Foto’s Francois Oberholster | Stilering Melissa Rautenbach

Probeer dié somer-staatmakers:

Jakobregop (Zinnia elegans)

Vir kleur in jou tuin en jou huis is daar min blomme wat by jakobregops kan kers vashou. Dié eenjarige is in ’n groot verskeidenheid kleure beskikbaar. In die saadpakkies wat jy koop sal jy blomme in feitlik al die kleure van die reënboog kry! Saai dit direk in ’n bedding; dit groei maklik in byna enige soort grond. Jakobregops het baie son en lig nodig om oorvloedig te blom en hou van warm, droë klimate. Saai saad in die lente vir blomme van die somer tot in die herfs. Aangesien die blare geneig is tot skimmel, moet jy probeer om dit droog te hou wanneer jy natlei. Die blomme is in dwerg- sowel as hooggroeiende variëteite beskikbaar. Dié met langer stele se blomme is groter en meer geskik as plukblom. Jakobregops behoort tussen 4 en 7 dae in die huis te hou.

Plantgids
  • Volson
  • Rypgevoelig
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Eenjarig

Kosmos (Cosmos bipinnatus)

Kosmos se blomme in skakerings van pienk, maroen en ook wit is ’n bekende gesig in die laatsomer. Saai saad in die lente direk in ’n bedding met komposryke grond. Hou dit klam, maar moenie te nat maak nie. Kosmos is in enkel- sowel as dubbele blomme te kry en sal sowat 4–6 dae in ’n blompot hou. As jy kosmos by ’n blomwinkel koop, kies blomme wat nog nie heeltemal oop is nie maar waarvan die kleur van die blom reeds duidelik sigbaar is. Koop jy oop blomme, is die blom se vaaslewe reeds halfpad verby. Pluk kosmos gereeld om te verseker dat dit langer aanhou blom.

Plantgids
  • Volson
  • Rypbestand
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Eenjarig

Dahlia

Met ’n ry kleurvolle dahlias in jou tuin het jy baie blomme om te pluk. Dié somerblomme, wat jy van knolle kweek, is in ’n groot verskeidenheid blomvorms en  kleure beskikbaar – sommige met sulke groot, dubbele blomkoppe dat dit ’n blompot sommer vol staan! Die genus sluit van dwergvariëteite tot die hooggroeiende boomdahlia (Dahlia imperialis) in en almal se blomvorms verskil: Party spog met balvormige blomme, ander weer met enkel- of dubbele blomme. Die vorm van die blomblare kan ook verskil. Plant ’n verskeidenheid om jou plukblomtuin interessant te hou.

Plant dahliaknolle in die lente in komposryke grond; wag in dele waar ryp voorkom tot die rypgevaar verby is. Stut hooggroeiende variëteite, en plant dwergvariëteite voorlangs in jou bedding of in ’n pot. Sny dooie blomme gereeld uit en pluk baie vir jou huis, dan kan dit tot in die herfs blomme produseer. Dahlias is rustend in die winter en die knolle kan in die grond gelos word waar dit die volgende lente weer behoort uit te loop. Maar haal dit uit as jy die leeftyd wil verleng, veral in dele met swaar ryp, en bêre dit op ’n koel, droë plek.

Wanneer jy pluk, kies blomme wat reeds oop is. Dit behoort sowat 3–8 dae in ’n blompot te hou. Dahliaknolle is by kwekerye te koop.

