Foto’s Francois Oberholster | Stilering Melissa Rautenbach

Inheems en waterwys:

Poublom/uintjie (DIETES BICOLOR)

Die inheemse poublom met sy lintvormige blare blom sonder ophou vir maande aaneen in die lente en somer, en is met baie min water tevrede. Die liggeel blom met drie bruin merkies op die blomblare verskyn op die punte van vertakte stele. En al hou elke blom net vir een dag aan die plant, blom dit so oorvloedig dat dit feitlik altyd kleur verskaf.

Die plant is immergroen, meerjarig, ’n vinnige groeier en aard selfs goed in arm grond. Dit groei in volson en gedeeltelike skaduwee met min water, sowel as in klammer dele. In warm binnelandse streke moet dit verkieslik in gedeeltelike skaduwee geplant word.

Die poublom het baie min aandag nodig en vermeerder vinnig. Gebruik dit as ’n aksentplant in ’n bedding of in dele wat jy vinnig wil laat toegroei.

Dit is geskik vir massa-aanplanting en word dikwels as landskapplant gebruik. Dit werk besonder goed naby ’n waterfokuspunt, aangesien dit in die natuur naby strome en moerasagtige dele voorkom.

Vir die beste resultate, plant dit in komposryke grond en gee meer water in droë tye. Vermeerder dit deur groot polle ná blomtyd in die herfs te verdeel. Dit is nie nodig om die blare korter te sny nadat dit oorgeplant is nie.

Poublom groei ook van saad; oes dit wanneer die saadkoppe aan die plant droog is. Saai dit dan in die lente of herfs in ’n saailingmengsel en plant uit in die tuin wanneer die plantjie goed gevestig is. Die saadkoppe lyk ná blomtyd mooi aan die plant – los ’n paar net so vir tekstuur in die tuin en sny in die winter af. Die blomme is nie goeie plukblomme nie.

Plantgids
  • Volksnaam Poublom
  • Botaniese naam Dietes bicolor
  • Volson tot ligte skaduwee
  • Redelik rypbestand
  • Waterwys
  • Windbestand
  • Groei tot 1 m hoog en wyd

Vir hoogte in ’n gemengde bedding:

TABAKBLOM (Nicotiana langsdorffii)

Met sy geelgroen klokvormige blomme maak die tabakblom ’n mooi vertoning in die somer. Dié fyn blommetjies word op lang stele gedra en daar is ’n oorvloed aan elke steel.

Plant dit in volson of halfskaduwee agter in ’n gemengde bedding, saam met onder meer rose, salies, vingerhoedjies en tuinheliotrope. Maak seker die grond is goed gedreineer en komposryk.

Sny gereeld dooie blomme af om dit langer en meer te laat blom, maar moenie die dooie blomkoppe aan die einde van die seisoen te gou afsny nie. Dit selfsaai maklik vir nog meer plante die volgende jaar. Beskerm teen wind en stut die plant indien nodig.

Dié jaarplant is ’n baie goeie snyblom en lyk mooi saam met helderkleurige blomme. Die blomme lok skoenlappers.

Let wel Al die dele van die plant is giftig vir mens en dier indien groot hoeveelhede daarvan ingeneem word.

Plantgids
  • Volksnaam Tabakblom
  • Botaniese naam Nicotiana langsdorffii
  • Volson tot halfskaduwee
  • Redelik bestand teen ryp
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Groei sowat 90 cm hoog en 30 cm wyd

Goeie grondbedekker:

vrouemantel (Alchemilla mollis)

Die fyn takkies van die vrouemantel, ’n klein polvormende meerjarige grondbedekker, is van laatlente tot in die somer oortrek met klein geelgroen blommetjies. Die vaalgroen blare is rond met riffelrande. Dit lyk mooi op die rand van ’n bedding of al met ’n paadjie langs. Of plant ’n groot groep bymekaar as grondbedekker.

Vrouemantel hou van goed gedreineerde, komposryke grond en aard in volson sowel as gedeeltelike skaduwee. Dit groei ook goed in klam dele.

Laat die plant toe om saad te skiet, want dit selfsaai maklik. Sny dit laatwinter terug tot op die grond.

Vrouemantel is ’n goeie plukblom en lok skoenlappers.

Plantgids
  • Volksnaam Vrouemantel
  • Botaniese naam Alchemilla mollis
  • Rypbestand
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Hoogte 30–45 cm Wydte 45–60 cm

Kies ’n boom:

SOETKASUUR (Hymenosporum flavum)

Die soetkasuur, ’n immergroen boom wat vinnig groei, is in die lente tot vroegsomer oortrek met geurige liggeel tot roomkleurige blomme wat geler raak namate hulle verouder. Dit groei in verskillende grondtipes, mits dit goed dreineer. Die boom aard in gedeeltelike skaduwee, maar blom beter in volson. Die boom is geskik vir kleiner tuine.

Plantgids
  • Volksnaam Soetkasuur
  • Botaniese naam Hymenosporum flavum
  • Volson
  • Redelik rypbestand
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Groei tot 10 m hoog en 3 m wyd

Bronne