Foto’s Amora Erasmus en verskaf

WIE WOON HIER?

Philip en Rodeen Botha en hul seun Corné

WAAR George

GROOTTE 1 ha

GRONDTIPE Leemgrond

Die hoë heining van Australiese jamboes (Syzygium paniculatum) reg onder die huis was reeds hier toe die Bothas die eiendom gekoop het. “Al verg dit baie snoeiwerk, hou ek van die skeiding wat dit gee,” vertel Rodeen. “ ’n Mens moenie ’n groot tuin met een oogopslag kan sien nie. Die dam, ’n paar van my roosbeddings en die groentetuin is aan die onderkant van die heining, en die huis en res van die tuin aan die bokant.”

Potloodsipresse gee hoogte en simmetrie in ’n bedding met ‘The Dark Lady’- en ‘Burgundy Iceberg-’rose. Onderlangs groei koringblommetjies, lamsore en vlooikruid.

Rodeen het op drie plekke ’n opening in die heining gesny om só ’n blik op die tuin aan die ander kant te kry.

Dit was die groot bome en die sowat 70 volwasse kamelias wat 12 jaar gelede Philip en Rodeen Botha se harte gesteel het. “Dit was die hoofrede hoekom ons dié eiendom in ’n ou woonbuurt met erwe van ’n hektaar of meer op George gekoop het,” vertel sy.

“Die tuin was toe ongeveer 30 jaar oud. Daar was onder meer amberbome, gewone platane, moerassipresse en inheemse Outeniekwa- en Henkel-se-geelhoutbome. Die kameliabedding met al die groot ou Camellia japonicas en C. sasanquas is ’n prentjie wanneer dit van April tot Julie vol in die blom is.

“Van dié struike staan sowat 4 m hoog en verg geen ekstra aandag nie; hulle hou van ons klimaat,” vertel Rodeen. “ ’n Mens kan reg rondom die bedding stap en dit van alle kante af beskou.”

Omdat die tuin so groot is, het die Bothas die vernuwing stuk-stuk aangepak. “Ons het gebruik wat daar was, die beddings daarvolgens beplan en plante uitgehaal en aangeplant soos ons aangegaan het. Dit werk goed in so ’n bestaande tuin met ’n raamwerk van groot bome. Ons het baie van die ou dennebome verwyder en nuwe bome geplant, soos wildekastaiings, lier- en rooi-essenhoutbome. Onder die bome het ons ’n kronkelende gruispaadjie uitgelê.”

Natallelies (Crinum moorei)

Informeel dog met struktuur

“Ek het jare gelede ’n televisieprogram met die naam Gardens Wild and Wonderful gesien,” vertel Rodeen. “Dit het my nog altyd bygebly, want dit is hoe ek van ’n tuin hou. Ek sou my tuin beskryf as ’n bietjie van ’n Engelse landskapstuin met formele heinings hier en daar.

“Die formaliteit beperk ek tot die gesnoeide heinings by die voordeur onder die swembadterras, die roosboë en die argitektoniese lyne van die potloodsipresse. Daar is ook potte wat in simmetriese patrone neergesit is. Maar andersins het my tuin ’n informele gevoel.”

Hoewel Rodeen nie doelbewus aparte tuinkamers beplan het nie, het dit op die ou end tog so uitgewerk. “Die woudtuin onder die bome met die lelies, boomvarings, asaleas, krismisrose en kronkelende paadjie is een tuinkamer; die verskillende roosbeddings, elk met sy eie kleurskema, ’n ander. Dan is daar die sirkelvormige groentetuin, die tuin rondom die besproeiingsdam en die kameliabedding. ’n Hoë heining van Australiese jamboes wat op die eiendom was, verdeel die tuin in twee en steek die verskillende tuinkamers weg sodat ’n mens nie die hele tuin met een oogopslag kan sien nie.”

Om so ’n groot tuin mooi te hou, kos harde werk. Katrina Jantjies is Rodeen se regterhand. “Katrina is net so geesdriftig oor die tuin soos ek. Sy het van 1998 tot 2004 op ons blomplaas in Blanco gewerk waar ons fynbos vir die uitvoermark gekweek het. Sedertdien help sy my in die tuin,” vertel Rodeen.

