Foto’s Francois Oberholster • Stilering Melissa Rautenbach

Wat is nou mooier as ’n malva in ’n pot of ’n hangmandjie, met helderkleurige blomme wat oor die rand tuimel? En danksy die groot verskeidenheid kleure en groeiwyses om van te kies, is daar een vir elke pot en tuin!

Malvas, oftewel Pelargoniums, is inheems, het min water nodig wanneer hulle eers gevestig is en is maklik om self te kweek. Boonop is ons pelargoniums die oorsprong van die ornamentele gehibridiseerde malva wat vandag oor die aardbol heen gekweek en geplant word.

Van die sowat 270 spesies pelargoniums wêreldwyd kom meer as 200 natuurlik in Suider-Afrika voor – die meeste in die suidelike deel van die land, tussen Nieuwoudtville in die weste en Port-Elizabeth in die ooste.

Deur die jare is malvas oor en weer gekruis om die wye verskeidenheid wat ons vandag te koop kry, voort te bring. Dié hibried-malvas is geteel om die plante se beste kenmerke te beklemtoon – hetsy mooi of groot blomme, ’n interessante blaarvorm, maklike groeiwyse of geur.

Maar moenie vergeet van spesie-malvas nie – hulle is ook van groot waarde in ons tuine. Dink maar aan Pelargonium tomentosum, P. quercifolium, P. radens en P. graveolens. Sommige spesie-malvas is kleiner groeiende plante wat uit droër gebiede kom en goed aangepas is met verdikte wortels en stingels; hulle aard goed in rotstuine en dele met min water.

Pelargonium of Geranium?

Pelargoniums, oftewel malvas, is oorspronklik verkeerdelik as Geraniums geklassifiseer. Dié fout is reggestel, maar die verwarring het bly voortleef en vandag nog word daar gereeld na Pelargoniums verwys as Geraniums. Hoewel die twee plante lede van dieselfde Geraniaceae-familie is, behoort dit nie tot dieselfde genus nie en is dit baie verskillend wat groeiwyse, saadverspreiding en voorkoms betref.

Op die oog af is die verskil ook duidelik. Geraniums se vyf kroonblare is almal ewe groot en eweredig gerangskik. By Pelargoniums is dit nie so nie. Die boonste twee kroonblare sit nader aan mekaar en ook weg van die onderste drie wat gewoonlik kleiner is.

Het jy geweet?

Die woord "pelargonium" kom van die Griekse woord "pelargos" wat ooievaar beteken, want die saadkop lyk soos ’n ooievaar se bek.

Kweekwenke

Posisie

Malvas vra son, goed gedreineerde grond en genoeg lugsirkulasie. Malvas in potte verkies son in die oggend en skaduwee in die middag. In die tuin kan die meeste malvas in volson groei; dis net die kloutermalvas wat meer skaduwee verkies.

Voeding en water

Volwasse plante in potte en hangmandjies kan elke sowat 10 weke in hul groeifase met ’n seewiervoeding soos Kelpak gevoed word. Sou jy dit te gereeld toedien, sal dit tot oorvloedige blaargroei pleks van blomme lei. Of gebruik Pokon Geranium Plant Food van Hadeco. Vir malvas in beddings, werk kompos en beenmeel aan die begin van die groeiseisoen by die grond in. Gevestigde malvas is gehard en het min water nodig. Maak dit net nat as die grond om die plant uitgedroog is. Dis beter om malvas te min as te veel water te gee.

Snoei

Snoei malvas wanneer die blomtyd verby is. Sny alle dooie of siek takkies uit en snoei gesonde stele met minstens een derde terug. Malvas kan in die somer liggies teruggesny word ná die eerste blomfase van die seisoen. Sny ook dooie blomme gereeld uit; dit moedig die plant aan om meer te blom pleks van saad te vorm.

So maak jy steggies

Steggies is maklik! Malvas groei maklik van saad, maar nog makliker van steggies. Plante wat van steggies groei, sal boonop binne 3 tot 6 maande blom. As jy in die lente of somer steggies maak, sal jy sommer vinnig suksesvolle groei kry. Jy kan ook in die herfs, wanneer die plante in elk geval teruggesnoei word, die takkies wat jy afsny gebruik vir steggies. Doen dit so:

1. Kies ’n sterk en gesonde moederplant. Gebruik die boonste deel van ’n takkie waarvan die groei al hard is, maar nog nie houtagtig nie. Die takkie moet sowat 15 cm lank wees met drie tot vyf verdikkings op die stingel. Sny die takkie net onder ’n blaar af met ’n skoon, skerp snoeiskêr.

2. As die takkie blomme aan het, sny dit af. Verwyder die blare van die onderste helfte, maar los ’n paar blare aan die bopunt van die steggie.

3. As dit ’n pelargonium met groot blare is, sny elke blaar met ongeveer ’n derde kleiner om vogverlies te verminder.

4. Steek die steggie halflyf in ’n pot met goed gedreineerde potplantgrond. Hou klam, maar nie nat nie. Sit die pot in die skaduwee en skuif dit son toe sodra die steggie nuwe blare vorm.

5. Wanneer daar genoeg wortels gevorm het, is dit reg vir uitplant. Toets dit so: Trek versigtig aan die plantjie; as dit weerstand bied, het dit genoeg wortels.

