Foto’s Francois Oberholster

Kruipvy

Het jy ’n onooglike muur wat jy wil laat toegroei, of wil jy dalk kontras teen ’n mooi baksteenmuur skep? Dan is ’n kruipvy (Ficus pumila) ’n goeie keuse. Dié klimplant klou self aan feitlik enige oppervlak en het geen ekstra ondersteuning of vasbind nodig nie. Dit groei aanvanklik stadig, maar die klein, jong blaartjies wat styf teen die muur vassit, maak ’n baie mooi vertoning – dit lyk kompleet of die jong takke met hul heldergroen blaartjies in ’n patroon al met die muur langs groei.

Met verloop van tyd vorm daar uit die dun hooftak nuwe horisontale takke wat weg van die muur af groei. Dié takke het nie die selfklouvermoë van die aanvanklike jong groei nie en die blare wat daarop vorm, is groter. Indien jy die plant toelaat om sytakke te ontwikkel, sal die blare nie net groter wees nie, maar sal die plant ook meer struikagtig vertoon en dikker, houtagtige stamme vorm.

As jy hou van die kleiner blaartjies wat styf teen die muur groei, sny die sytakke voortdurend tot teen die muur af. Nuwe klein blaartjies hou aan met uitloop, daarom sal jou muur nie kaal lyk wanneer jy die groter groei wegsny nie.

Kruipvy is ’n maklike groeier en afgesien van terugsny het dit min onderhoud nodig. Plant dit in komposryke grond wat goed dreineer. Hou die plant goed nat tot dit gevestig is; daarna het dit nie baie water nodig nie, solank die grond net nie heeltemal uitdroog nie.

Dis ook maklik om dié klimplant te vermeerder. Knip ’n takkie van sowat 10–15 cm af en sny die boonste 3 cm af – dié sagte, nuwe groei verwelk gou. Verwyder die blare aan die onderste helfte van die takkie en druk die steggie halfpad in ’n potjie met potplantgrond. Hou klam. Jy kan ook lote wat grondlangs groei en reeds wortels gevorm het, gebruik om meer plante te maak. Grawe die lote uit, sny dit in kleiner stukke en plant dit in ’n pot. Sny oortollige blare van die lote af sodat die steggie meer energie het vir wortelvorming.

PLANTGIDS
  • Volksnaam Kruipvy
  • Botaniese naam Ficus pumila
  • Son tot halfskaduwee
  • Rypbestand
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Immergroen

WENK

Kruipvy sal nie jou huis se fondasies beskadig nie, maar jy moet dit nie gebruik om krake te bedek nie – die wortels sal by die krake ingroei en sake vererger. Hou jou kruipvy dop en snoei waar nodig.

Muehlenbeckia complexa

Vir ’n delikate ranker wat goed aard in die skaduwee, is muehlenbeckia ’n goeie keuse. Dié ranker is immergroen in warmer dele van die land en bladwisselend in kouer dele. Dit groei vinnig en vorm gou ’n digte massa ineengevlegte dun takkies.

Die klein donkergroen blare kontrasteer mooi met die rooibruin kleur van die takkies. Muehlenbeckia het ’n ligte raamwerk nodig om teen op te groei, maar hoef nie vasgebind te word nie – die takkies draai hulself vas.

Plant dit in klam, komposryke grond wat goed dreineer. Moenie dat die plant in te warm, direkte son groei nie, en sorg dat dit nie uitdroog nie. Snoei dié ranker net terug as dit onnet raak of groei waar jy dit nie wil hê nie; andersins vra dit min aandag.

Gebruik van die ouer, harder groei om steggies te maak. Sny ’n takkie van ongeveer 10 cm lank af en verwyder die blaartjies op die onderste deel. Druk dit halfpad in ’n potjie met potplantgrond en hou dit klam totdat daar genoeg nuwe groei is – dit is ook ’n aanduiding dat wortels gevorm het. 

Muehlenbeckia maak ’n mooi potplant en lyk pragtig wanneer dit oor die rand van die pot hang. Of plaas ’n raamwerk in die pot waarteen dit kan opgroei; dit vorm ’n treffende fokuspunt. En pluk gerus van die takkies vir jou huis, want hulle hou lank in water.

PLANTGIDS
  • Volks- en botaniese naam Muehlenbeckia complexa
  • Halfskaduwee tot skaduwee
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Rypgevoelig
  • Immergroen en bladwisselend

Bronne Maak tuin saam met Keith Kirsten deur Keith Kirsten; portlandnursery.com; plantophiles.com