Plantgids
  • Volson
  • Rypbestand
  • Gemiddelde waterbehoeftes
PLUKWENKE
  • Maak seker jou snoeiskêr en blompot is skoon; dit beperk die verspreiding van bakterieë wat die blomme se vaaslewe sal verkort.
  • Gebruik altyd skoon kraanwater by kamertemperatuur. En moet nooit vuil en skoon water meng of varsgeplukte blomme in emmers met ou water sit nie.
  • Om wateropname te verbeter moet jy die onderste 2 cm van die steel afsny voor jy dit in ’n blompot sit; sodoende sny jy die natuurlike seël wat oor die steeltjie gevorm het af en raak jy ontslae van moontlike lugborrels in die steel se punt. Maak dié snit diagonaal eerder as reguit, dan sal die steel nie plat op die bodem van die pot gaan rus en keer dat water opgeneem word nie.
  • Dis nie nodig om die pot tot bo vol water te maak nie. ’n Derde vol water is genoeg.
  • Daar moet geen blare onder die watervlak wees nie. Dit sal verrot en die groei van bakterieë in die water aanmoedig.


So maak jy ...

1. Saai

Die meeste eenjariges se saad kan direk in die bedding gesaai word (saadkissies is nie noodsaaklik nie). Kies ’n bedding wat nie minder as ses uur son per dag kry nie. Maak die grond goed los en werk kompos en ’n paar hande vol beenmeel sowat 20 cm diep in die grond in. Hark die grond gelyk. Maak die bedding nat en saai die saad van jou keuse.

Kyk op die saadpakkie in watter seisoen jy watter saad kan saai en volg die aanwysings vir diepte en spasiëring. Besluit self of jy die saad in groepe of in rye bymekaar wil saai of alles deurmekaar in die bedding wil strooi; dit hang af van hoe jy wil hê jou bedding moet lyk. Saai wel hooggroeiende blomme meer na agter sodat hulle nie laaggroeiende plante verdring nie. Hou die saad en saailinge klam, maar nie deurweek nie.

Saailinge wat te na aan mekaar groei, moet uitgedun word. Jou plukblomme gaan gesonder en mooier wees indien die plante mekaar nie verdring en daar nie te veel kompetisie vir kos en water in die bedding is nie.

Ná sowat 90–120 dae sal jy kan blomme pluk. Doen dit gereeld sodat die plante aanhou blom en nie begin saad vorm nie.

2. Pluk

Pluk vroegoggend of laatmiddag terwyl dit koel is, dan hou die blomme baie langer as wanneer jy hulle in die hitte van die dag pluk. Kies so drie of vier kleure vir jou bos – té veel kleure kan dit deurmekaar laat lyk. Wit lyk altyd mooi en vars. Jy kan natuurlik skakerings van die kleure kombineer, solank jy by die basiese kleurskema hou. As jy van kontras hou, kies ’n blom of twee in ’n kontrasterende kleur om die oog te vang.

Gebruik groen of grys loof as vullers tussenin. Al die blomme hoef ook nie oop te wees nie – pluk sommige in knopvorm vir interessantheid. Hou ’n emmer water byderhand en sit die afgesnyde blomme dadelik daarin. Laat staan dit op ’n koel plek weg van direkte son totdat jy rangskik.

3. Maak ’n bos

Maak die blomstele skoon en sorteer die blomme soort by soort. Los ’n paar blare bolangs aan die stele, maar geen blare ondertoe waar dit in die water sal wees nie.

Kies jou fokusblom en begin daarmee; gebruik dan van die ander blomme of loof langsaan. Drie tot vyf fokusblomme is genoeg in ’n bos van gemiddelde grootte, veral as dit ’n groot blom soos ’n dahlia is. Ongelyke getalle van ’n soort lyk ook mooier as gelyke getalle. Hou sommige korter as ander sodat dit laer af uitloer terwyl ander losweg bo uitsteek. Plaas die stele skuins oormekaar, eerder as direk langs mekaar – dit lyk natuurliker. En groepeer kleiner blomme soos angeliere saam sodat dit nie verlore raak tussen die groter blomme nie.

Bronne
  • Maak tuin saam met Keith Kirsten deur Keith Kirsten
  • Die Suid-Afrikaanse Watter blom is dit? deur Kristo Pienaar
  • Cut Flowers of the World deur Johannes Maree en Ben-Erik van Wyk