Dis ’n immergroen struik of klein boom wat tot 6 m hoog kan groei. Dit dra donker, dofgroen blare wat bleker is op die laer takke, met kenmerkende are en ’n prominente hoofrif. Van September tot Maart dra die struik pienk, rooi of wit enkelblomme met ’n ligte geur. Dit dra ook rooibruin vingeragtige, geriffelde peule (10–20 cm lank) wat in die lengte in twee verdeel is en harige sade vrystel. Indringerstatus Dis ’n Kategorie 1b-indringer, wat beteken jy kan vervolg word as dit op jou werf gevind word. Hoekom is dit ’n probleem? Die hele plant is uiters giftig vir mense, voëls en ander diere; die sap is ook ’n vel-irritant. Dis veral ’n probleem in die Oos- en Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en Mpumalanga, waar dit met inheemse spesies meeding. In semi-droë bergvalleie oorgroei dit waterlope.

KONTAK invasives.org.za