Foto’s Kosie Jansen van Rensburg

In Jessie Walton se tuin deel haar rose ’n bedding met kleurvolle pasmaats.

“Dis baie maklik om ’n roosbedding nog mooier te maak met die regte pasmaats,” sê Jessie. “In my meer formele roosbedding met plukrose plant ek pasmaats wat ’n lewende grondbedekker vorm en nie so hoog groei dat dit met die rose kompeteer nie. Dit is amper soos ’n kombers wat die grond tussen die rose toemaak. Dit hou die grond koel in die somer en gee nog meer kleur en geur aan die bedding.”

Vir dié doel kies Jessie eenjariges soos duiwel-in-die-bos (Nigella damascena), die kleiner vilette (Matthiola incana), baard-angeliere (Dianthus barbatus) en papawers. Die meerjariges in die bedding, soos Lychnis coronaria, tuinverbena (Verbena-hibriede) en baardirisse, gee vir selfs langer tye as die eenjariges kleur, en sy sny ná blomtyd net die dooie blomme af om dit netjies te hou. Die baardirisse plant Jessie in groepies bymekaar vir groter trefkrag.

“Ek kweek die eenjariges van saad,” vertel sy. “Dis baie maklik. Ons bewerk die grond tussen die rose baie liggies deur dit om te keer en kompos by te voeg. Dan saai ons die eenjariges in die herfs. Baie daarvan selfsaai en kom jaar ná jaar op. Om te keer dat die eenjariges die rose verdring, gooi ons ’n dik deklaag van houtsnysels of strooi rondom die stamme – nie teenaan dit nie – dan kan saailinge nie te na aan die rose opkom nie.

“Ek het ook gemengde beddings waarin daar rose groei. Maar dit is iets anders. Hier is eenjariges, meerjariges en klein struike soos salies (Salvia-spesies), tuinheliotrope (Heliotropium arborescens), tabakblomme (Nicotiana alata), leeubekkies (Antirrhinum majus), asook Spiraea japonica, wat hoër groei.”

Sy verduidelik: “Hier is die rose nie die fokuspunt soos in die formele roosbedding nie, maar net nog ’n blommende struik wat deel van die bedding uitmaak. En dis meestal ouwêreldse rose en rose wat ek nie as plukblomme kweek nie. Ek laat die pasmaats hier toe om hoër en wilder te groei, want ek hoef nie in die bedding te klim om rose te pluk nie.”

Met dié kleurryke pasmaats sorg Jessie dat haar roosbeddings vir lang tye van die jaar kleur het. Hier groei die meerjarige nagblom, duiwel-in-die-bos, Lychnis coronaria en leeubekkies saam met geel ‘South Africa’-rose.

Dié plante is die ideale pasmaats. Hulle groei nie te hoog nie en dra blomme wat die roosbedding komplementeer. – Jessie

Spiraea japonica

Dié klein struik is die perfekte pasmaat in ’n gemengde bedding saam met rose. Dit word nie so groot dat dit ander pasmaats in die bedding sal oorheers nie en met sy fyn, liggroen loof en helderpienk blomme komplementeer dit rose van enige kleur.

Spiraea japonica blom van die middel van die somer tot laat in die seisoen. Die blomkoppe is eintlik net ’n klomp klein blommetjies wat saam een groter blom vorm. In die herfs verkleur die struikie se blare tot ’n dieprooi wat vir nog kleur in die bedding sorg.

Die struik aard goed in komposryke grond; gee genoeg water totdat dit goed gevestig is. Spiraea japonica het nie baie snoei nodig nie. Sny net die dooie blomkoppe af en sny in die winter dooie hout uit. Dié plant aard veral goed in koue klimate en is rypbestand.

Dis ook ’n goeie plukblom en lyk mooi saam met rose in ’n blompot. Die meer bekende Spiraea cantoniensis, oftewel Kaapse mei, dra ’n massa fyn wit blommetjies in die lente. As jy ’n Kaapse mei in ’n gemengde bedding wil hê, plant dit na agter in die bedding as heiningplant. Dié struik kan tot 2 m hoog en wyd groei en blom net in die lente.

Plantgids
  • Volson
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Rypbestand
  • Bladwisselend
  • Groei 50 cm tot 1 m hoog en 0,7 m wyd

Lychnis coronaria

Vir ’n meerjarige in ’n roosbedding is Lychnis coronaria met sy perspienk blomme ’n goeie keuse; of kies L. coronaria ‘Alba’ met sy wit blommetjies. Die plant is polvormend met blomme wat op lang stele bo die silwergrys blare uitgroei.

Plant of saai dit in grond wat goed dreineer – dit groei baie maklik in feitlik enige grondtipe en het nie veel aandag nodig nie.

Lychnis coronaria blom in die somer vir maande aaneen en selfsaai oorvloedig. As jy dit eers eenmaal in jou tuin het, sal daar elke jaar net nog meer opkom. Los dit net so, want dis juis treffend as ’n groot groep hiervan bymekaar groei; of verplant elders in die tuin. Dit is ook ’n goeie plukblom.

Plantgids
  • Son tot halfskaduwee
  • Redelik droogtebestand
  • Rypbestand
  • Groei sowat 75 cm hoog en 45 cm wyd

Oenothera berlandieri

Die meerjarige nagblom groei vinnig en vra nie veel aandag nie. Dit dra van die lente tot die herfs pragtige ligpienk klokvormige blomme. Dit lyk mooi as ’n groot groep van hulle as grondbedekker bymekaar staan.

Sny dit ná blomtyd effens terug om netjies te maak. Trek uit en verplant as dit te indringend raak en ander plante in die bedding se groeiplek oorneem. 

Plantgids
  • Volson
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Rypbestand
  • Groei tot 30 cm hoog

Nigella damascene

Die eenjarige duiwel-in-die-bos met blomme wat blou, wit of pienk kan wees, blom in die lente en vroegsomer. Dit groei baie maklik van saad wat direk in die bedding gesaai kan word. Die plant is redelik gehard en het nie baie water nodig wanneer dit eers gevestig is nie. Dit selfsaai ook oorvloedig; verplant saailinge as hulle te opmekaar opkom. Nigella is ’n goeie plukblom en is ook eetbaar.

Plantgids
  • Volson
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Rypbestand
  • Groei 50 cm hoog

Bronne