Foto’s Francois Oberholster • Stilering Melissa Rautenbach

Lobelia

(Lobelia erinus)

Dié pragtige inheemse blommetjies lyk op hul mooiste in ’n pot, hangmandjie of voorlangs in ’n bedding. Plant ’n groot groep van dieselfde kleur bymekaar vir die meeste trefkrag. Dit lyk ook mooi langs ’n tuinpaadjie om dit te versag. Buiten die diepblou lobelias is hulle ook in ligblou, pers, wit, roos en karmosyn te kry. Die meeste het wit vlekkies in die middel van die blom. Koop ’n sespak met saailinge of saai saad in die herfs of lente in goed gedreineerde, verkieslik effens sanderige, grond. Dit blom oorvloedig van Oktober tot Maart.

Lobelias groei maklik oraloor in die land as ’n eenjarige somerplant. Hou goed nat in die groeiseisoen.

Plantgids
  • Halfskaduwee tot volson
  • Redelik rypbestand
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Blom in die lente en somer
  • Groei 10–15 cm hoog
Daar is 69 inheemse Lobelia-spesies, waarvan Lobelia erinus een is.

Koringblom

(Centaurea cyanus)

Saai dié eenjarige in die lente of herfs vir ’n diepblou kleur in ’n bedding. Dit groei maklik en hou van komposryke grond. Koringblomme lyk nie net lieflik in tuinbeddings nie, dis ’n uitstekende snyblom wat ook in wit, pienk en pers te kry is. Die saad wat jy by ’n kwekery koop, is gewoonlik ’n mengsel van dié kleure. Dun saailinge uit wat te na aan mekaar opkom; hulle moet sowat 20–30 cm uitmekaar groei.

Sny gereeld dooie blomme af sodat die plant vir lank aanhou blom. Sny aan die einde van die seisoen van die droë blomkoppe af en bewaar die saad in ’n papiersakkie. Of los die blomme om saad te skiet; dit sal volgende seisoen weer oraloor opkom. Trek die plante wat klaar geblom het en nie meer mooi lyk nie teen die middel van die somer uit.

Koringblomme is eetbaar en lyk pragtig as garnering by enige gereg. Gebruik dit saam met kappertjies in ’n slaai – die diepblou kleur kontrasteer pragtig met die kappertjies se oranje en geel. Of breek die blom se blaartjies versigtig af en versier ’n kolwyntjie daarmee!

Plantgids
  • Volson tot halfskaduwee
  • Rypbestand
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Groei 50 cm tot 1 m hoog
  • Blom in die lente en somer

Zoeloespoorsalie

(Plectranthus zuluensis)

Dié inheemse struik met sy pragtige blou blomme is perfek vir ’n skadukol. Dit groei maklik en vinnig en blom vir lang tye van die lente tot in die winter. In die herfs is dit op sy mooiste.

Plant dié spoorsalie in komposryke grond wat goed dreineer. Dit het min water nodig as dit eers gevestig is, maar gee meer water in die somer, die groeiseisoen. Snoei ná blomtyd om van dooie hout ontslae te raak. Dit kan ook as ’n netjies gesnoeide heiningplant gekweek word; snoei dan meer gereeld om die vorm te behou.

Zoeloespoorsalie groei baie maklik van steggies, wat enige tyd van die jaar gemaak kan word. Vir die beste resultate, doen dit in die lente en vroeë somer. Dit lyk ook mooi in ’n pot op ’n skaduryke stoep. Pluk dié delikate blou blomme vir jou huis – hulle hou lank in ’n blompot. As jy die takkies lank genoeg in water hou, sal hulle begin wortels vorm. Plant dit uit in jou tuin. Dié struik aard goed in warmer, rypvrye tuine. Plant dit saam met boslelies (Clivia miniata) vir ’n treffende vertoning.

