en hibiskusse vir kleur. Ek hou baie van die beetplant (Iresine herbstii); dit het groot trefkrag met sy rooi blare.”

• En die belangrikste van als: “Geniet jou tuin!” sê Shan.

Dié gewel behoort aan die ou hoofhuis wat nou die restaurant Christina’s is.

Sterjasmyn vol in die blom saam met klein blou agapante voorlangs.

Boomstories

In dié tuin vertel die bome hul eie stories. Deur die jare het Hennie en Jean talle bome geplant om groot gebeurtenisse – van die geboorte van ’n kleinkind tot die einde van die Tweede Wêreldoorlog – te vier. Die eerste boom wat hulle saam geplant het, was ’n waaierpalm (Washingtonia filifera) in 1939.

Die twee kareebome (Searsia lancea voorheen Rhus lancea) staan bekend as die “Tangled trees” (ook die naam van ’n Van Loveren-wynreeks). In die vroeë veertigerjare het Jean aan ’n kwekery in Natal geskryf en gevra dat hulle vir haar ’n geharde boom moet stuur. Toe die boompie, wat destyds die ekwivalent van 15c gekos het, by Klaasvoogdstasie opdaag, was die boere oortuig dit is niks anders as die welbekende karee wat in die omgewing groei nie. Jean het volgehou dit is iets anders en het haar Rhus lancea op die werf geplant.

Hennie het nie op hom laat wag nie en ’n takkie van ’n kareeboom wat by die rivier gegroei het, gaan pluk en dit langs Jean se nuwe boom geplant. Oor die jare het die twee kareebome inmekaar vervleg geraak en nie Jean of Hennie was bereid om hul boom uit te haal nie. Jean het altyd gesê dié twee bome simboliseer hul liefde vir mekaar.

Die granaatboom (Punica granatum) is die oudste boom in die tuin en dra nog vrugte wat aan besoekers uitgedeel word of wat hulle vir sap en in slaai gebruik. Dit is in ongeveer 1930 geplant en was deel van ’n heining wat ’n kraal gevorm het. Dit is die enigste een van dié bome wat oorgebly het.

Met elke kleinkind se geboorte (daar was 11 van dié mylpale!) het ouma Jean ’n spesiale broodboom geplant. Die bome is met verloop van tyd uitgehaal en vir die kleinkinders se ouers gegee. Dis nog net Bussell se broodboom wat oorgebly het omdat hy en Anne-Marie langsaan woon. Dit spog elke jaar met pragtige keëls.

Die lourier-magnolia (Magnolia grandiflora), wat in die vroeë somer blom, is in 2012 geplant vir die vier neefs wat saam hier boer. Van Loveren is daardie jaar as Suid-Afrika se boerdery van die jaar aangewys.

Gemengde beddings en pragtige bome soos die vyf luiperdbome (Caesalpinia ferrea) is sinoniem met Van Loveren se tuine.

retief, van loveren, robertson, garden, cellar
retief, van loveren, robertson, garden, cellar

[ANNE-MARIE VERTEL MEER ...]

Retief
Retief

“Ek het in November 1994 plaas toe gekom en as dorpsmeisie nie veel van tuinmaak geweet nie. Daar kry ek toe ’n huis reg langs ouma Jean – ’n knap, kundige en entoesiastiese tuinier. Sy het my met baie geduld geleer.

“Vroegoggend sou sy vir my ’n roos stuur met die roos se naam op ’n kaartjie daarby. Die heel mooiste een was ’n ‘Just Joey’ en ek het dit in my onkunde ’n ‘Jolly Joey’ genoem! Tot vandag toe is dié roos my gunsteling en laat dit my met liefde aan ouma Jean dink.

“Ek het ook baie by ma Shan en pa Nico geleer. Pa Nico het vrye teuels in ons tuin. As ek maar weer sien, staan daar ’n boom. Ek moes nou ná 15 jaar my roostuin skuif, want met al die bome is daar heeltemal te veel skaduwee!”

Klokvormige vingerhoedjies (Digitalis purpurea) en trompetvormige tabakblomme (Nicotiana alata), albei in wit, vorm ’n treffende kombinasie.

Hendrik die haan is alombekend op die plaas. Elke middag geniet hy sy slapie op die mat in die leefvertrek waar Shan en Nico ná middagete sit en lees.

Anne-Marie hou daarvan om stil te word in dié heerlike hoekie onder die peperboom.

retief, van loveren, robertson, garden, cellar
retief, van loveren, robertson, garden, cellar

Interessante paadjies lei na verskillende dele in die twee tuine.

Die boomaalwyn (Aloidendron barberae) het pa Nico geplant.

[DIE PLAAS MET DIE KANNAS]

Van Loveren is al sedert 1937 in die Retieffamilie toe Hennie Retief sr. se pa, Nico, ’n deel van die plaas Goudmyn in die Robertsondistrik gekoop het. In 1939 trou hy met Jean van Zyl. Sy het hom oortuig om die plaas Van Loveren te noem ter nagedagtenis van Christina van Loveren wat in 1699 uit Nederland Suid-Afrika toe gekom het.

Christina was getroud met Wilhelm van Zyl en hulle het die Van Zyl-stamboom hier begin. Die kis van Filippynse mahoniehout waarin Christina se bruidsuitset was, staan vandag in Van Loveren se proelokaal.

As jy die bloedrooi kannas langs die R317 tussen Robertson en Bonnievale sien, dan weet jy die Van Loveren-wynlandgoed is naby. “Daar was ’n pol kannas in ma Jean se tuin wat vir Nico baie mooi was. Hy het besluit om dit langs die teerpad wat hier by ons verbyloop, te plant,” vertel Shan. “Ons plant nou kannas oral langs die pad waar ons grond het. Hulle blom agt maande van die jaar.”

Toe Bussell ’n kind was, het hul gesin gereeld Krugerwildtuin toe gegaan, en die palms by Tzaneen was vir hom baie mooi. Dit, en die palms wat oupa Hennie geplant het, het hom geïnspireer om ook van dié bome te plant. In hierdie deel van die tuin is die rooi en wit malvas van Anne-Marie se gunstelingplante. “Ek het in Israel ’n steggie van ’n wit malva afgeknyp en in ’n waterbotteltjie huis toe gebring. Dit is nou ’n pragtige plant met wonderlike herinneringe.”

KONTAK vanloveren.co.za