Haar man sit ook hand by. “Philip sny die gras en die heinings. Die groentetuin is ook sy afdeling. Ek hou van alle snoeiwerk, om rose se dooie blomme uit te sny, nuwe projekte te beplan en om als nat te hou. Vir my is dit net een groot plesier om elke dag in die tuin te kan wees.”  

Katrina Jantjies 

Rodeen het Australiese boomvarings, boslelies (Clivia miniata) en Crinum moorei, wat ook boslelies of Natallelies genoem word, van Blanco af hierheen gebring. “Op die plaas groei hulle wild. Ek het massas uitgehaal en in plate onder die bome geplant. Die welriekende lelies met hul lang stele is ’n asemrowende gesig in Desember en Januarie. Die krismisrose is in Desember op hul mooiste. Daar is ook asaleas onder die bome wat veral in die lente kleur gee,” gesels sy.

Rodeen Botha

Tydens die wintermaande kry van die beddings ’n deklaag kompos wat die Bothas self maak van die groot hoeveelheid afgesnyde plantmateriaal wat heeljaar beskikbaar is. Geskikte kombuisafval gaan ook komposhoop toe. Onder die bladwisselende bome word die blare net so gelos om ’n deklaag te vorm. Die roosboë waaroor ‘Towering Rose Magic’ groei, gee hoogte en struktuur; in die bedding links groei ornamentele grasse saam met ‘Graham Thomas’ en ‘Crocus Rose’.

Roosbeddings

“Ek hou baie van rose, maar dis altyd ’n uitdaging in so ’n boomryke tuin met baie skaduwee. Gelukkig kon ek ’n hele paar roosbeddings inpas waarin ek dié struike in kleurgroepe kon plant. Só het dit groter trefkrag,” sê Rodeen.

GUNSTELINGROSE

Rose met ’n los groeiwyse soos die David Austin-rose is vir haar pragtig. “My absolute gunsteling is ‘The Dark Lady’,” vertel Rodeen. “Ek hou ook baie van ‘Sharifa Asma’, ‘Crocus Rose’ en die geel rose ‘Graham Thomas’ en ‘Golden Celebration’. Die oranje ‘Lady Emma Hamilton’ het ek in potte geplant.”

Daar is ouwêreldse rose soos ‘Mme. Isaac Pereire’, ‘Heritage’, ‘General Gallieni’ en die rankrose ‘Albéric Barbier’ en ‘Albertine’, wat in die tuin was. ‘Towering Rose Magic’ groei oor boë en by die voordeur blom ‘Langenhoven’. Ander gunstelinge is die appelkooskleurige ‘Crépuscule’, ‘Ballerina’, ‘Gwen Fagan’, ‘Cream Abundance’, ‘My Granny’ en ‘Deloitte & Touche’. Saam met ‘The Dark Lady’ groei ‘Burgundy Iceberg’-rose.

‘Crocus Rose’

‘Burgundy Icebergs’ en Rodeen se gunsteling, ‘The Dark Lady’.

‘Towering Rose Magic’

PASMAATS

Om die roosbeddings nog mooier te laat vertoon, kombineer Rodeen rose met haar gunsteling-metgeselplante. “Ek hou van vlooikruid (Erigeron karvinskianus), rankvingerhoedjie (Asystasia gangetica) of ’n grys grondbedekker soos lamsore (Stachys byzantina) in die roosbedding.”

Koringblommetjies (Scabiosa africana) lyk ook pragtig tussen die rose en die vingerhoedjies (Digitalis purpurea), wat vanself opkom, gee hoogte.

Philip saai elke jaar papawers, akeleie (Aquilegia vulgaris), Kantelbergklokkies (Campanula) en soms nog vingerhoedjies in saailaaie, “want ons het baie plante tussenin nodig,” verduidelik Rodeen. “In Julie en Augustus, wanneer die saailinge sterk genoeg is, plant ons dit uit.