Plantgids
  • Half- tot volskaduwee
  • Rypgevoelig
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Groei tot sowat 2 m hoog
  • Blom van die lente tot in die winter

Vergeet-my-nietjie

(Myosotis sylvatica)

In die lente spog dié eenjarige sonder ophou met fyn, blou blommetjies, elkeen met ’n klein wit of geel ogie in die middel. En as jy eers eenmaal vergeet-my-nietjies in jou tuin het, het jy dit vir altyd! Hulle selfsaai oorvloedig en groei maklik. Kom daar te veel plantjies op, trek gerus uit, anders neem hulle jou hele bedding oor. Vergeet-my-nietjies aard feitlik orals en vra min moeite.

Die inheemse Kaapse vergeet-my-nietjie (Anchusa capensis) is ’n effens groter plant met helderblou blomme. Dit groei in die meeste grondsoorte en selfsaai net so maklik. Kaapse vergeet-my-nietjies blom van die lente tot die somer. Albei is goeie plukblomme. Hoewel die twee se gewone name baie dieselfde is, hoort hulle tot verskillende genusse.

Plantgids
  • Halfskaduwee tot volson
  • Rypbestand
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Groei 20–30 cm hoog
  • Blom in die lente

Pronkridderspoor

(Delphinium-spp.)

Plant ’n ry pronkridderspore agter in jou bedding. Dit gee hoogte en vang die oog! Dié blomme is grootliks blou, maar is deesdae ook in wit en skakerings van pers en pienk te kry. Die meerjarige Delphinium x elatum, wat meestal as eenjarige gekweek word, groei tot 2 m hoog en spog met ’n rits halfdubbele blomme, elk met “ogie” in die middel. Dit blom van November tot Januarie op lang stele met blomme wat van onder af oopgaan. Stut die plante en beskerm hulle teen sterk wind. Vir laer groeiende pronkridderspore, kies Delphinium grandiflorum – dit groei sowat 40 cm hoog en blom in die lente.

Plant pronkridderspore in die herfs in baie goed voorbereide, komposryke grond wat goed dreineer. Voed elke twee weke met ’n vloeibare middel soos Seagro of Nitrosol. Saailinge moet sowat 35 cm uitmekaar groei en beskerm word teen slakke. Hou goed nat in die somer, veral in winterreëngebiede. Dit aard die beste in koel, klam streke en hou nie van baie warm en droë klimate nie. Goeie pasmaats is vingerhoedjies (Digitalis purpurea), stokrose (Alcea rosea) en kantelbergklokkies (Campanula).

Plantgids
  • Halfskaduwee tot volson
  • Redelik rypbestand
  • Vra heelwat water
  • Hoogte wissel
  • Blom in die somer

Blousyselbos

(Plumbago auriculata)

Met ’n blousyselbos in jou tuin is jy verseker van ’n groot klomp blou blomme! Blomme wissel van poeierblou tot ’n dieper blou. As die struik nie blom wanneer jy dit koop nie, vra jou kweker watter skakering van blou dit is as jy ’n spesifieke een wil hê.

Dié inheemse plant aard in feitlike enige tipe grond en kan as groot struik of heiningplant gebruik word. Dit het min water nodig as dit eers gevestig is en sal die hele somer lank blomme dra. Sny hard terug in die winter om dit in toom te hou. Sonder snoei raak die struik baie groot en onnet. Blousyselbos is nie ’n goeie plukblom nie; los dit aan die bos en geniet dit in jou tuin.

Plantgids
  • Volson
  • Redelik rypbestand
  • Waterwys
  • Groei 3 m hoog en wyd
  • Blom in die somer

Nog blou blomme

  • Krismisrose (Hydrangea macrophylla)
  • duiwel-in-die-bos (Nigella damascena)
  • Echinops ritro, blousalie (Salvia africana-caerulea)* en S. guaranitica ‘Costa Rica Blue’
  • Veronica spicata
  • Amerikaanse sering (Ceanothus x delilianus ‘Gloire de Versailles’)
  • Chinese loodkruid (Ceratostigma willmottianum)
  • blousuurkanol (Aristea capitata)*
  • gesiggie (Viola-spp.)
  • blousambreeltjie (Felicia-spp.)*
  • agapant (Agapanthus-spp.)*
  • Oxypetalum caeruleum

* inheems

Bronne