Plantgids

Botaniese naam: Pelargonium-spesies en -hibriedeVolksnaam malva

  • Meerjarig
  • Volson tot gedeeltelike skaduwee
  • Rypgevoelig
  • Moet gesnoei word
  • Goeie plukblom
  • Hoogte en wydte wissel
  • Min water nodig
  • Aard in kustuine
  • Windbestand

Daar is baie verskillende pelargoniums met groeiwyses en behoeftes wat verskil. Gebruik dié gids as algemene verwysing.

Top-10 spesie-malvas

Die meeste kwekerye het talle hibried-malvas wat ’n mooi vertoning in tuine en potte maak. Maar plant ’n slag ’n eg Suid-Afrikaanse spesie-malva in jou tuin. Roger Oliver van die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin kies dié 10 – almal gehard en meestal waterwys:

  • P. betulinum is geskik vir fynbostuine, veral aan die kus. Dis ’n goeie plant om sanderige grond mee te stabiliseer. Blomme is wit, pienk en ligpers.
  • P. cucullatum spog met wit, pienk tot ligpers blomme wat baie bye lok. Dié struik is ’n moet in fynbostuine aan die kus en teen berghange. Snoei dit elke jaar liggies terug om netjies te bly.
  • P. citronellum Kweek dié malva vir die blare se heerlike suurlemoengeur, wat natuurlike insekwerende eienskappe het. Snoei goed terug om die struik te vernuwe en meer en mooier blomme aan te moedig.
  • P. inquinans ’n Uiters waterwyse struik vir halfskaduwee en volson. Snoei elke jaar of twee om oorvloedige blomme te verseker. Blomme wissel van helderrooi tot skakerings van ligpienk.
  • P. ionidiflorum is die perfekte grondbedekker en floreer in rotstuine, potte en beddings. Dié malva is baie waterwys en blom feitlik regdeur die jaar. Dit hoef net elke tweede tot derde jaar teruggesnoei te word.
  • P. magenteum ’n Vetplantagtige spesie ideaal vir rotstuine en potte. Sny dit terug om die plant se vorm te behou. Dit lok bye.
  • P. peltatum ’n Grondbedekker- of klimmalva wat goed oor walle en mure groei. Dit is ook geskik vir hangmandjies en lok skoenlappers.
  • P. reniforme Ideaal vir rotstuine en vetplantbeddings en -tuine. Dit aard ook goed in potte en lok bye.
  • P. tomentosum ’n Geurige grondbedekker wat goed in halfskaduwee aard. Die fluweelagtige, harige blare met ’n pepermentgeur maak ’n mooi vertoning. Fyn wit blommetjies verskyn van Oktober tot Januarie op dun steeltjies.
  • P. tricolor ’n Laaggroeiende spesie vir potte en rotstuine. Dit is tevrede in ’n verskeidenheid grondtipes en die spesie toon baie variasie wat blomkleur, -vorm en -grootte betref.

Die malvagroepe

Danksy ons pelargoniums is daar vandag wêreldwyd honderde verskillende soorte malvas om van te kies. Telers het malvas in vier hoofgroepe verdeel:

Sonale malvas (Pelargonium zonale)

Dié groep malvas kom in ’n groot verskeidenheid kleure voor en het ronde blomkoppe met enkel-, halfdubbel- of dubbelblomme wat met tussenposes regdeur die jaar blom. Baie plante in die groep het ’n bruin merk in die vorm van ’n hoefyster op hul blare. Hulle wissel in hoogte van 15 cm tot 1 m. Kies: Pelargonium ‘Maverick Violet’

Koninklike malvas (Pelargonium grandiflorum en P. cucullatum)

Dié groep het oop blomme, baie daarvan in kontrasterende kleure. Die blomkoppe verskyn op korter stele as dié van die sonale malvas. Plante groei sowat 30 cm tot 1 m hoog. Die groep begin later as die ander groepe blom en blom dan ook net vir sowat drie maande. Al die koninklike malvas is afstammelinge van P. cucullatum wat op Tafelberg groei. Kies: Pelargonium ‘Aristo’-reeks, beskikbaar in ’n verskeidenheid kleure

Kloutermalvas (Pelargonium peltatum)

Hierdie pelargoniums se blaarvorm herinner aan dié van ’n klimop en het ’n glansende voorkoms. Omdat hulle ’n rankgroeiwyse het, word hulle dikwels in hangmandjies en potte geplant en werk hulle ook goed as grondbedekker. Hulle blom af en toe deur die jaar met baie blomkoppe en verkies meer skaduwee as die ander groepe. Stele word tot 1 m lank. Kies: Pelargonium peltatum ‘Tacari Salmon’ en Pelargonium peltatum ‘Tacari Burgundy Stripe’

Geurmalvas

Geurige pelargoniums word vir hul aantreklike lekkerruikblare gekweek. Die blomme is gewoonlik minder opvallend, maar die heerlike geur van die blare vergoed daarvoor.

Onder die geurmalvas is daar die roosmalvas waarvan P. graveolens een is, die suurlemoengeurige P. citronellum en P. crispum, asook ’n malva met ’n pepermentgeur, P. tomentosum.

Bronne
  • Kirstenbosch Botaniese Tuin
  • Die groot veldblommeboek vir die tuin deur Una van der Spuy
  • Reader’s Digest 1001 Hints & Tips for Your Garden
  • Reader’s Digest A South African Garden for all Seasons met hoofmedewerker Jennifer Godbold-Simpson
  • pza.sanbi.org
  • lifeisagarden.co.za

Malvas vir foto's verskaf deur Cape Garden (021 988 4137, capegardencentre.co.za) en Universiteit Stellenbosch Botaniese Tuin (021 808 3054).