Die eikeblaarhortensia (Hydrangea quercifolia) is twee keer mooi: in die somer wanneer dit blom én in die herfs wanneer dit met pragtige herfskleure spog!

Dié struik se blomme is net soos die alombekende krismisroos, Hydrangea macrophylla, ’n klomp klein blommetjies wat saam soos een groot blom vertoon. Dié spesie dra egter sy blommetjies in ’n keëlvormige blompluim wat roomwit van kleur is. In die herfs verkleur die blare roesrooi. Plant ’n paar van dié struike bymekaar om ’n mooi vertoning te maak.

Eikeblaarhortensia hou van klam maar goed gedreineerde, vrugbare grond. Berei die plantgat goed voor met baie kompos, ’n hand vol beenmeel en kunsmis soos Atlantic Fertilisers se Bio Ganic All Purpose.

Die struik maak ’n goeie heiningplant, en aard ewe goed in son en halfskaduwee – hoewel die blare in volson kan skroei. In die warm somermaande het die struik baie water nodig; maak minstens drie keer ’n week diep nat en gooi ’n deklaag rondom die stamme.

In die winter kan jy minder water gee wanneer die plant dormant is. Dis in die algemeen redelik siektebestand.

Dié plant het nie baie snoei nodig nie. Sny sowat ’n derde van die ou hout van gevestigde plante ná blomtyd in die herfs of vroeë winter terug tot teen die grond, waar dit weer sal uitloop. Sny ander takke net liggies terug indien jy die plant wil netjies maak. Hoe meer jy terugsny, hoe groter sal die nuwe seisoen se blare wees.

Eikeblaarhortensias is uitstekende plukblomme; kies die ouer blomme waarvan die meeste individuele blommetjies reeds oop is – die jong blomme verwelk gouer. Moenie dooie blomme direk ná blomtyd afsny nie; namate die blomme verouder, raak hulle bruin en kry ’n papieragtige voorkoms. Dit lyk dan nog lank mooi.

Maak steggies in die winter van harde hout of in die laatlente van die nuwe seisoen se sagte hout. Plant dit in potjies met komposryke grond en plant uit wanneer dit goed gevestig is, met genoeg wortels. Ouer takke wat aan die grond raak, sal ook wortels vorm. Steek dit in die winter met ’n graaf af en plant elders.

Plantgids

Volksnaam Eikeblaarhortensia
Botaniese naam Hydrangea quercifolia

  • Volson tot halfskaduwee
  • Rypbestand
  • Baie water nodig
  • Bladwisselend
  • Groei 1–1,5 m hoog en 1,5–2,5 m wyd
  • Goeie plukblom

’n Hydrangea quercifolia-blaar in herfsgewaad.

Het jy geweet?
Die naam “quercifolia” beteken die plant het blare wat lyk soos dié van eikebome (Quercus), vandaar die naam eikeblaarhortensia. Hydrangea quercifolia se blare is wel baie groter as dié van ’n eikeboom.
Bronne
  • Reader’s Digest A South African Garden for All Seasons met hoofmedewerker Jennifer Godbold-Simpson
  • rhs.org.uk