Met sy groen-en-geel loof vorm dit ’n fokuspunt in menige tuin.

Kweek dit so

Suurlemoentiemie is ’n klein struikagtige meerjarige wat tot 30 cm hoog groei; dit dra klein groengeel blare met ’n suurlemoen-geur, en dofpers blomme in die lente. Die krui hou van volson en sanderige grond wat goed dreineer. Dit aard ook baie goed in ’n houer. Vir genoeg blare in die winter, hou ’n pot of twee in ’n sonnige, beskutte kol, of plant dit in ’n hangmandjie vir die stoep.

Verskeie soorte

Daar is heelwat variëteite, maar ‘Golden’ (’n grondbedekker), ‘Bressingham’ (dit dra massas blomme in die somer) en ‘Silver Posy’ (groen-en-wit loof) is die uitblinkers.

Wenk van die maand

Die takkies is baie taai; stroop die blare af en voeg dit by jou kos, of gooi die takkies net so in en haal dit agterna uit.

Het jy geweet?

Tiemietee is propvol antioksidante, kan omega-3-vetsure help vermeerder en bevat minerale en vitamiene wat noodsaaklik is vir goeie gesondheid.

Algemene probleme

Die plant kan onnet begin lyk as dit nie gereeld gesnoei of gepluk word nie.

Gebruik dit...

... as geurmiddel by bredies en potjies, oondhoender (in die vulsel of onder die vel), asook geroosterde of panbraai-groente. Dis heerlik saam met gebakte salm of forel, en gekombineer met lourierblare en pietersielie is dit ’n klassieke bouquet garni vir vleisgeregte en soppe wat stadig gaargemaak word.

KONTAK healthyliving-herbs.co.za