Foto’s Francois Oberholster, Kosie Jansen van Rensburg en verskaf

Plantgids

Volksnaam grenadellaBotaniese naam Passiflora edulis

  • Volson
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Immergroen
  • Moet gesnoei word
  • Rypgevoelig
  • Goeie klimplant vir klein tuine

Grenadellas is nie net lekker om te eet nie, dié rankplant, Passiflora edulis, dra die mooiste blomme én vertoon mooi teen ’n heining of oor ’n prieel. En danksy sy immergroen blare is dit ideaal om seeroë in jou tuin weg te steek – bou eenvoudig ’n latwerk en laat ’n grenadellaplant die onooglikheid toerank.

Die grenadella is ’n subtropiese plant wat van Brasilië afkomstig is, en aard dus goed op plekke met warm somers en gematigde winters. In kouer dele kan dit minder vrugte dra – plant dit dan aan die noordekant van die huis en maak seker die plant is beskerm teen ryp. Goed gevestigde grenadellas kan ligte ryp hanteer.

Passiflora edulis dra donkerpers vrugte in die somer. Die vrugte is heerlik om vars te geniet, in ’n limonade of selfs as koek- en tertbestanddeel.

Die plante is by kwekerye beskikbaar en spog met treffende wit-en-pers blomme voor die vrugte verskyn.

Die treffende blomme van die grenadellaplant hou meestal nie langer as een dag nie.

Plantwenke

'n Grenadellaplant groei vinnig en jy kan dit enige tyd plant, maar die lente is die beste tyd. Plant dit in goed gedreineerde, komposryke grond op ’n beskutte, maar warm en sonnige plek. Gee genoeg water in blomtyd (vroegsomer), anders val die blomme af engaan jy min of geen vrugte hê nie. 

As jy binne 12–18 maande vrugte wil hê, volg die raad van Anton Roux, eksotieseplantkweker van Somerset-Wes, en snoei van die ranke terug – dit sal syranke aanmoedig wat blomme en uiteindelik vrugte sal vorm. Hy verduidelik hoekom mense glo dat dié ranker net vir sowat 6 jaar lewe: “Grenadellas het ’n vlak wortelstelsel. Wanneer dit in sandgrond geplant word, gee die warm sand die plant wortelvrot wat deur ’n virus veroorsaak word, en dis die rede waarom die plant ná omtrent 5 tot 6 jaar doodgaan. Bedek jou grenadella se wortels in die somer met ’n dik laag kompos om die grond koel te hou en jou plant langer te laat leef.”

Het jy geweet?
Die grenadella staan ook in die volksmond bekend as die passieblom. Dié naam kom van die vroeë Rooms-Katolieke sendelinge in Suid-Amerika wat in dié blomme kenmerke gesien het wat vir hulle die lyding van Christus simboliseer.

Reg of weg?

Hoewel die grenadellaplant (Passiflora edulis) as ’n indringer gelys word, mag ’n mens dit oral in die land in dorpstuine plant; die vrug self is nie gelys nie, solank dit vir huishoudelike gebruik is. Dié plant is wel in Gauteng, die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Limpopo en Noordwes as ’n kategorie 2-indringer geklassifiseer, wat beteken dat jy ’n permit nodig het om dit buite stedelike gebiede te kweek. Al die ander Passiflora-spesies word as kategorie 1bplante gelys, wat beteken jy mag dit nie kweek of daarmee handel dryf nie.

Laai die indringerplantlys af by invasives.org.za.

KONTAK
  • Anton Roux 072 738 4438, anton.ru@gmail.com

Bronne

  • Maak tuin saam met Keith Kristen deur Keith Kirsten
  • Die Suid-Afrikaanse Watter blom is dit? deur Kristo Pienaar
  • Reader’s Digest Illustrated Encyclopedia of Gardening in South Africa