Foto's Kosie Jansen van Rensburg

Tuis tuindagboek 4 klimplante vir die herfs 01

Klimop-tweeling

Die Virginiese klimop (Parthenocissus quinquefolia) bied, nes sy Bostonse boetie (Parthenocissus tricuspidata), ’n treffende kleurspel in die herfs. En hoe meer son dié twee plante kry, hoe mooier raak hulle wanneer die dae begin korter word. Hoewel albei van koue winters hou – wat vir selfs ryker herfskleure sorg – is hul kleure ook mooi in dele met ’n gematigde winter. Al twee is vinnige groeiers wat hou van goedgedreineerde, vrugbare grond en het min water nodig wanneer dit goed gevestig is. Een van die groot plusplunte van dié twee klimoppe is dat hulle self aan feitlik enige oppervlak vasklou – ’n raamwerk is dus nie nodig nie. Snoei die plante in die winter terug terwyl die takke kaal is en jy makliker kan sien wat groei waar. In die somer kan jy die lang takke afsny wat rank waar dit nie moet nie.

Die Virginiese klimop en die Boston-klimop word maklik met mekaar verwar. Kyk na die blare: Die Virginiese klimop dra vyf duidelik onderskeibare blare bymekaar, terwyl elke blaar van die Boston-klimop drielobbig is. Waar die twee plante naby mekaar groei, kan kruisbestuiwing plaasvind en nuwe hibriede hul verskyning maak.

Plantgids

Volksnaam Virginiese klimop
Botaniese naam Parthenocissus quinquefolia

Volksnaam Boston-klimop
Botaniese naam Parthenocissus tricuspidata


  • Volson tot skaduwee
  • Rypbestand
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Windbestand
  • Herfskleure in April en Mei


Tuis tuindagboek 4 klimplante vir die herfs 02

Bloureën (links)

Dit is bloureën (Wisteria sinensis) se trosse pers blomme in die lente wat die meeste tuiniers se harte steel. Maar kyk hoe mooi en subtiel is dié klimplant se blare in skakerings van geel in die herfs. Bloureën groei maklik en lyk mooi teen ’n muur, oor ’n prieel of in ’n boom. Plant jou bloureën op ’n sonnige plek en hou dit nat tot die plant gevestig is. Dit sal in feitlik enige grond goed aard, maar maak net seker dit het genoeg plek om te groei. Snoei hard terug net nadat dit geblom het.

Plantgids

Volksnaam bloureën

Botaniese naam Wisteria sinensis

  • Volson
  • Gemidddelde waterbehoeftes
  • Rypbestand
  • Herfskleure in April en Mei

Ornamentele druif (regs)

Met ’n ornamentele druif kan jy jou prieel ’n Bolandse gevoel gee, maar sonder die druiwe wat op jou stoep mors! Ornamentele variëteite van Vitis vinifera lyk nes die ware jakob, maar dra nie vrugte nie, en die blare verkleur van geel en oranje tot vlamrooi in die herfs. Plant jou druif (maak by jou kweker seker dis ’n ornamentele kultivar) in goedgedreineerde, komposryke grond en gee dit in die somer genoeg water, veral in winterreënstreke. Gee die plant ’n ligte somersnoei en sny in die winter tot op die prieel of raamwerk terug. ’n Ornamentele druif sal in die meeste dele van die land goed aard, behalwe waar dit baie vogtig is, soos die KwaZulu-Natalse kus.

Plantgids

Volksnaam ornamentele druif

Botaniese naam Vitis viniferavariëteite

  • Son tot halfskaduwee
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Rypgevoelig
  • Herfskleure in Maart en April