Foto’s Francois Oberholster
Stilering Melissa Rautenbach

Kies ’n poinsettia vir Kersfees! Hoewel dié plant met sy helderrooi skutblare grootliks in die winter blom, is baie van hulle oor Kerstyd by groothandelaars en kwekerye beskikbaar as potplante – net die ding vir daardie tikkie rooi op jou tafel.

Poinsettias blom van laatherfs regdeur die winter in ons tuine. Die rooi wat jy sien is nie die blomme nie, maar skutblare rondom klein, onopvallende blommetjies. Dié gekleurde skutblare verskyn aan die punte van kaal takke.

Poinsettias aard goed in warmer, klam streke met min of geen ryp. Plant die struik of klein boom in ’n sonnige plek (maar wees versigtig vir te warm somerson) en beskerm dit teen wind. Plant dit in koeler dele op ’n warm en beskutte plek in jou tuin. Dit hou van vrugbare, komposryke grond. Gee genoeg water in die somer, maar laat die grond eers goed uitdroog voor jy weer natgooi. Snoei dit hard terug in die lente om groei en nuwe blomstele aan te moedig. Daar is verskeie kultivars beskikbaar, sommige met enkelblomme en ander dubbel, in rooi, pienk en roomkleur.

Plantgids

Volksnaam Poinsettia/Karlienblom
Botaniese naam Euphorbia pulcherrima

  • Volson
  • Rypgevoelig
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Bladwisselend
  • Groei sowat 2,5 m hoog en 2 m wyd
  • Afkomstig van Mexiko

In ’n pot

Moenie die poinsettia-plant in die pot eenkant toe skuif wanneer die skutblare hul fleur verloor nie. Sny al die takke terug waarop gekleurde skutblare was en plant dit oor in komposryke grond. Skuif jou potplant gedurende die somer na ’n koel plek. Wanneer dit weer koeler raak en die daglig minder, behoort dit weer kleur te kry. Die potplante het ’n meer kompakte groeiwyse as die struik wat in ons tuine groei en sal dus klein bly.

Nie alle poinsettias se blomme hou ewe goed in water nie. Pluk een en kyk eers voor jy dit vir ’n spesiale geleentheid pluk.
Bronne
  • Maak tuin saam met Keith Kirsten deur Keith Kirsten
  • Die Suid-Afrikaanse Watter blom is dit? deur Kristo Pienaar
  • Reader’s Digest A South African Garden for All Seasons met hoof-medewerker Jennifer Godbold-Simpson
  • guide-to-houseplants.com
  • Cape Garden 021 988 4137