Foto Francois Oberholster

Met sy blinkgroen blare sorg die inheemse duinekraaibessie heeljaar vir ’n mooi vertoning. Hoewel dit as ’n kleinerige boom of groot struik beskou word, kan jy dié plant se hoogte en vorm baie goed beheer deur dit te snoei.

Plant dit in ’n pot of direk in die grond en sny dit soos Bernice in ’n balvorm vir ’n mooi fokuspunt. Met volgehoue groei vorm dit gou ’n digte bal; solank die grond goed dreineer en die plant son kry, sal dit gelukkig wees.

Duinekraaibessies kom kuslangs van die Kaapse Skiereiland tot in die suide van KwaZulu-Natal voor. Dis ’n geharde plant wat vinnig groei en min water nodig het. Dit hou van sanderige grond en is daarom perfek vir kustuine. Maar die plant het ook ander nut: Dit kan ingespan word om sandgrond te stabiliseer en is ’n baie goeie heiningplant wat as windskerm kan dien. Boonop maak dit ook ’n mooi bonsai. Beslis ’n plant met vele talente!

Plantgids
  • Volksnaam Duinekraaibessie
  • Botaniese naam Searsia crenata
  • Volson tot halfskaduwee
  • Redelik bestand teen ryp
  • Waterwys
  • Windbestand
  • Immergroen
  • Inheems


Bronne Maak tuin saam met Keith Kirsten deur Keith Kirsten; pza.sanbi.org; lifeisagarden.co.za; thegardener.co.za

KONTAK Margot van der Westhuizen 082 776 4149, mwgardens.co.za