“Ek plant ook graag Penstemons en salies saam met die rose. Verlede somer het ek begin om meerjarige petunias in die roosbeddings te plant. Hiermee hou ek ook by ’n kleurskema – ek plant byvoorbeeld rooi petunias saam met rooi rose.” Langs die oprit tussen die pienk floribundaroos ‘June’s Joy’ groei blou pronkridderspore (Delphinium) vir kontras.

Blou pronkridderspore (Delphinium) kontrasteer met ’n massa pienk ‘June’s Joy’-rose.

ROOSSORG

Rodeen snoei haar rose in die laaste week van Julie. Ná dit gesnoei is, word dit met kalkswael gespuit en kry elke struik ’n deklaag van tuisgemaakte kompos. Tydens die groeiseisoen kry die rose elke ses weke 30–40 g (na gelang van die grootte van die plant) 3:1:5-kunsmis en word dit elke tien dae met ’n swamdoder gespuit. Sy wissel verskillende swamdoders af en voeg by tye plantkos soos Trelmix of Seagro by die spuitmengsel. Omdat George reg deur die jaar reën kry, word die rose net een keer per week goed natgemaak, en ook net as dit nie genoeg reën nie.

Die groentetuin is Philip se trots. In die kouer maande kweek hy onder meer blaarslaai, preie, sprietuie, boerbone, beet en babaspinasie. Somertyd is daar groenbone, skorsies, ’n verskeidenheid soetrissies, brandrissies, wit en pers eiervrugte, allerhande kruie en ’n spesiale liggroen ronde murgpampoentjie waarvan die saad van Griekeland af kom.

Ou, verwaarloosde konifere is uitgehaal en in die plek daarvan is nou ’n dammetjie waarin Louisiana-irisse in die lente en lotuslelies in die somer blom.

Selfs ’n klein ruimte soos ’n trap of stoep wat andersins kaal sou lyk, het plek vir ’n pot! Plaas dit simmetries of in rye, soos Rodeen hier met meerjarige petunias en roosmaryn gedoen het.

Lotuslelies

Salies

Bloulelies (Agapanthus inapertus)

[ANDER GUNSTELINGE]

Buiten die rose spog elke seisoen met plante wat Rodeen na aan die hart lê.

• “In die winter is die kamelias vir my pragtig. Dit is sulke grasieuse plante met romantiese blomme, en ’n prentjie wanneer dit vol in die blom is.”

• Die lotuslelies (Nelumbo nucifera) in die dammetjie voor die huis. “Hul massiewe groen blare en groot pienkwit blomme slaan in die somer behoorlik jou asem weg. Ná blomtyd is die ornamentele saadkoppe net so mooi.”

• Die inheemse boslelie of Natallelie (Crinum moorei), Oranjerivierlelie (C. bulbispermum) en moeraslelie (C. x powellii), wat ’n kruising tussen eersgenoemde twee inheemse Crinum-lelies is, is lieflik onder die bome.

• Rooikwas (Scadoxus puniceus). “Dié inheemse bolplant aard baie goed by ons en het ’n bekoring van sy eie.”

• Die groot bome op die erf is vir Rodeen baie spesiaal. “My gunstelinge is die amberbome (Liquidambar styraciflua), moerassipresse (Taxodium distichum), Kaapse kastaiings (Calodendrum capense), lierbome (Citharexylum quadrangulare) en die rooiessenhoute (Trichilia emetica).” Die akkerbome (Quercus robur) op die sypaadjie en luiperdbome (Caesalpinia ferrea) wat een van Rodeen se ander seuns, Philip, as kind van saad gekweek het, is vir haar baie spesiaal.

Vingerhoedjies

Scabiosa africana tussen ‘The Dark Lady’-rose

Kantelbergklokkies

Rooikwas

George se reënval het die afgelope paar jaar baie afgeneem en daarom moes die Bothas ’n plan maak om genoeg water vir die groot tuin te kry. Met ’n helling na een punt onder in die tuin was dit die ideale plek om ’n dam te maak. “Al die reënwater van die geute vloei in ’n ondergrondse pyp na die dam. Só vang ons kosbare reënwater op vir besproeiing,” vertel Rodeen. Rondom die dam groei onder meer Oranjerivierlelies, Dieramas, ornamentele grasse, Felicias en Australiese boomvarings; tussenin blom rooi papawers wat hulself saai.