Foto’s Jeandri Streicher

Op die bopunt van lang, dun stele wat laag afbuig, blom die delikate siergrasklokkie (Dierama pendulum) in die lente en die vroeë somer.

Dié inheemse meerjarige spog met perspienk klokvormige blomme van sowat 50 mm lank. Dit vertoon mooi in ’n gemengde bedding en saam met ornamentele grasse – sy dun, lintvormige blare skakel pragtig in by dié van grasse. Of plant dit in ’n gruistuin waar die grasagtige polle en sierlike blomme beslis die oog sal vang. Dit hou van ’n plek met genoeg lugbeweging en vra net die ligste briesie om te begin dans.

Siergrasklokkies hou van volson en kompos-ryke, effens suur grond. Hulle groei ewe goed in goed gedreineerde leemgrond as in klammer omstandighede, solank die groeiplek nie deurnat word in die winter nie. Dit kan ook ’n mate van ryp verduur.

Hoewel die plant immergroen is, is dit rustend van die herfs tot aan die einde van die winter. Maak seker dat dit in dié tyd steeds genoeg son en lig kry as jy wil hê dit moet die volgende seisoen mooi blom. Hou dit goed nat in die somer; in die winter kan dit droër toestande oorleef. En al is die plant rustend in die winter, moet die knolle nie soos baie ander bolle uitgehaal en gebêre word nie – dit sal uitdroog en uiteindelik doodgaan. Los dit in die grond.

Met verloop van tyd vorm die plant ’n digte pol wat nie onnodig versteur moet word nie. Dit kan tot vyf jaar of selfs langer net so gelos word. Verdeel dit net as dit regtig nodig is, soos wanneer jy oplet dit begin minder blom. Doen dit in die lente of ná blomtyd. Moet ook nie die groen blare terugsny nie, want dit sal die plant se groei en blomvermoë aansienlik vertraag. Lelike en ou, bruin blare kan versigtig afgetrek word.

Vermeerder siergrasklokkies deur in die lente saad te saai of ouer polle te verdeel. Wees net versigtig dat jy nie die wortels beskadig nie. Plant die verdeelde polle onmiddellik – hulle moet glad nie uitdroog nie – en hou goed nat.

Dit duur lank voordat plante wat van saad gekweek word, begin blom. Jy sal ook tot twee jaar moet wag voordat verdeelde polle weer blomme dra. As jy molle in jou tuin het, plant die polle in stewige draadmandjies wat jy in die grond versink.


Plantgids
  • Volson
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Ligte ryp
  • Windbestand
  • Groei tot 1 m hoog

Het jy geweet?

Daar is 45 Dierama-spesies, almal endemies aan Afrika, van die Suid-Kaap tot die hooglande van Ethiopië.

Siergrasklokkies kom natuurlik voor van Knysna in die Wes-Kaap tot die omgewing van Makhanda (voorheen Grahamstad) in die Oos-Kaap.

Bronne
  • Maak tuin saam met Keith Kirsten deur Keith Kirsten
  • Die Suid-Afrikaanse Watter blom is dit? deur Kristo Pienaar
  • pza.sanbi.org; rhs.org.