Kweek dit so

Dié somer-jaarplant vra volson, vrugbare grond wat goed dreineer en beskutting teen wind. Dit groei tot 1 m hoog, en omdat sy blomme voordelige insekte lok wat klaarspeel met plantluise, is dit ’n goeie metgesel vir blaarslaai, komkommer, kool, blomkool en uie.

Wenk Vars blare het baie meer geur as droë blare. Oes die saad in die herfs en gebruik dit in jou kos as spesery, as geurmiddel in gebak en in ’n strelende tee.

Het jy geweet? Mense op ’n soutvrye dieet gebruik dille as plaasvervanger omdat dit ryk is aan mineraalsoute.

Algemene probleme

Moenie dat die plant op warm dae uitdroog nie; dit sal baie gou saadskiet.

Gebruike

Vars blare werk goed in marinades, slaaisouse, vir geur in warm en koue geregte (veral forel, salm, hoender, aartappels en gekookte eiers), in suurroom as sous vir komkommer, in maaskaas as smeer en as garnering vir soppe en groentegeregte. Gebruik die saad om brood, koekies, koeke, vleisgeregte, smoorkool en gaar wortelgroente mee te geur.

’n Strelende tee gemaak met fyn dillesaad is ’n wonderlike digestief ná ’n ryk maaltyd.

KONTAK healthyliving-herbs.co.za