Foto’s Henrique Wilding en Christo Lötter

 ‘Vera Blakeman’

Plantgids
  • Bougainvillea-kultivars
  • Volson
  • Rypgevoelig tot matig rypbestand
  • Waterwys
  • Windbestand
  • Hoogte en wydte wissel

‘Ada’s Joy’

Klop jouself op die skouer as jou Bougainvillea (botaniese naam én volksnaam) met meer kleurryke skutblare as loof spog, want dan weet jy dit staan op die regte plek en jy doen die regte ding.

Dié plant se helderkleurige skutblare wat drie klein, onopsigtelike blommetjies omring, sorg vir ’n skouspel van vroeg in die somer tot in die herfs. En hoe warmer die plant kry, hoe meer blom dit en hoe helderder vertoon die skutblare.

Bougainvilleas is in verskeie kleure te kry, onder meer wit, pienk, pers, oranje en kersierooi. Sommige kultivars het enkelblomme, terwyl ander met dubbelblomme of bont blare spog.

‘Coconut Ice’

Die plante is sterk groeiers en kan groot word. As klimplant sal dit ’n muur of prieel vinnig toegroei. Plant dit waar dit genoeg groeiplek het en sit ’n stewige raamwerk teen die muur op om die plant te ondersteun. Maak seker die prieel is sterk genoeg dat dit die volgroeide plant se gewig kan dra.

Die plant sal ook maklik in ’n boom opklouter, maar wees seker jy wil dit juis so hê, want om dit weer uit te sny, is ’n massiewe (en pynlike) taak. Hoewel bougainvillea dikwels as klimplant gebruik word, is dit ook nuttig as ’n losstaande struik, heiningplant, potplant of hoogstamplant, selfs as grondbedekker, afhangende van die kultivar se groeiwyse.

Met sy sterk dorings en digte groei vorm dit ’n ondeurdringbare blommende heining. Plant jou bougainvilleas sowat 2 m uitmekaar al met jou heining langs en bind die sytakke voortdurend horisontaal vas totdat die heining die vereiste hoogte bereik het. Snoei ná blomtyd bolangs en aan die kante goed terug om dit netjies en in toom te hou.

‘Lady Mary Baring’



‘Turkish Delight’

Klein tot groot

Bougainvillea-kultivars wat groot struike word, is ideaal vir groot tuine en om heinings, mure en pergolas toe te groei. Middelslag-groeiers aard in mediumgroot tot kleiner tuine, terwyl die kompakte dwergvariëteite perfek is vir potte en meenthuistuine. Vra by jou kwekery watter een is die beste vir jou tuin. Hier is ’n paar staatmakers met hul hoogte tussen hakies:

Vir klein tuine en potte

  • Bougainvillea ‘Vera Purple’ (1 m)
  • Bougainvillea ‘Smarty Pants’ (kompakte groei)
  • Bougainvillea ‘Fire Opal’ (1 m)
  • Bougainvillea ‘Apple Blossom’ (1 m)
  • Bougainvillea ‘Thai Delight’ (1,5 m)
  • Bougainvillea ‘Rijnstar White’ (1 m)

Vir mediumgroot tuine

  • Bougainvillea ‘Rijnstar Pink’ (2 m)
  • Bougainvillea ‘Sundown Orange’ (1,5 m)

Vir groot tuine

  • Bougainvillea ‘Killie Campbell’ (5 m of selfs hoër)
  • Bougainvillea ‘Coconut Ice’ (± 3 m)

‘Tropical Rainbow’

Groeitoestande

Bougainvilleas aard die beste in warm en baie sonnige tuine en groei ook goed in arm grond wat goed dreineer. Dit het min water nodig en sal selfs in droogtetye floreer. Gee ’n jong plant water tot dit gevestig is, maar daarna het dit baie min water nodig. Die plant is rypgevoelig, tog sal dit ’n mate van ryp kan hanteer as dit eers gevestig is. En ofskoon dit somerreën verkies, is die plant baie aanpasbaar en aard dit net so goed in winterreëngebiede.

Wanneer jou bougainvillea ’n meter of twee hoog is, kan jy dit die eerste keer snoei om die struik netjies te maak. Gevestigde plante moet in die winter en voordat nuwe groei verskyn hard teruggesny word, aangesien dit op die nuwe groei blom. Indien dit oor ’n prieel of teen ’n muur groei, kan jy dit tot op die basis terugsnoei. Bougainvillea is nie ’n goeie plukblom nie. Geniet dit in jou tuin!

Bronne
  • Maak tuin saam met Keith Kirsten deur Keith Kirsten
  • Reader’s Digest A South African Garden for All Seasons met hoofmedewerker Jennifer Godbold-Simpson
  • My Favourite Plants deur Una van der Spuy
  • Cape Garden 021 988 4137